OorlogvoeringVoorbeeld
Die Satan weet nie net presies waar nie, maar ook hoe om ons by te kom. Daarom moet ons verstaan watter metode hy gebruik om ons te verslaan en gevange te neem.
Paulus openbaar in 2 Korintiërs 10:3-5 wat die duiwel se hoof gevegstrategie is:
"Natuurlik leef ons in 'n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak."
Paulus wil hê ons moet eerstens weet dat ons nie met wêreldse of vleeslike wapens in die geestelike oorlog kan veg nie. Die rede hoekom soveel Christene die oorlog teen die duiwel verloor, is juis omdat hulle hom met wêreldse wapens probeer oorwin. Hulle soek in die wêreld vir die geestelike hulp wat hulle nodig het. As jou probleem, jou stryd of jou behoefte deur jou geestelike vyand veroorsaak en uitgedink is, kan jy nie die geveg in die vlees wen nie. Tensy jy 'n geestelike reaksie kies, sal jou tyd, moeite en hulpbronne wat jy aanwend om die probleem op te los, 'n algehele vermorsing van tyd wees; net 'n tydelike oplossing vir die situasie.
Paulus sê ons metodes kan nie vleeslik wees nie, want ons vyand is nie vleeslik nie. Daar is sommige wat reeds vir jare dag in en dag uit met dinge worstel. Dit is gevegte, ongeag watter name ons daaraan wil gee. As God daaroor inspraak lewer, dan is dit 'n geestelike geveg. As jou stryd dus geestelik is, vereis dit 'n geestelike geneesmiddel. Jy beveg tog nie kanker met velroom nie. Net so sal jy ook nie aspirien drink en gaan rus as jy 'n breingewas het nie. Sulke probleme vereis ander soorte hulpmiddels. Dieselfde geld vir geestelike probleme.
Die verse wat ons hierbo aangehaal het, wys daarop dat die Satan sy aanvalle op ons denke teiken, want Paulus verwys na "redenasies", "die kennis van God" en "neem elke gedagte gevange" (2 Korintiërs 10:3-5). Waar kom hierdie redenasies vandaan? Uit ons denke. Waar is kennis gevestig? In ons denke. Waarvandaan kom ons gedagtes? Uit ons denke. Alles is in ons denke gesetel. Die Christen wat dus sy geestelike status as krygsgevangene wil verruil vir vryheid, moet leer om anders te dínk.
Wanneer die Satan die Christen se denke aanval, begin hy met wat Paulus "vestings" noem. Die duiwel bou 'n plek vanwaar hy sy werk kan doen, en sy doel is dat dit 'n permanente vesting moet wees. Sy plan is om daar te woon.
Die Satan skep daar vir homself 'n tuiste, en so kry hy 'n greep op jou denke, totdat mense begin dink dat daar geen manier is om die probleem te oorkom nie, geen manier om die huwelik te red nie, geen manier om die kerk te verenig nie, geen manier om 'n verskil in ons wêreld te maak nie. Dit is wanneer jy 'n Christen hoor sê: "Daar is geen uitweg nie. Dit kan nie gedoen word nie. Ek het reeds alles probeer en dit werk eenvoudig nie."
'n Vesting is 'n denkpatroon wat jou gevange hou. Dit laat jou glo dat jy hopeloos in 'n omstandigheid vasgevang is, dat jy magteloos is om te verander. Dit is wanneer jy mense hoor sê: "Ek kan nie, ek kan nie, ek kan nie." Die enigste rede hoekom jy "ek kan nie" sê, as God sê: "jy kan," is omdat die Satan hom in jou kop tuisgemaak het.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
In geestelike oorlogvoering veg jy nie vir die oorwinning nie — jy veg vanaf oorwinning. Verkry nuttige insigte oor die geestelike stryd waarmee ons almal gekonfronteer word: Oorlogvoering. Hierdie insiggewende leesplan is deur die teoloog en pastoor, Tony Evans, ontwikkel.
More