ROMEINE 4:16-25

ROMEINE 4:16-25 NLV

Die geloof is dus die sleutel! God se belofte word as ’n genadegeskenk gegee en ons as sy nageslag sal dit baie beslis ontvang – nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar almal wat deel in Abraham se geloof. Want Abraham is die vader van ons almal wat glo. Dit is wat die Skrif bedoel het met die woorde: “Ek het jou die stamvader van baie volke gemaak.” By die God in wie Abraham geglo het, was dié belofte reeds as’t ware ’n werklikheid – Hy is immers ’n God wat dooies lewendig maak en deur sy roepstem dinge wat nog nie bestaan nie, aanspreek asof hulle reeds werklikheid is. Teen alle hoop in het Abraham met vaste hoop geglo dat hy nog die stamvader van baie volke sou word op grond van God se belofte: “Jou nageslag sal so baie wees soos die sterre aan die hemel.” En Abraham se geloof het nie verswak nie, al het hy baie goed besef dat sy eie liggaamlike vermoëns alreeds gedaan was – hy was al omtrent 100 jaar oud – en dat sy vrou Sara nie meer kinders kon hê nie. Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie; inteendeel, sy geloof het sterker geword en so het hy die eer aan God gegee. Hy was absoluut daarvan oortuig dat God enigiets kon doen wat Hy beloof het. Inderdaad, God het Abraham regverdig verklaar omdat hy in Hom geglo het! Hierdie wonderlike waarheid – dat God Abraham regverdig verklaar het omdat hy geglo het – staan nie net opgeteken ter wille van Abraham self nie. Dit wil ook vir óns verseker dat ons net so vrygespreek sal word as ons in Hom glo wat Jesus ons Here uit die dood opgewek het. Hierdie Jesus is oorgelewer om ter wille van ons sondes te sterf, en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.

Gratis leesplanne en oordenkings oor ROMEINE 4:16-25

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid