SAGARIA 8:14-23
SAGARIA 8:14-23 Bybel vir almal (ABA)
Ja, die Here wat oor alles regeer, sê: “Toe julle voorvaders My kwaad gemaak het, het Ek besluit om julle te laat swaarkry. Ek het besluit Ek sal nie jammer wees vir julle nie. Maar nou besluit Ek dat Ek goed sal wees vir die mense van Jerusalem en vir die mense van Juda. Julle moenie bang wees nie. “Julle moet nou ook al hierdie dinge doen: Julle moet die waarheid praat met mekaar. Wanneer julle in die poort moet vertel wat gebeur het, dan moet julle die waarheid praat, en wanneer julle in die poort moet besluit oor die mense wat daar kom, dan moet julle reg besluit. “Julle moenie planne maak om dit sleg te laat gaan met ander mense nie. Julle moenie dinge belowe wat julle nie wil doen nie, want dit is iets wat Ek haat,” sê die Here. Die Here wat oor alles regeer, het met my gepraat. Hy het gesê: “Die mense van Juda het gevas in die vierde maand, of in die vyfde maand, of in die sewende maand, of in die tiende maand. Maar nou sal hulle op daardie dae bly wees en feesvier en bymekaarkom. Hulle sal die waarheid praat met mekaar en hulle sal lief wees vir mekaar.” Die Here wat oor alles regeer, sê: “Daar sal nog iets gebeur: Mense sal kom, hulle sal uit baie stede kom. Die mense van een stad sal na 'n ander stad gaan en sê: ‘Kom ons gaan bring 'n offer vir die Here, die Here wat oor alles regeer. Kom ons gaan vra wat Hy wil hê ons moet doen. Ek wil ook gaan.’ Baie volke, volke wat groot en sterk is, sal na Jerusalem kom om vir My te vra wat Ek wil hê hulle moet doen, en hulle sal vir My 'n offer bring, vir My, die Here wat oor alles regeer.” Die Here wat oor alles regeer, sê: “Mense van die baie ander volke sal vashou aan die klere van die mense van Juda. Tien manne sal vashou aan een man se klere en sê: ‘Ons wil saam met julle gaan, want ons het gehoor God is by julle.’ ”
SAGARIA 8:14-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want so sê die HERE van die leërskare: Soos Ek My voorgeneem het om julle kwaad aan te doen, toe julle vaders My vertoorn het, sê die HERE van die leërskare, en Ek daar geen berou van gehad het nie — so het Ek My weer voorgeneem om in hierdie dae goed te doen aan Jerusalem en die huis van Juda. Wees nie bevrees nie. Dit is die dinge wat julle moet doen: Spreek die waarheid met mekaar; beoefen waarheid en 'n regspraak van vrede in julle poorte! En julle moet nie mekaar se onheil in jul hart versin nie, en nie die valse eed liefhê nie. Want dit alles haat Ek, spreek die HERE. En die woord van die HERE van die leërskare het tot my gekom en gesê: So sê die HERE van die leërskare: Die vasdag in die vierde en die vasdag in die vyfde en die vasdag in die sewende en die vasdag in die tiende maand moet vir die huis van Juda 'n vreugde en blydskap wees en vrolike feestye, maar julle moet die waarheid en die vrede liefhê. So sê die HERE van die leërskare: Nog sal volke aankom en die inwoners van baie stede. En die inwoners van die een stad sal gaan na die ander en sê: Kom, laat ons heengaan om die aangesig van die HERE om genade te smeek en die HERE van die leërskare te soek. Ek wil ook gaan! So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die HERE van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die HERE om genade te smeek. So sê die HERE van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van 'n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is.
