'n God Wat Getrou isVoorbeeld

A God Who Is Faithful

DAG 2 VAN 7

  

Stel God op die Proef

Gideon het God op die proef gestel. Deur 'n stukkie vlieswol op die grond te sit, het Gideon sake in sy eie hande geneem en gewys dat hy God nie ten volle vertrou nie. God het alreeds vir hom gesê dat Hy namens sy mense sou veg. Gideon se optrede bevestig egter dat hy gehuiwer het om God net maar op sy woord te neem. Die tasbare simbool van die nat vlieswol was nog 'n teken van God se getrouheid om sy woord te bevestig aan die leier wat Hy gekies het. Jesus het aan die begin van sy aardse bediening voor 'n baie groter uitdaging te staan gekom, toe Hy in 'n situasie geplaas is waar sy vertroue in God getoets is (Matteus 4:1 - 11). Die Satan het Jesus versoek om God se plan te omseil en sake in sy eie hande te neem. Eerstens, nadat Hy vir veertig dae gevas het, is Hy uitgedaag om klippe in brood te verander. Jesus, wat kort daarna skamele stukkies brood en vis sou vermeerder om 'n skare te voed, het sekerlik die vermoë gehad om 'n klip in 'n stukkie brood te verander. Hierdie optrede sou egter daarop neerkom dat Hy nalaat om God die Vader te vertrou dat Hy op sy tyd en manier in Jesus se behoeftes sou voorsien. Tweedens het die Satan Jesus versoek om vanaf die hoogste plek van die tempel af te spring, aangesien engele Hom sou beskerm. Hierdie versoeking sou God se voorafbepaalde plan vir Jesus se lewe, dood en seëvierende opstanding in die wiele ry. Derdens is die Koning van die heelal versoek om God se woord in twyfel te trek en om sy eie pad na krag en eer te bekom.

By elke kruispad het Jesus geweier om God se woord en getrouheid te toets. Hy het eerder op die krag van God se beloftes staatgemaak, Hy het die Satan verwerp en aangehou om die pad met vertroue in God se voorsiening te stap. Dwarsdeur Jesus se aardse bediening het godsdiensleiers Hom gedurig getoets om sy aanspraak dat Hy die Seun van God is, in twyfel te trek (Matteus 16:1; Markus 10:2). Jesus het geweier om aan hulle eise toe te gee, terwyl Hy hulle daarop gewys het dat sy woorde en dade meer as genoeg was om te wys wie Hy is.

God se woord en sy beproefde getrouheid is vandag 'n sterk fondament vir gelowiges. Wanneer die kerk vandag met probleme in 'n gebroke wêreld te doen kry, is dit nie nodig om God op onbenullige maniere te toets, soos Gideon destyds nie. God se mense, wat die voorbeeld volg wat Jesus gestel het, kan vas staan op sy woord en sy karakter — selfs in 'n onsekere toekoms.

Vandag se Gebed:

Jesus, ek wil nie in U twyfel soos Gideon destyds nie. Help my om U altyd op u woord te neem, want ek weet dat u woord my nooit in die steek laat nie. Dankie vir u wonderbaarlike krag en u volmaakte tydsberekening. Amen.

Hierdie oordenking is 'n uittreksel uit Die "Jesus Bible", NLV  

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

A God Who Is Faithful

Hierdie leesplan gee voorbeelde van hoe God, regdeur die Bybel, aan sy geloftes getrou bly. Insigte en oordenkings kom uit die "Jesus Bible". Hierdie week sal jy deur die genade van God en die getrouheid van Jesus geïnspireer word om jou eie geloftes aan God na te kom. 

More

Baie dankie aan Louie Giglio, Passion Uitgewers en HarperCollins vir hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek: https://bibl.es/YV-TJB-Faithful_God