Treurende Met Hoop Na 'n Miskraam En Verlies Deur Adriel BookerVoorbeeld

Grieving With Hope After Miscarriage And Loss By Adriel Booker

DAG 7 VAN 7

Dag Sewe

Hoop van die Hemel

Skrifgedeelte: Jesaja 43:2


Soms dink ons aan Jesus as die "gawe ou" wat instaan vir 'n God wat ons nie verstaan nie. Ons beskuldig God in die geheim dat Hy ons laat ly, ten spyte van die vleeswording wat bewys die teenoorgestelde is waar: God self is in ons deurmekaar wêreld gebore sodat Hy dit onderstebo kon keer. Hy het nie die deurmekaarspul veroorsaak nie. Hy het nie "toegelaat" dat dit ontwikkel nie. Hy het dit kom omkeer en verlos. 

Lyding kan presies die ding wees wat jou in 'n dieper verhouding met Jesus bring omdat dit is hoe verlossing werk: Dit maak wat dood is, lewendig. Dit bring lig in die donker. Dit bring iets goeds voort uit wat as boos begin het. 

Dit is ons belofte vir lyding: In ons diepste benoudheid is Hy teenwoordig. Ook op die bodem van ons verdriet, werk Hy om alles nuut te maak. Ons mag dalk nie die uitkoms van hierdie belofte sien op die maniere of op die tyd wat ons graag wou nie, maar dit vernietig nie sy verlossingsplan nie: opstanding, nuwe lewe, geen trane meer nie, hoop op die hemel. 

Moet nooit dink jy is in jou pyn verlate nie. Moet nooit dink Hy sal toelaat dat dit verkwis word nie. Moet nooit dink dat dit wat gebreek of leweloos voorkom, nie hervorm en herskep kan word om lewe te gee nie. Moet nooit dink jou weeklaag is tevergeefs nie. Moet nooit dink dat hoop dood is nie. 

God is teenwoordig, hy huil saam met jou. Hy is aktief besig om die geskiedenis te vorm tot die uiteindelike verlossing. Opstanding maak nie die dood onbelangrik nie; dit beteken dat die dood nie die laaste sê het nie. 

God het nie jou baba gevat nie. Die dood het die wêreld binnegekom deur die mensdom se vrye wil. Die lewe het deur Jesus Christus weer teruggekom. 

Wees verseker, vriendin, dat selfs jou heel ergste verdriet nie buite God se verlossende bereik is nie. Hy kan, wil, en sal nader aan jou kom in jou lyding; hy kan, wil en sal betekenis daaraan gee. Hy sal sy genade in die presiese maat wat jy nodig het aan jou skenk en sal elke moontlike manier gebruik om jou gebroke hart te herstel. Dit is sy belofte.

Lyding mag jou verswak, maar laat dit jou ook aanwakker om jou hart oop te maak vir hoop, moontlikhede en teenwoordigheid. Mag jy Jesus in die diepte vind.


Aangesien hierdie leesplan nou tot 'n einde kom, oorweeg dit om jou eie verhaal van verlies neer te skryf. Sluit soveel moontlik besonderhede in as wat jy kan. Vermy dit egter om te skryf oor die lesse wat jy geleer het. Laat dit eenvoudig net 'n oefening vir jou wees om jou verhaal te vertel. Terwyl jy dit dan doen, vra vir Jesus om sy teenwoordigheid deurgaans aan jou te wys. Gee jou verhaal vir Hom ... en vra Hom om aan te hou skryf.


Dag 6

Aangaande hierdie leesplan

Grieving With Hope After Miscarriage And Loss By Adriel Booker

Hierdie oordenking is 'n uitnodiging om te voel, te worstel, ten volle bewus te wees in jou lyding na 'n miskraam of ander verlies. Dit is ook 'n uitnodiging om gekoester en verstaan te word en om van ander vroue te hoor dat die pyn beter word, selfs as ons verlang na die dag wanneer ons trane afgedroog sal word en die pyn nie meer daar is nie. Waar jy ook al op jou reis van hartseer is na die verlies van 'n baba — of enige ander persoonlike hartseer of lyding — bid ek dat hierdie woorde 'n weg na God se genade sal wees. Kom ons delf saam dieper.

More

Baie dankie aan Baker Publishing wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://adrielbooker.com/