SAGARIA 8:14-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
So sê die Here die Almagtige: Omdat julle voorvaders my toorn laat ontvlam het, het Ek besluit om julle kwaad aan te doen, en Ek het nie die straf herroep nie, sê die Here die Almagtige. Maar nou is my bedoeling anders: Ek wil goed doen aan Jerusalem en Juda. Moenie bang wees nie! Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar, laat die waarheid en die reg geld in julle regspraak sodat daar vrede onder julle kan wees. Moenie bose planne teen mekaar bedink nie, moenie vals ede bly aflê nie. Ek haat sulke dinge, sê die Here. Die woord van die Here die Almagtige het tot my gekom. So sê die Here die Almagtige: Elke vasdag, of dit nou val in die vierde of die vyfde, die sewende of die tiende maand, sal vir Juda 'n dag van vrolikheid word, 'n dag van vreugde. Dié dae sal feestelike byeenkomste word, maar dan moet julle bly by die waarheid en sorg dat daar vrede onder julle is. So sê die Here die Almagtige: Volke sal kom, inwoners van baie stede. Die inwoners van een stad sal na dié van die volgende toe gaan en elkeen sal sê: “Kom ons gaan raadpleeg die Here, ons gaan vra na die wil van die Here die Almagtige. Ek gaan ook!” Baie volke sal kom, groot nasies, om in Jerusalem na die wil van die Here die Almagtige te vra, om Hom te raadpleeg. So sê die Here die Almagtige: Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.”
SAGARIA 8:14-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Ja, so sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘Soos Ek My voorgeneem het om julle kwaad aan te doen, toe julle voorouers My vertoornd gemaak het’, sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘en Ek nie daaroor jammer was nie, so het Ek in hierdie dae My weer voorgeneem om aan Jerusalem en die huis van Juda goed te doen. Moenie bang wees nie! Dit is wat julle moet doen: Praat onder mekaar die waarheid; beoefen in julle stadspoorte slegs regspraak wat waar is en tot vrede lei. Julle moenie bose planne in julle harte teen mekaar bedink nie, moenie lief wees daarvoor om vals te sweer nie, want dit is alles dinge wat Ek haat. ’ ” Dit is die uitspraak van die HERE. Dít is die woord van die HERE, Heerser oor alle magte aan my: “ So sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘Die vasdae in die vierde en vyfde maand en die vasdae in die sewende en tiende maand sal vir die huis van Juda tye van vreugde en blydskap wees, goeie feestye. Verder moet julle waarheid en vrede liefhê.’ “So sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘Daar sal weer volke en inwoners van baie stede hierheen kom. Die inwoners van een stad sal na 'n ander stad gaan en sê, “Kom, laat ons dadelik gaan om die HERE se guns te soek en die HERE, Heerser oor alle magte, te raadpleeg. Ek gaan ook!” Baie volke en magtige nasies sal kom om die HERE, Heerser oor alle magte, in Jerusalem te raadpleeg en die HERE se guns te soek.’ “So sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘Dit sal in daardie dae wees dat tien mense uit al die tale van die nasies die kleed van 'n Jood gryp en vashou terwyl hulle sê: “Ons wil saam met julle gaan, want ons het gehoor God is by julle.” ’ ”
SAGARIA 8:14-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want so sê die HERE van die leërskare: Soos Ek gedink het om julle te straf toe julle vaders My geterg het, spreek die HERE van die leërskare, en Ek het my nie bekeer nie. So het ek ook in hierdie dae gedink om goed te doen aan Jerusalem en die huis van Juda; wees nie bevrees nie. Dit is die dinge wat julle moet doen; Spreek elkeen die waarheid met sy naaste; voltrek die oordeel van waarheid en vrede in u poorte: En laat niemand van julle kwaad in julle harte dink teen sy naaste nie; en moenie 'n valse eed liefhê nie, want dit alles is dinge wat Ek haat, spreek die HERE. En die woord van die HERE van die leërskare het tot my gekom en gesê: So sê die HERE van die leërskare: Die vas van die vierde maand en die vas van die vyfde en die vas van die sewende en die vas van die tiende, sal vir die huis van Juda vreugde en vrolikheid en vrolike feeste wees; daarom moet jy die waarheid en vrede liefhê. So sê die HERE van die leërskare: Nogtans sal daar mense kom en die inwoners van baie stede; En die inwoners van die een stad sal na die ander gaan en sê: Laat ons gou gaan om voor die aangesig van die HERE te bid en die HERE van die leërskare te soek. Ek sal ook gaan. Ja, baie volke en magtige nasies sal kom om die HERE van die leërskare in Jerusalem te soek en voor die aangesig van die HERE te bid. So sê die HERE van die leërskare: In daardie dae sal dit gebeur dat tien man uit al die tale van die nasies sal gryp, ja, die slip van die Jood sal aangryp en sê: Ons sal saam met jou gaan, want ons het gehoor dat God is met jou.
