ROMEINE 11
11
’n Klein groepie het oorgebly
1My volgende vraag sou wees: Dit beteken tog seker nie dat God sy volk, die Jode, verstoot het nie? Natuurlik nie! Ek is mos ook ’n Israeliet, uit die nageslag van Abraham, uit die stam van Benjamin.
2Nee, God het nie sy volk verstoot wat Hy van die begin af uitverkies het nie. Onthou julle nie wat die Skrif sê in die gedeelte oor Elia nie? Hoe hy hom teen Israel op God beroep het: 3“Here, hulle het u profete doodgemaak en hulle het u altare afgebreek. Ek het alleen agtergebly en nou probeer hulle my ook doodmaak.”#11:3 1 Kon 19:10, 14.
4En onthou julle God se antwoord? Sy woorde was: “Jy is nie die enigste een wat oorbly nie. Ek het vir My 7 000 ander mense laat oorbly wat nog nooit voor Baäl gekniel het nie.”#11:4 1 Kon 19:18.
5So is dit ook vandag nog. Daar het ’n klein groepie oorgebly wat God in sy genade#11:5, 6 Of onverdiende goedheid. uitverkies het. 6En as dit uit genade#11:5, 6 Of onverdiende goedheid. is, dan was dit sekerlik nie op grond van hulle goeie dade nie – anders sou die genade nie meer werklik genade wees, dit wil sê dit wat ons teen alle verdienste in van God ontvang nie. 7Dit alles kom daarop neer dat Israel nie die vryspraak gekry het waarna hulle deur nakoming van die wet gesoek het nie. Die klein groepie wat God vir Hom laat oorbly het, het dit egter wel gekry. Die meerderheid is egter innerlik verhard. 8Soos die Skrif tereg sê:
“God het ’n innerlike verdwasing
oor hulle laat kom:
hulle oë sien nie wat hulle
behoort te sien nie;
hulle ore hoor nie
wat hulle behoort te hoor nie.
So is dit tot vandag toe.”#11:8 Deut 29:4; Jes 29:10.
9En Dawid het hieroor die volgende gesê:
“Mag hulle feesmaaltye vir hulle
’n gevaarlike valstrik word,
’n struikelblok en ’n straf.
10Laat hulle oë verblind word,
sodat hulle nie kan sien nie
en hulle rûe deurentyd
kromtrek.”#11:9-10 Ps 69:23-24.
11Ek sou verder kon vra: Israel se struikeling beteken tog seker nie dat hulle tot ’n finale val gekom het nie? Sekerlik nie! God se plan was om deur Israel se val die verlossing vir die nie-Joodse nasies beskikbaar te maak sodat hulle weer op hulle beurt vir Israel jaloers kan maak. 12As die wêreld dan deur die val van die Jode verryk is en die nie-Joodse nasies ryk gemaak is deurdat Israel tot ’n oorblyfsel gereduseer is, dink net wat sal gebeur as die meerderheid Jode die Goeie Nuus sou aanneem!
13Ek sê al hierdie dinge veral vir dié van julle wat uit die nie-Joodse nasies afkomstig is. As apostel onder die nie-Joodse nasies gee ek my allerbeste vir my bediening 14in die hoop dat ek my eie mense jaloers sal maak en sommige van hulle verlos sal word. 15Want as die Jode se verwerping meegebring het dat God vir die hele wêreld die herstel van hulle verhouding#11:15a Grondteks versoening. met Hom aanbied, hoeveel wonderliker sal die Jode se aanneming nie wees nie! Dit sal niks minder nie as lewe uit die dood#11:15b Grondteks lewe tussen die dooies uit. beteken! 16As die eerste stukkie deeg aan God geoffer word, beteken dit dat die hele baksel eintlik aan Hom behoort. Net so, as die wortels van die boom aan God gewy is, sal die takke ook aan Hom behoort.
17Party van die takke van hierdie boom – van die Joodse takke – is uitgekap en jy, die wilde olyf, is op die mak boom geënt. So deel jy ook nou in die lewensap wat van die mak olyf se onderstam af opstoot. 18Maar oppas om jou bors hieroor uit te stoot. Dit is immers nie jy wat die onderstam dra nie, maar juis andersom.
19Jy kan dalk sê: “Die takke is uitgekap sodat ek geënt kan word.” 20Toegegee – hulle is egter as gevolg van hulle ongeloof uitgekap terwyl jy nou daar is omdat jy glo. Moenie dink jy is wonderlik nie, maar wees liewer baie klein voor God. 21Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, kan Hy jou dalk ook nie spaar nie.
22Neem in ag dat God vol goedheid, maar terselfdertyd ook streng is. Hy is streng teenoor hulle wat van Hom weggedwaal het, maar vol goedheid teenoor jou – mits jy op sy goedheid bly staatmaak. Anders kan jy ook afgesny word. 23En as die Jode nie volhard in hulle ongeloof nie, sal God hulle weer op die olyfboom terug-ent. Hy besit die mag om dit te kan doen.
24Want as God bereid was om julle, wat van nature takke van die wilde olyf was, af te sny en julle op die mak olyf oor te ent – wat ’n baie ongewone ding was om te doen – hoeveel eerder sal Hy nie die Jode wil terug-ent op die boom waar hulle hoort nie!
Daar is hoop vir Israel
25Ek wil graag aan julle ’n geheim vertel, broers en susters#11:25 Grondteks broers., wat God aan my bekendgemaak het. Ek doen dit om te voorkom dat julle te slim in julle eie oë word. Dit gaan daaroor dat die verharding net vir ’n beperkte tyd oor Israel gekom het totdat die volle getal uit die nie-Joodse nasies onder die koningsheerskappy van God gekom het. 26En so sal die hele Israel verlos word. Daar staan mos in die Skrif:
“’n Redder sal uit Jerusalem#11:26a Grondteks uit Sion. kom,
en Hy sal Israel#11:26b Grondteks Jakob. se
goddeloosheid
van hom verwyder.
27En dan sal Ek hierdie verbond
met hulle sluit
wanneer Ek hulle sondes
wegneem.”#11:26-27 Vgl Jes 59:20-21.
28Hulle is op die oomblik wel vyande van die Goeie Nuus, maar dit kom julle ten goede omdat God sy gawes nou aan julle geskenk het. Tog is hulle, wat God se uitverkiesing betref, nog steeds geliefdes van God – Hy het immers sy beloftes aan die aartsvaders gegee 29en sy gawes en roeping staan onherroeplik vas. 30Voorheen was julle aan God ongehoorsaam, maar as gevolg van die ongehoorsaamheid van die Jode het julle in die huidige tyd ontferming ontvang. 31Net so sal die ongehoorsaamheid van sommige van julle aan God se ontferming weer daartoe lei dat die Jode opnuut ontferming sal ontvang. 32God sluit alle nasies in die ongehoorsaamheid in sodat Hy Hom oor almal kan ontferm.
33Hoe ongelooflik wonderlik is God nie – hoe ontsaglik ryk en wys en vol kennis is Hy nie! Sy beslissings gaan ons begrip te bowe; sy manier van doen kan ons nie deurvors nie.
34Wie van ons kan regtig verstaan
hoe God dink?
Of wie sou as sy raadgewer
kon optree?#11:34 Vgl Jes 40:13.
35Of wie sou ooit aan Hom
’n guns kon bewys
vir wie Hy dit sou moes vergoed?
36Hy is die bron van alles. Alles bestaan deur sy krag, en alles is op Hom gerig. Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.
Tans Gekies:
ROMEINE 11: NLV
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011