Gewyde Rus: 'n 5-Dag LeesplanVoorbeeld
VERTERENDE VUUR
Daar behoort 'n "Kom-Uit-Jou-Verantwoordelikhede"-kaart te wees wat jy kan speel op dié dae wanneer die lewe net te moeilik is, dae wanneer alles binne jou 'n oomblik wil hê om net stil te wees. Daardie gedagte het deur my kop geflits toe ek uitgestrek op die portaalvloer gelê het.
Ek het nooit geweet hoe genesend koue planke vir die liggaam kon wees nie. Ek was nooit bewus van die talle fasette van vrede en rus wat beskikbaar is wanneer jy jouself doelbewus neerlê nie. Vrede kom in baie vorms. Op hierdie dag het dit gekom in die vorm van 'n tien-minute verposing in die middel van my chaotiese lewe. Daar was nie genoeg tyd om weg te breek en dit reg te doen nie. Geen tyd vir enige lang, uitgerekte tyd met aktiwiteite vir myself nie. Geen mani-pedi. Geen warm tee en koekies. Geen karamel macchiato. Geen Dooie See soutbad nie.
Nee, op hierdie dag, wou tyd my nie toelaat om my uitputting in enige van my normale bederfies te begrawe nie. Ek het dus gedoen wat enige uitgebrande mens met gesonde verstand sou doen, nadat hulle die kinders by die dagsorg opgetel het. Ek het hulle voor die TV sit gemaak met 'n peuselhappie, en het op die vloer gaan lê. Ek het my rug uitgestrek op die planke, handpalms na onder, en my oë toegemaak. In daardie oomblik van gefokusde niksdoen, het ek die begin van vrede in my liggaam voel roer.
Vrede het stadig gekom. Dit was asof God self 'n goddelike asem in my in geblaas het, wat nuwe krag in my vrygestel het. Ek het dit ingeasem. Ek het die oomblik vasgegryp, en nodig gehad dat dit net nog 'n klein bietjie langer moes aanhou. Ek het selfs meer nodig gehad om my verlange na rus te bevredig. Nie 'n begeerte vir meer slaap nie, maar 'n hunkering om sielsvry te wees. Noudat ek daaraan dink, miskien was dit nie nodig dat ek gevul moes word nie, maar eerder om ontslae te raak van iets. Ongeag in watter rigting die energie gevloei het, was daar iets kragtigs besig om op daardie vloer te gebeur.
Ek het die stemme van my kinders se skaterlag gehoor soos hulle hul verheug het oor die manewales van die kinderprent waarna hulle gekyk het. Innerlik het ek saam met hulle gelag. Die glimlag wat stadig op my lippe begin verskyn het was net sagkens versteur deur die hond wat my gesig lek en die kleuter wat oor my been kruip. Dit was slordige vrede, maar dit was myne. Dit was vrede te midde van 'n geestelike storm.
Ek kon gekla het, maar dit sou tevergeefs wees. As ek heeltemal eerlik moet wees, is ek te blameer vir hierdie storm. Ek het dit geskep. Ek het dit aangevuur. Ek werf en trek gedurig ander saam met my daarin. Ek het nie bedoel om dit te doen nie. Dit is net die realiteit van die lewe wat ek geskep het.
Jy sien, ek is 'n doener. As ek nie iets doen nie, mors ek my tyd. Of ten minste, dit is wat ek tot 'n paar jaar gelede gedink het. My man het na my gekyk waar ek op die vloer lê en het gevra: "Wat op dees aarde doen jy op die vloer?" Slegs een antwoord het in my gedagtes opgekom — besig om te brand.
Die prentjie wat in my gedagtes opgekom het, was van takkies wat deur vuur verteer word. Ek was die takkies. Ek was uitgebrand, en die lewe wat ek geskep het was besig om alles wat ek as waardevol geag het, te verteer. Op hierdie dag was ek egter 'n takkie wat besig was om verteer te word deur 'n ewige vuur. 'n Vuur met die krag om die gewig van bedrywigheid te vernietig en 'n honger aan te steek om by die bron van hierdie vreemde, slordige rus wat ek gevind het, uit te kom. Honger om nader aan die gewyde heiligdom van rus te beweeg.
Aangaande hierdie leesplan
Hoe kan jy jou energie, geluk, kreatiwiteit, en verhoudings vars en gesond hou te midde van oneindige eise van jou gesin, loopbaandruk, en die stres van die alledaagse lewe? In hierdie 5-dag leesplan wat op haar boek Sacred Rest gebaseer is, gee dr. Saundra Dalton-Smith vir die vermoeide toestemming om rus te koester, grense te stel en toevlug te soek sonder enige skuldgevoel, skaamte of vrees.
More