Sagaria 8

8
Terugkeer van die Here na Sion
1Dít was die woord van die Here, Heerser oor alle magte: 2“ So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Ek is besorg oor Sion, baie besorg. Ek is diep besorg oor haar.’
3“ So sê die Here, ‘Ek keer terug na Sion en sal in Jerusalem woon. Jerusalem sal “die getroue stad” genoem word en die berg van die Here, Heerser oor alle magte, sal “heilige berg” genoem word.’
4“ So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Daar sal weer ou manne en ou vroue op die pleine van Jerusalem sit, elkeen met 'n kierie in die hand van ouderdom. 5En die pleine van die stad sal vol seuns en dogters wees wat daar speel.’
6“So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘As dit in daardie dae onmoontlik gelyk het in die oë van hulle wat van hierdie volk oorgebly het, sal dit dan in My oë ook onmoontlik wees?’ ” Dit is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte.
7“ So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Kyk, Ek gaan my volk verlos uit die oostelike en westelike streke 8 en hulle bring om in Jerusalem te woon. Hulle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees, in waarheid en geregtigheid.’
9“ So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Hou moed, julle wat in hierdie dae dié woorde uit die mond van die profete gehoor het, julle wat teenwoordig was op die dag toe die fondament vir die herbou van die •tempel gelê is, die huis van die Here, Heerser oor alle magte! 10Ja, voor dié dae was daar nie 'n beloning vir die werk van mense en diere nie. Vir wie uitgegaan of teruggekom het, was daar geen veiligheid nie, omdat daar teenstanders was – Ek het al die mense teen mekaar losgelaat. 11Maar nou sal Ek nie meer teenoor die oorblyfsel van hierdie volk wees soos in vroeër dae nie,’ is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. 12‘Want die saad van voorspoed, die wingerd, sal sy vrug lewer, die land sal sy opbrengs lewer, en die hemel sal sy dou gee. Ek sal dit alles as erfenis gee aan die oorblyfsel van hierdie volk.
13 Soos julle, huis van Juda en huis van Israel, 'n vervloeking was onder die nasies, so sal Ek julle daarvan verlos; en julle sal in 'n seënspreuk gebruik word. Moenie bang wees nie! Hou moed!’
14“ Ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Soos Ek My voorgeneem het om julle kwaad aan te doen, toe julle voorouers My vertoornd gemaak het’, sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘en Ek nie daaroor jammer was nie, 15so het Ek in hierdie dae My weer voorgeneem om aan Jerusalem en die huis van Juda goed te doen. Moenie bang wees nie! 16 Dit is wat julle moet doen: Praat onder mekaar die waarheid; beoefen in julle stadspoorte slegs regspraak wat waar is en tot vrede lei. 17Julle moenie bose planne in julle harte teen mekaar bedink nie, moenie lief wees daarvoor om vals te sweer nie, want dit is alles dinge wat Ek haat. ’ ” Dit is die uitspraak van die Here.
18Dít is die woord van die Here, Heerser oor alle magte aan my: 19“ So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Die vasdae in die vierde en vyfde maand en die vasdae in die sewende en tiende maand sal vir die huis van Juda tye van vreugde en blydskap wees, goeie feestye. Verder moet julle waarheid en vrede liefhê.’
20 “So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Daar sal weer volke en inwoners van baie stede hierheen kom. 21Die inwoners van een stad sal na 'n ander stad gaan en sê, “Kom, laat ons dadelik gaan om die Here se guns te soek en die Here, Heerser oor alle magte, te raadpleeg. Ek gaan ook!” 22Baie volke en magtige nasies sal kom om die Here, Heerser oor alle magte, in Jerusalem te raadpleeg en die Here se guns te soek.’
23“So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Dit sal in daardie dae wees dat tien mense uit al die tale van die nasies die kleed van 'n Jood gryp en vashou terwyl hulle sê: “Ons wil saam met julle gaan, want ons het gehoor God is by julle.” ’ ”

Tans Gekies:

Sagaria 8: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid