Die teenmiddel vir eensaamheid Voorbeeld
“Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het" (Efesiërs 2:10).
God het jou op die aarde geplaas om 'n sekere werk te doen wat net jy kan doen. Efesiërs sê God het ons geskep om goeie werke te doen en dat Hy vooraf beplan het waaraan ons ons lewens sou wy. Hy het egter nie beplan dat ons daardie werk alleen moet doen nie. Ons het mense nodig om saam met ons te werk.
Jy ken mos die gevoel wat jy kry as jy te veel werk op jou eie doen. Jy voel uitgeput en uitgebrand. Hoekom? Omdat jy probeer om jou werk alleen te doen, terwyl God nooit bedoel het dat dit so moet wees nie.
In Prediker 4:9 sê God vir ons: “Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets.” Wanneer jy in 'n span werk, kry julle soveel meer gedoen. Boonop is dit baie meer pret en minder vermoeiend om goeie spanmaats by jou te hê!
Stel jou dit so voor: Elkeen van ons is soos 'n sneeuvlokkie. Op ons eie kan ons nie 'n groot verskil maak nie. Wanneer een brose sneeuvlokkie egter aan baie ander sneeuvlokkies vassit, kan dit die verkeer tot stilstand bring. Net soos sneeuvlokkies, kan ons 'n groot verskil maak as ons saamwerk en elkeen van ons bloot ons klein deeltjie doen.
Het jy geweet wanneer ons hier op aarde saamwerk, ons eintlik vir die ewigheid oefen? In die hemel sal ons almal moet werk, maar elkeen sal net 'n klein gedeelte hê, sodat ons nooit oorlaai of moeg word nie. Alhoewel niemand 'n swaar las sal dra terwyl elkeen van ons ons klein deeltjie doen nie, sal al die werk steeds gedoen word.
Soos jy deur jou lewe gaan, onthou dat jy nie veronderstel is om alles op jou eie te doen nie. Jy het ander mense nodig om die pad saam met jou te stap, en ander mense het jou op hulle beurt nodig. Namate jy die las van jou werk met mede-Christene deel, sal jy vind dat jy eintlik meer tot eer van God bereik.
Gesels daaroor:
1. Het jy te veel werk op jou eie probeer verrig? Wat was die uiteinde daarvan?
2. Hoe kan jy mense sover kry om jou te help met die werk wat God wil hê jy moet doen? Vir wie kan jy help met die werk wat God vir hulle gegee het?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Ons leer 'n paar belangrike lesse wanneer ons 'n pad saam met ander mense stap. Ons leer hoe om oor die weg te kom en met ander saam te werk. Almal het 'n behoefte om te behoort, want God het ons vir verhoudinge gemaak. Wanneer ons 'n pad saam met ander Christene in die gemeenskap stap, kom ons agter dat daardie behoefte bevredig word.
More