Man van GodVoorbeeld
Die Dienende Leier
Die vyfde ding waarna jy moet oplet rakende die volkome geestelike man, is dat hy bedag is op geleenthede tot diens — veral as dit by sy gesin kom. Dit het lank gevat voor ek geleer het dat dit my verantwoordelikheid is om my gesin van die Here te leer, maar dit het my hele lewe verander.
'n Man wat geestelik ingestel is, sal altyd op die uitkyk wees vir geleenthede om sy gesin te help. Sal jy graag wil hê jou seun moet eendag die soort man wees wat vir sy vrou omgee? Hoe gaan hy dit leer ... deur boeke te lees? Nee, deur sy pa dop te hou. 'n Geestelik-ingestelde man het die onderskeiding van die Heilige Gees en hy soek na geleenthede om sy vrou en kinders te dien, hulle meer van die Here te leer en van wie hulle in Christus is.
God sal ons help om ons gesinne te seën en hulle te help groei in die wysheid van die Here, indien ons Hom toelaat om ons te lei. Dit is dan ons verantwoordelikheid om onsself aan hulle behoeftes te onderwerp en seker te maak dat daar in hul behoeftes voorsien word. Natuurlik is alle geleenthede nie geestelik nie, sommige is ook prakties. Dit mag doodeenvoudig wees dat jou dogter hulp nodig het met algebra. Jy mag dalk dink: My vrou kan haar help. Jou hulp in hierdie praktiese behoefte het egter geestelike nagevolge. Jou dogter het 'n teer, omgee-pappa nodig, omdat haar siening van jou uiteindelik haar houding teenoor gesag en haar begrip van God sal beïnvloed.
Pappa, jy weet dalk niks van algebra af nie, maar dit gaan nie oor hoeveel jy weet nie. Dit gaan eerder oor jou bereidwilligheid om hulp aan te bied, dis wat jou kind laat weet dat sy belangrik is vir jou. Wanneer sy weet dat sy vir jou baie beteken, sal sy ook vertroue hê dat sy belangrik is vir God. Daar is geen groter les wat jy vir haar kan leer as dit nie.
Aangaande hierdie leesplan
Jy hoef nie die "perfekte" of "ideale" man te wees om 'n man van God te wees nie. Die volgende oordenkings deur Dr. Charles Stanley beskryf die sewe karaktereienskappe van die geestelike man. Deur dié karaktereienskappe te verstaan en uit te leef, kan jy die man van God, eggenoot en pa word wat jy nog altyd bedoel was om te wees.
More