SAGARIA 8:14-23 Die Boodskap (DB)
Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Julle voorouers het My baie kwaad gemaak. Ek het toe belowe dat Ek hulle gaan straf. Ek het woord gehou en Ek het hulle toe gestraf. Julle kan dus vir seker weet dat Ek nou ook my woord oor Jerusalem en Juda sal hou. Ek sal sorg dat dit goed gaan met Jerusalem en die mense van Juda. Julle het niks om voor bang te wees nie. Ek verwag van julle om die waarheid met mekaar te praat. As daar hofsake is, moet die uitsprake regverdig wees. Julle moet in vrede met mekaar saamleef. Moenie in die geheim slegte planne maak om mekaar kwaad aan te doen nie. Moet ook nie vals sweer nie. Ek haat dit as julle hierdie dinge doen,” sê die Here. Die Here het my ook gebruik om te sê: “Daar was tye dat julle gewoond was om sonder kos te bly en gehuil het oor wat met Jerusalem en sy mense gebeur het. Julle het dit gewoonlik gedoen in die vierde, vyfde, sewende en tiende maand. Dit gaan nou end kry. Hierdie tye gaan nou geleenthede wees om fees te vier. Julle gaan lag en bly wees. Daarom moet julle die waarheid praat en uitleef. Sorg ook dat julle in vrede met mekaar leef.” Die Here sê ook: “Mense van ander volke en ’n klomp stede sal na Jerusalem toe kom. Die mense van die verskillende stede sal met mekaar praat en sê: ‘Kom ons gaan dadelik na Jerusalem toe en dan vra ons die Here om vir ons goed te wees. Kom ons gaan vind uit wat Hy wil hê ons moet doen. Ons is self ook op pad soontoe.’ Mense uit baie nasies, ja, selfs uit sterk nasies, sal na Jerusalem toe kom om te hoor wat die Here van hulle verwag om te doen. Hulle sal Hom ook vra om te sorg dat dit met hulle goed gaan.” Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Hierdie tyd wat julle verwag, sal vir seker kom. Wanneer dié tyd aanbreek, sal tien mense uit verskillende volke een Jood aan sy baadjie vasgryp. Hulle sal vir hom sê: ‘Ons wil saam met jou gaan, want ons het gehoor dat God by julle bly.’”
SAGARIA 8:14-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit is wat die HERE, die Almagtige, sê: “Ek het nie van plan verander toe julle voorouers My kwaad gemaak en Ek besluit het om hulle te straf nie,” sê die HERE, die Almagtige. “Net so sal Ek ook nie my besluit om Jerusalem en die volk van Juda te seën, verander nie. Moenie bang wees nie! “Dit is wat julle moet doen: Praat die waarheid met mekaar. Maak seker dat die regspraak in julle howe regverdig is en tot vrede lei. Moenie bose planne maak om mekaar kwaad aan te doen nie. Hou op om vals te sweer. Ek haat al hierdie soort dinge,” sê die HERE. Hier is nog ’n boodskap van die HERE, die Almagtige, wat tot my gekom het. Dit is wat die HERE, die Almagtige, sê: “Die tradisionele tye van vas en rou wat julle vroeg somer, in die middel van die somer, in herfs en winter gehou het, kom nou tot ’n einde. Dit word nou feeste van vrolikheid en vreugde vir die volk van Juda. Julle moet waarheid en vrede liefhê.” Dit is wat die HERE, die Almagtige, sê: “Mense van ander nasies en stede van die wêreld sal na Jerusalem toe kom. Mense van een stad sal aan die mense van ’n ander stad sê: ‘Kom ons gaan na Jerusalem toe en vra daar vir die HERE om ons te seën en om die HERE, die Almagtige, te soek. Ek gaan om dit te doen!’ Mense van baie nasies, selfs groot nasies, sal Jerusalem toe kom om die HERE, die Almagtige, te soek en om te vra dat die HERE hulle sal seën.” Dit is wat die HERE, die Almagtige, sê: “In daardie tyd sal tien mense uit al die nasies en tale van die wêreld een Judeër aan sy kleed gryp en sê: ‘Ons wil saam met julle gaan, want ons het gehoor God is by julle.’”