Treurende Met Hoop Na 'n Miskraam En Verlies Deur Adriel BookerVoorbeeld

Grieving With Hope After Miscarriage And Loss By Adriel Booker

DAG 2 VAN 7

Dag Twee

Die Woesterny van Verdriet

Skrifgedeelte: Psalm 69:1-4


Ek onthou die dae wat ek in 'n grot wou kruip, om 'n plek te kry waarin ek stil kon opkrul en nooit wakker word nie. Dit is nie dat ek regtig wou doodgaan nie, dit was net dat ek nie geweet het hoe om te lewe onder die gewig van my hartseer en verwagtinge wat in duie gestort het nie.

Uit die bloute sou droefheid my soos 'n hittegolf tref, drukkend op my bors, en my desperaat laat om die lae af te skil sodat ek weer verligting kon vind. Maar selfs terwyl ek intens eensaam gevoel het, onthou ek ook die soetheid van God se teenwoordigheid in sommige van daardie donker ure. Iets het my vertel sy stilte was nie verwerping nie — dit was kameraadskap. 

Dit beteken nie dat ek altyd sy teenwoordigheid gevoel het nie, of dat ek nie na iets meer tasbaar verlang het nie — 'n aanraking of 'n woord. ('n Reklamebord met flitsende neonligte teen die agtergrond van dubbele reënboë sou lekker gewees het.) Selfs toe ek gevoel het ek tas in die donker, het ek op 'n manier geweet daar is 'n God wat pyn ken en by my in myne gebly het. 

Miskien was hierdie glad nie jou ervaring nie. Miskien wonder jy hoe jou siel ooit sal rus na wat voel soos eindelose verdriet of geloof wat nooit heeltemal herstel het nie. Miskien voel dit of God afwesig of stil is. Of miskien is daardie woorde — "geen hartklop" — so pas in jou rigting geuiter en jy soek na 'n reddingsboei. Miskien wonder jy of jy ooit weer naby God sal voel en of jou geloof ooit werd is om aan vas te hou terwyl jy wag. Miskien wil jy net weet jy is nie alleen nie. 

Ek wens ek kon vir jou sê dat jy Jesus naby jou sal "voel" wanneer jy Hom die nodigste het, maar ek kan nie. Wie is ek om aan te neem dat my ervaring soos joune sal wees? Ek kan nie. En dit, vriendin, is die waarheid van verdriet: Dis 'n woesterny. Verdriet volg nie 'n bloudruk nie. Dit gee nie om vir 'n vloeikaart nie. Dit merk nie blokkies af nie, dit sal nie in jou gunsteling toeplys voorkom nie en sal baie beslis nie op die kalender bly nie. 

Verdriet is wild soos die see, maar dit hoef ons nie te vernietig nie. Ons kan dit nie verower nie, maar ons kan dit bestuur en ons kan Jesus ook daar vind. 


Hoe was die onlangse verdriet in jou lewe: woes of getem?


Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Grieving With Hope After Miscarriage And Loss By Adriel Booker

Hierdie oordenking is 'n uitnodiging om te voel, te worstel, ten volle bewus te wees in jou lyding na 'n miskraam of ander verlies. Dit is ook 'n uitnodiging om gekoester en verstaan te word en om van ander vroue te hoor dat die pyn beter word, selfs as ons verlang na die dag wanneer ons trane afgedroog sal word en die pyn nie meer daar is nie. Waar jy ook al op jou reis van hartseer is na die verlies van 'n baba — of enige ander persoonlike hartseer of lyding — bid ek dat hierdie woorde 'n weg na God se genade sal wees. Kom ons delf saam dieper.

More

Baie dankie aan Baker Publishing wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting besoek asseblief: http://adrielbooker.com/