Man van GodVoorbeeld
Die Geestelike Voog
Die laaste ding wat ek wil hê jy moet onthou van die volkome, geestelike man, is dat hy enigiets verafsku wat die welstand van sy familie bedreig. Hy sal versigtig wees oor die soort televisieprogramme waarna die kinders kyk. Webtuistes en literatuur met twyfelagtige inhoud sal nie sy goedkeuring wegdra nie — so ook nie grappe wat onvriendelikheid of onreinheid impliseer nie. Hy is bewus daarvan dat dinge wat in 'n mens se gedagtes opgeneem word, daar sal bly en daarom is hy versigtig wanneer hy kies waarna sy kinders kan kyk en aan watter aktiwiteite hul kan deelneem. Hy weet dat hy die enigste persoon is wat sy gesin kan beskerm teen die vernietigende kragte van die samelewing, want niemand anders gaan dit doen nie.
'n Geestelike man sal ook die houdings en gewoontes wat die harmonie van die huis versteur, liefdevol regstel. Hy sal nie soos 'n polisieman elke aktiwiteit en telefoonoproep dophou nie, maar as 'n vader wat omgee en die beste vir sy gesin wil hê, sal hy aktief betrokke wees.
Natuurlik sal jy wonder hoe enige man hierdie verantwoordelikhede kan nakom. Op sy eie sal hy dit nie regkry nie. Niemand is perfek nie, maar ons moet altyd die doel voor oë hou. Wanneer ons die regte stappe neem, is daar baie meer moontlikhede as waaraan ons kan dink.
Wil jy werklik die man wees wat jou vrou nodig het? Wil jy graag die pa wees wat jou kinders begeer? As jy tot hier gelees het, glo ek jy wil.
Waar begin jy egter?
Jy begin net daar waar jy is. Indien jy nog nooit Christus as jou Verlosser aanvaar het deur berou en geloof nie, dan is dit waar jy moet begin. Romeine 10:9-10 (NLV) sê: "Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word." Die eerste stap om die volkome man, liefdevolle eggenoot en vader te word wat jou gesin nodig het, is om Christus as jou Verlosser en Heer in jou lewe te nooi. Die oomblik wanneer jy dit doen, sal die Heilige Gees vir ewig in jou kom woon as jou gids, onderwyser, vertrooster en voorsiener (Johannes 14-16).
God het belowe dat Hy jou konstante helper sal wees as eggenoot en vader — vertrou jy Hom daarvoor? Lees jy daagliks jou Bybel en bid jy, en gehoorsaam jy dit wat Hy jou wys om te doen? Jy sal nie geestelike spiere bou indien jy nie jou siel voed en jou gees oefen nie. Begin daar, as dit is waar jy tans is. Vra die Here vir 'n geestelike vennoot (jou vrou of 'n Christelike vriend) as jy aanmoediging nodig het om God se pad te volg. Soek, vra en klop onophoudelik ... en die Vader sal vir jou deure na geestelike krag en sukses oopmaak (Matteus 6:33).
Ek daag jou uit om vandag een geestelike stap in God se rigting te neem. Wanneer jy dít doen, twyfel ek vir geen oomblik daaraan dat Hy vir jou die volgende stap sal wys na ware manlikheid en goddelike leierskap in jou gesin en huis nie.
Vir meer inligting oor hoe jy die man van God kan word wat die Vader bedoel het jy moet wees, klik hier.
Aangaande hierdie leesplan
Jy hoef nie die "perfekte" of "ideale" man te wees om 'n man van God te wees nie. Die volgende oordenkings deur Dr. Charles Stanley beskryf die sewe karaktereienskappe van die geestelike man. Deur dié karaktereienskappe te verstaan en uit te leef, kan jy die man van God, eggenoot en pa word wat jy nog altyd bedoel was om te wees.
More