Sagaria 8

8
Voorspoed vir Jerusalem
1Die Here het vir Sagaria gesê om weer met sy volk te praat.
2Hy het gesê: Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Jerusalem lê My baie na aan die hart. My liefde vir die plek is so groot dat Ek woedend word as iemand enigiets verkeerds teen die stad doen. 3Ek sal na Jerusalem toe terugkom en weer in die stad kom bly. Mense sal Jerusalem as die Stad van Waarheid ken. Die berg waarop die tempel van die Here staan, sal ’n spesiale plek wees om die Here op te aanbid. 4Verder het die Here ook gesê: Ou mense met baie kennis van die lewe, mans en vroue, sal ook weer in die strate van Jerusalem met hulle kieries loop. 5Daar sal ook baie seuns en meisies wees wat in die strate speel.”
6Die Here sê: “’n Groepie van Juda se mense het oorgebly nadat hulle ’n klompie jare terug na Babel toe weggevat is. Miskien is dit nou vir hierdie mense moeilik om te glo dat die dinge gaan gebeur wat Ek gesê het Ek gaan doen. Sê My, dink julle dit is vir My onmoontlik om hierdie dinge te doen net omdat hulle dink Ek kan nie? Ek is tog die Here wat sterker as alles en almal is! 7Luister ’n bietjie na wat die Here sê: Ek gaan my mense red uit die lande in die ooste en die weste. 8Ek sal hulle na Jerusalem toe terugbring sodat hulle weer daar kan bly. Soos vroeër sal hulle my volk wees en Ek hulle God. Ek sal lojaal aan hulle wees en regverdig.”
9Die Here sê ook: “Skep moed, spring aan die werk en bou die tempel klaar! Die beloftes wat julle nou hoor, is lank gelede alreeds deur die profete gemaak toe die fondamente van die tempel van die Here gelê is. 10Toe hulle met die werk aan die tempel begin het, was daar nie geld om die mense te betaal nie. Daar was ook nie geld om diere vir die werk te huur nie. Dit was toe so onveilig in die land dat niemand dit kon waag om van die een plek na ’n ander een te gaan nie. Ek het gemaak dat mense mekaar se vyande was. 11Maar dinge het verander. Ek sal nie meer met die klompie mense wat oor is, maak soos Ek vroeër met hulle gemaak het nie. 12Dit sal van nou af goed met hulle gaan. Daar sal vrede wees. Die wingerde sal druiwe dra. Verder sal die mense goeie oeste van die lande af inbring. Die hemel sal sorg vir die dou op die aarde. Ek sal dit alles doen vir hierdie klompie mense van Juda wat oorgebly het. 13As mense van ander volke mekaar sleg wou sê, het hulle altyd Juda en Israel as voorbeelde gebruik. Hulle het iets gesê soos: ‘Mag die slegte goed wat Juda en Israel oorgekom het, ook met julle gebeur.’ Maar dit gaan nou end kry! Ek sal julle red. Van nou af sal hulle aan julle dink as mense met wie dit baie goed gaan. Moet daarom nie bang wees nie, maar wys dat julle moed het en pak die bouwerk van die tempel aan!”
14Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Julle voorouers het My baie kwaad gemaak. Ek het toe belowe dat Ek hulle gaan straf. Ek het woord gehou en Ek het hulle toe gestraf. 15Julle kan dus vir seker weet dat Ek nou ook my woord oor Jerusalem en Juda sal hou. Ek sal sorg dat dit goed gaan met Jerusalem en die mense van Juda. Julle het niks om voor bang te wees nie. 16Ek verwag van julle om die waarheid met mekaar te praat. As daar hofsake is, moet die uitsprake regverdig wees. Julle moet in vrede met mekaar saamleef. 17Moenie in die geheim slegte planne maak om mekaar kwaad aan te doen nie. Moet ook nie vals sweer nie. Ek haat dit as julle hierdie dinge doen,” sê die Here.
18Die Here het my ook gebruik om te sê: 19“Daar was tye dat julle gewoond was om sonder kos te bly en gehuil het oor wat met Jerusalem en sy mense gebeur het. Julle het dit gewoonlik gedoen in die vierde, vyfde, sewende en tiende maand. Dit gaan nou end kry. Hierdie tye gaan nou geleenthede wees om fees te vier. Julle gaan lag en bly wees. Daarom moet julle die waarheid praat en uitleef. Sorg ook dat julle in vrede met mekaar leef.”
20Die Here sê ook: “Mense van ander volke en ’n klomp stede sal na Jerusalem toe kom. 21Die mense van die verskillende stede sal met mekaar praat en sê: ‘Kom ons gaan dadelik na Jerusalem toe en dan vra ons die Here om vir ons goed te wees. Kom ons gaan vind uit wat Hy wil hê ons moet doen. Ons is self ook op pad soontoe.’ 22Mense uit baie nasies, ja, selfs uit sterk nasies, sal na Jerusalem toe kom om te hoor wat die Here van hulle verwag om te doen. Hulle sal Hom ook vra om te sorg dat dit met hulle goed gaan.”
23Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Hierdie tyd wat julle verwag, sal vir seker kom. Wanneer dié tyd aanbreek, sal tien mense uit verskillende volke een Jood aan sy baadjie vasgryp. Hulle sal vir hom sê: ‘Ons wil saam met jou gaan, want ons het gehoor dat God by julle bly.’”

Tans Gekies:

Sagaria 8: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid