Volharding saam met Job: Sewe Dae van HoopVoorbeeld
Job verbreek uiteindelik die stilte en roep uit: "Die dag waarop ek gebore is, moes nooit aangebreek het nie" Job 3:3.
Hy swyg nie meer en aanvaar net stilweg alles wat gebeur het nie. Hy sit nie meer net op die kantlyn en kyk hoe sy lewe vernietig word nie. Die res van die boek bevat Job se eerlike, diepste gevoelens terwyl hy soek na die doel in al sy rampe.
Hierdie aanvanklike toneel is moeilik om deur te lees, en pynlik bekend aan enigeen wat al deur 'n uiters moeilike tyd in hul lewens gegaan het. Job vra: “Waarom die lewenslig gee aan 'n man wat vir hom geen pad vorentoe sien nie?" Job 3:23. Hy ly net die heeldag lank. Alles waaraan hy dink en wat hy voel is net pyn en sy ergste vrese, is bewaarheid.
Hy was ten volle gebroke en heeltemal uitgeput.
Tog is Job selfs in hierdie oomblik dapper en tree hy met integriteit op. Hy is eerlik oor sy pyn. Hoeveel keer probeer ons nie om ons ware gevoelens en emosies weg te steek oor wat besig is om te gebeur nie? Ons weerhou dit van ons huweliksmaats, vriende en familie. Ons probeer selfs om dit van onsself en God te weerhou.
Dit is egter nie wat God wil hê nie. Ons Skepper is nie onkundig oor ons pyn en lyding nie. Hy sien dit. Hy weet wat besig is om te gebeur. Ons vereer Hom nie deur stil te bly en te maak asof dit eintlik niks is nie.
Harold Kushner, wat oor die boek Job geskryf het, stel dit so: “'n God wat aanbidding waardig is, is 'n God wat eerlike woede bo vleiery verkies.”
Dit is die eerste stap om jou smart op 'n regverdige en God-vererende wyse te verwerk: deur eerlik te wees daaroor. As jou smart jou laat voel jy moes nooit gebore gewees het nie, sê dit dan. As jou lyding jou laat twyfel oor God se goedheid, vertel dit vir Hom.
Stort jou hart uit, moet niks terughou nie. God is nie polities korrek nie. Hy wil nie hê jy moet tot Hom nader en Hom net vertel wat jy dink Hy wil hoor nie. Hy wil alles van jou hoor! Die rouheid, die pyn, die twyfel ... Hy wil jou hele deurmekaarspul hê.
God wil hê dat ons erkenning moet gee aan ons deurmekaar lewens sodat Hy dit kan binnekom.
Boodskap om weg te neem: Moenie jou pyn wegsteek nie. God wil die ware jy hê.
Gebed: Vader. Help my om nie weg te kruip agter woorde wat ek dink U wil hoor nie. Ek wil 'n opregte verhouding met U hê. Gee my asseblief moed om dit te doen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Lyding is die een belewenis wat die mensdom verbind. Hoekom bestaan dit? Wat is die doel? Net soos baie van ons, het Job nie die geweldige pyn in sy lewe verdien nie. Dit was op sy laagste punt wat God opgedaag het om die kragtigste en uitdagendste antwoord vir pyn te verskaf, waarvan die wêreld nog ooit gehoor het.
More