ROMEINE 11:28-32
ROMEINE 11:28-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande om julle ontwil, maar wat die uitverkiesing betref, is hulle geliefdes om die voorvaders se ontwil. Die gawes en roeping van God is immers onherroeplik. Want net soos júlle voorheen aan God ongehoorsaam was, maar nou ontferming ontvang het weens húlle ongehoorsaamheid, so is ook hulle nou ongehoorsaam weens die ontferming wat julle ontvang het, sodat ook hulle nou self ontferming kan ontvang. God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon.
ROMEINE 11:28-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle is op die oomblik wel vyande van die Goeie Nuus, maar dit kom julle ten goede omdat God sy gawes nou aan julle geskenk het. Tog is hulle, wat God se uitverkiesing betref, nog steeds geliefdes van God – Hy het immers sy beloftes aan die aartsvaders gegee en sy gawes en roeping staan onherroeplik vas. Voorheen was julle aan God ongehoorsaam, maar as gevolg van die ongehoorsaamheid van die Jode het julle in die huidige tyd ontferming ontvang. Net so sal die ongehoorsaamheid van sommige van julle aan God se ontferming weer daartoe lei dat die Jode opnuut ontferming sal ontvang. God sluit alle nasies in die ongehoorsaamheid in sodat Hy Hom oor almal kan ontferm.
ROMEINE 11:28-32 Bybel vir almal (ABA)
Die Israeliete het nie die goeie boodskap geglo nie. Daarom is hulle God se vyande en daarom is God goed vir julle wat heidene is. Maar God het die Israeliete gekies en Hy is lief vir hulle, want Hy het 'n verbond gemaak met hulle voorvaders. Wanneer God vir iemand genade gee, dan gee Hy dit vir altyd. Wanneer Hy mense kies, dan kies Hy hulle vir altyd. Voorheen was julle heidene, julle was nie gehoorsaam aan God nie. Die Israeliete was ook nie gehoorsaam nie, en nou is God vir júlle jammer. Nou sal dieselfde gebeur: Die Israeliete was nie gehoorsaam aan God nie, maar God sal weer goed wees vir hulle, want God was goed vir júlle. Almal, Israeliete en heidene, was ongehoorsaam, en God het hulle ongehoorsaam laat bly, want Hy wou jammer wees vir hulle almal.
ROMEINE 11:28-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande ter wille van julle; maar wat die uitverkiesing betref, bemindes ter wille van die vaders. Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik. Want soos julle ook vroeër aan God ongehoorsaam was, maar nou barmhartigheid ontvang het deur hulle ongehoorsaamheid, so het hulle ook nou ongehoorsaam geword deur die barmhartigheid aan julle, sodat hulle ook barmhartigheid kan ontvang. Want God het hulle almal in die ongehoorsaamheid ingesluit om vir almal barmhartig te kan wees.
ROMEINE 11:28-32 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande van God, en dit kom julle ten goede, maar kragtens die uitverkiesing is hulle geliefdes om die aartsvaders se ontwil. As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie. Vroeër was julle heidene, ongehoorsaam aan God, maar noudat die Jode ongehoorsaam geword het, het God Hom oor julle ontferm. Net so gaan dit ook met die Jode: omdat God Hom oor julle ontferm het, het hulle nou ongehoorsaam geword. Maar dit gebeur sodat hulle self ook nou ontferming kan vind. God het almal aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal kan ontferm.
ROMEINE 11:28-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wat die evangelie betref, hulle is vyande ter wille van julle, maar wat die uitverkiesing betref, is hulle beminde ter wille van die vaders. Want die gawes en roeping van God is onberoulik. Want soos julle in die verlede God nie geglo het nie, maar nou barmhartigheid verkry het deur hulle ongeloof. So het hulle ook nou nie geglo nie, sodat hulle ook deur u barmhartigheid barmhartigheid kan verkry. Want God het hulle almal in ongeloof gesluit, sodat Hy Hom oor almal kan ontferm.
ROMEINE 11:28-32 Die Boodskap (DB)
Baie Israeliete is vyande van die evangelie. Dit het natuurlik aan julle wat nie Jode is nie die kans gebied om in Jesus te glo. Maar aan die ander kant is hulle nog steeds God se vriende omdat Hy hulle uitgekies het. God bly immers getrou aan sy beloftes aan hulle voorvaders. Hy gaan nooit terug op sy woord nie. Vroeër was julle ook ongehoorsaam aan God. Nou glo julle egter omdat God julle jammer gekry het. Dit het gebeur omdat die Jode die deur van God se genade toegeklap het. In reaksie daarop het God toe aan julle die kans gegee om in Hom te glo. Nou staan die Jode ook voor ’n toe deur. Omdat God julle jammer gekry het, staan hulle nou buite. Dit het egter gebeur sodat hulle ook nou God se ontferming kan beleef. God het ons almal laat voel hoe verskriklik dit is om ver van Hom af te leef. Ons almal is aan die mag van die sonde oorgegee sodat ons kan ervaar hoe wonderlik dit is wanneer God sy genade aan ons almal bewys.