Romeine 4:16-25

Romeine 4:16-25 AFR20

Daarom het die belofte op geloof berus, sodat dit volgens genade kon vasstaan vir Abraham se hele nageslag, nie net vir hulle wat op grond van die wet leef nie, maar ook vir hulle wat op grond van Abraham se geloof leef. Hy is ons almal se vader, soos daar geskryf staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak” – dit was hy in die oë van die God in wie hy geglo het, wat die dooies lewend maak, en dit wat nog nie bestaan nie, tot bestaan roep. Hy het teen alle verwagting in bly hoop, en geglo dat hy die vader van baie nasies sou word, soos gesê is: “Só sal jou nageslag wees.” Sy geloof het nie verswak nie, al het hy besef dat sy eie liggaam reeds so te sê dood was – hy was reeds ongeveer 100 jaar oud – en dat Sara se moederskoot ook reeds dood was. Met die belofte van God in gedagte, het hy nie in ongeloof verval en begin twyfel nie; trouens, hy het sterker geword in die geloof, en het die eer aan God gegee. Hy was vas daarvan oortuig dat God dit wat Hy beloof het, ook kan doen. Daarom “is dit vir hom as regverdiging gereken”. Dat dit vir hom as regverdiging gereken is, is nie net ter wille van hom opgeskryf nie, maar ook ter wille van ons vir wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. Hy is ter wille van ons oortredings oorgelewer, en ter wille van ons regverdigmaking opgewek.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Romeine 4:16-25

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid