ROMEINE 4:16-25

ROMEINE 4:16-25 Bybel vir almal (ABA)

Daarom, God belowe iets en Hy gee dit vir mense omdat hulle glo, want Hy wil goed wees vir hulle. Hy wil ook hê hulle moet seker wees dat hulle sal kry wat Hy vir hulle belowe het. Hy belowe dit nie net vir die mense wat doen wat die wette sê nie, maar ook vir mense wat glo soos Abraham geglo het, Abraham wat ons almal se voorvader is. Want God het vir Abraham gesê: Ek het jou die voorvader van baie volke gemaak. Abraham het naby God gelewe en hy het in God geglo, God wat dooie mense weer laat lewe en wat dinge maak, dinge wat voorheen nie daar was nie. Niemand het gedink Abraham sal die voorvader van baie nasies kan word nie, maar Abraham het geglo dit sal gebeur, want God het vir hom gesê: Jou nageslag sal groot wees. Abraham was omtrent 100 jaar oud en hy het geweet hy is naby die dood. Hy het ook geweet Sara kan nie kinders kry nie. Maar sy geloof het sterk gebly. Hy het nie opgehou glo nie. Hy het aangehou glo dat God vir hom sal gee wat Hy belowe het. Sy geloof het sterker geword. Abraham het vir God geprys en hy het baie seker geweet dat God kan doen wat Hy belowe het. Daarom het God vir Abraham vrygespreek. Daar is geskryf dat God hom vrygespreek het, maar dit is nie net vir Abraham geskryf nie, dit is ook vir ons geskryf. God sal vir ons ook vryspreek, vir ons wat glo in God wat vir Jesus, ons Here, weer laat lewe het. God het vir Jesus laat sterf omdat ons sonde gedoen het, en God het vir Jesus weer laat lewe omdat God ons wou vryspreek.

ROMEINE 4:16-25 Die Boodskap (DB)

Daarom is geloof so broodnodig. Geloof bied ’n nuwe pad na God toe. ’n Mens kan nooit jou eie redding verdien nie. Jy kan dit net as ’n geskenk uit God se hand ontvang. Dit is die belofte wat God aan Abraham gemaak het. Hierdie belofte geld vir alle mense op aarde. Abraham is daarom ons almal se pa in die geloof. In die Bybel sê God vir Abraham: “Ek maak jou die pa van baie nasies.” Abraham het hierdie belofte met sy hele lewe geglo. Hy het geweet dat God die onmoontlike kan doen: Hy kan dooies lewendig maak en met ’n enkele woord iets uit niks tot stand bring. Selfs toe alles hopeloos gelyk het, het Abraham geglo dat hy die pa van baie volke sou word. Hy het altyd vasgehou aan die woorde wat God vroeër vir hom gesê het: “Jy sal ’n groot nageslag hê.” Later, toe Abraham al by die 100 jaar oud was, het hy hom glad nie blind gestaar op die feit dat hy nie meer in staat was om kinders te verwek nie. En al was sy vrou Sara al te oud om ’n kind te hê, het hy nie moed opgegee nie. Abraham se geloof was die kragbron van sy lewe. Hy het God se hand styf vasgehou en aangehou om Hom te eer. Abraham het geweet dat God die een of ander tyd sou doen wat Hy belowe het. Daarom dat sy geloof hom in die regte verhouding met God laat leef het. Gelukkig is God se vryspraak nie net vir Abraham bedoel nie. Nee, dis ook vir ons bedoel; vir ons almal wat glo in God wat ons Here Jesus uit die dood laat opstaan het. Jesus is in ons plek vir al ons sondes dood, maar God het Hom weer lewendig gemaak. Daarom is ons elkeen wat in Hom glo se saak met God in orde.

ROMEINE 4:16-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die geloof is dus die sleutel! God se belofte word as ’n genadegeskenk gegee en ons as sy nageslag sal dit baie beslis ontvang – nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar almal wat deel in Abraham se geloof. Want Abraham is die vader van ons almal wat glo. Dit is wat die Skrif bedoel het met die woorde: “Ek het jou die stamvader van baie volke gemaak.” By die God in wie Abraham geglo het, was dié belofte reeds as’t ware ’n werklikheid – Hy is immers ’n God wat dooies lewendig maak en deur sy roepstem dinge wat nog nie bestaan nie, aanspreek asof hulle reeds werklikheid is. Teen alle hoop in het Abraham met vaste hoop geglo dat hy nog die stamvader van baie volke sou word op grond van God se belofte: “Jou nageslag sal so baie wees soos die sterre aan die hemel.” En Abraham se geloof het nie verswak nie, al het hy baie goed besef dat sy eie liggaamlike vermoëns alreeds gedaan was – hy was al omtrent 100 jaar oud – en dat sy vrou Sara nie meer kinders kon hê nie. Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie; inteendeel, sy geloof het sterker geword en so het hy die eer aan God gegee. Hy was absoluut daarvan oortuig dat God enigiets kon doen wat Hy beloof het. Inderdaad, God het Abraham regverdig verklaar omdat hy in Hom geglo het! Hierdie wonderlike waarheid – dat God Abraham regverdig verklaar het omdat hy geglo het – staan nie net opgeteken ter wille van Abraham self nie. Dit wil ook vir óns verseker dat ons net so vrygespreek sal word as ons in Hom glo wat Jesus ons Here uit die dood opgewek het. Hierdie Jesus is oorgelewer om ter wille van ons sondes te sterf, en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid