Romeine 12

12
Lewende offers aan God
1Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as 'n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens. 2Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.
Gelowiges se optrede in die gemeente
3Deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle dat jy nie meer van jouself moet dink as wat jy behoort nie, maar dat jy jou gedagtes daarop moet instel om verstandig te wees, volgens die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. 4 Want soos ons baie ledemate in een liggaam het, en nie al die ledemate dieselfde funksie vervul nie, 5 net so is ons, al is ons baie, een liggaam in •Christus, en individueel lede van mekaar. 6 Ons het gawes wat van mekaar verskil, volgens die genade wat aan ons gegee is:
As dit die gawe van profesie is,
beoefen dit dan
in ooreenstemming
met die geloof;
7as dit is om ander te dien,
gebruik dit dan vir dienswerk.
Wie onderrig kan gee,
moet onderrig;
8wie kan bemoedig,
moet bemoediging gee;
wie mededeelsaam kan wees,
moet dit met opregtheid doen;
wie leiding kan gee,
moet dit met toewyding doen;
wie barmhartigheid kan betoon,
moet dit met blydskap doen.
Rigtingwysers vir gelowiges
9Julle liefde moet ongeveins wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die goeie. 10Julle moet mekaar liefhê met innige broederliefde. Gaan mekaar voor in eerbetoning. 11Moenie traag wees in julle toewyding nie; bly geesdriftig; hou vol om die Here te dien. 12Verbly julle in die hoop; wees standvastig wanneer julle swaarkry; volhard in die gebed. 13Betoon meelewing met die behoeftes van die •heiliges; lê julle toe op gasvryheid. 14 Seën julle vervolgers; ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. 15Wees bly saam met diegene wat bly is; treur saam met diegene wat treur. 16Wees eensgesind onder mekaar; moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie wys wees in julle eie oë nie. 17Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is. 18 As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf:
“Aan My kom die wraak toe;
Ek sal vergeld,”
sê die Here. 20Maar:
“As jou vyand honger is,
gee hom iets om te eet;
as hy dors is,
gee hom iets om te drink.
Deur dit te doen,
stapel jy vurige kole op sy hoof.”
21Moenie dat die kwaad
jou oorwin nie,
maar oorwin die kwaad
met die goeie.

Tans Gekies:

Romeine 12: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid