Romeine 11

11
God se plan met Israel en die heidene
1My vraag is dan: “Het God dalk sy volk verstoot?” Hoegenaamd nie! Ek is tog ook 'n Israeliet, uit die nageslag van Abraham, uit die stam van Benjamin. 2“God het nie sy volk verstoot” wat Hy reeds tevore gekies het nie. Of weet julle nie wat die Skrif oor Elia sê nie, hoe hy hom op God beroep het teen Israel?
3 “Here, u profete
het hulle doodgemaak,
u altare het hulle afgebreek.
Ek het alleen oorgebly,
en hulle soek my lewe.”
4Maar wat is God se antwoord aan hom?
“Ek het vir My seweduisend mans laat oorbly
wat nie hulle knie voor Baäl
gebuig het nie.”
5 Net so is daar ook in die huidige tyd 'n oorblyfsel, deur genade uitgekies. 6 Maar as dit uit genade is, is dit nie meer op grond van dade nie; want anders sou die genade nie meer genade wees nie.
7Waarop kom dit dan neer? Dat Israel dit wat hulle soek, nie gekry het nie. Maar die uitverkorenes het dit wel gekry. Die res is egter verhard, 8soos daar geskryf staan:
“God het aan hulle 'n trae gees gegee,
oë wat nie sien nie,
en ore wat nie hoor nie,
tot op die dag van vandag.”
9En Dawid sê:
“Laat hulle etenstafel
'n valstrik en 'n vangnet word,
'n struikelblok en 'n vergelding vir hulle.
10Laat hulle oë verblind word,
sodat hulle nie kan sien nie,
laat hulle rûe vir altyd krom buig.”
11Ek vra verder: “Hulle het tog seker nie gestruikel, net sodat hulle tot 'n val sou kom nie?” Hoegenaamd nie! Inteendeel, deur hulle val het die verlossing na die nie-Jode gekom om hulle jaloers te maak. 12As hulle val 'n verryking van die wêreld meegebring het, en hulle tekort 'n verryking van die nie-Jode, hoeveel te meer hulle volle getal!
13Vir julle uit die nie-Jode sê ek: In soverre ek dan •apostel vir die nie-Jode is, strek dit my bediening tot eer, 14in die hoop dat ek dalk my eie mense jaloers kan maak, en 'n aantal van hulle tot verlossing kan bring. 15As hulle verwerping vir die wêreld versoening meegebring het, wat sal hulle aanneming nie beteken nie! Niks anders nie as lewe uit die dood!
16As die eerste stukkie deeg heilig is, dan is die hele baksel heilig. En as die wortel heilig is, dan ook die takke. 17 En as 'n aantal van die takke van die mak olyfboom uitgebreek is, en jy, die wilde olyf, tussen die takke ingeënt is, en so aan die voedingskrag van die mak olyfboom se wortel deel gekry het, 18moet jy nie teenoor die ander takke spog nie. As jy wel spog – jy ondersteun nie die wortel nie, maar die wortel jou. 19Jy sal dan sê: Daar is takke uitgebreek sodat ék op die boom ingeënt kan word. 20Goed en wel. Dit is deur hulle ongeloof dat hulle uitgebreek is. Maar jy is daar deur jou geloof. Moenie hooghartig wees nie , maar wees vol ontsag. 21Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy jou dalk ook nie spaar nie. 22 Sien daarom God se goedheid sowel as sy strengheid raak: sy strengheid oor hulle wat afvallig geword het, maar sy goedheid oor jou – mits jy in sy goedheid bly, want ook jy kan uitgekap word. 23En wat hulle betref, as hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, sal ook hulle weer ingeënt word. God is magtig om hulle weer terug te kan ent. 24Want as jy uitgekap is uit wat van nature 'n wilde olyfboom was, en jy teen jou natuur op die mak olyf oorgeënt kon word, hoeveel te meer sal die natuurlike takke nie op hulle eie olyfboom teruggeënt kan word nie!
Toekoms van Israel
25Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik 'n verharding oor Israel gekom, totdat die volle getal van die heidene ingekom het. 26Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan:
“Die Redder sal uit Sion kom,
en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder.
27En dit sal my verbond met hulle wees
wanneer Ek hulle sondes wegneem. ”
28Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande om julle ontwil, maar wat die uitverkiesing betref, is hulle geliefdes om die voorvaders se ontwil. 29Die gawes en roeping van God is immers onherroeplik. 30Want net soos júlle voorheen aan God ongehoorsaam was, maar nou ontferming ontvang het weens húlle ongehoorsaamheid, 31so is ook hulle nou ongehoorsaam weens die ontferming wat julle ontvang het, sodat ook hulle nou self ontferming kan ontvang. 32 God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon.
Aan God die eer
33O, diepte van die rykdom
en wysheid en kennis van God!
Hoe ondeurgrondelik is sy oordele,
en hoe onnaspeurbaar sy weë!
34 Want wie het die gedagte van die Here geken?
Of wie het as sy raadsman opgetree?
35 Of wie het eers gawes aan Hom gegee,
vir wie Hy dit sou moes vergoed?
36Want uit Hom en deur Hom
en tot Hom is alle dinge.
Aan Hom kom die heerlikheid vir ewig toe!
•Amen.

Tans Gekies:

Romeine 11: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid