ROMEINE 11:25-36
ROMEINE 11:25-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik 'n verharding oor Israel gekom, totdat die volle getal van die heidene ingekom het. Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan: “Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder. En dit sal my verbond met hulle wees wanneer Ek hulle sondes wegneem. ” Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande om julle ontwil, maar wat die uitverkiesing betref, is hulle geliefdes om die voorvaders se ontwil. Die gawes en roeping van God is immers onherroeplik. Want net soos júlle voorheen aan God ongehoorsaam was, maar nou ontferming ontvang het weens húlle ongehoorsaamheid, so is ook hulle nou ongehoorsaam weens die ontferming wat julle ontvang het, sodat ook hulle nou self ontferming kan ontvang. God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon. O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, en hoe onnaspeurbaar sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken? Of wie het as sy raadsman opgetree? Of wie het eers gawes aan Hom gegee, vir wie Hy dit sou moes vergoed? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom kom die heerlikheid vir ewig toe! •Amen.
ROMEINE 11:25-36 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, ek wil hê julle moet weet wat God voorheen besluit het en wat Hy nou vir ons gesê het. Julle moenie dink julle weet alles nie. Party Israeliete is nou hardkoppig en hulle wil nie in Christus glo nie. Dit sal so wees totdat God al die heidene gered het wat Hy wil red. Dit is hoe God al die Israeliete sal red. Dit sal wees soos daar in die Ou Testament geskryf is: Die Redder sal uit Sion kom, Hy sal vir Jakob laat ophou om verkeerde dinge te doen. Ek maak 'n verbond met hulle, Ek vergewe hulle sondes. Die Israeliete het nie die goeie boodskap geglo nie. Daarom is hulle God se vyande en daarom is God goed vir julle wat heidene is. Maar God het die Israeliete gekies en Hy is lief vir hulle, want Hy het 'n verbond gemaak met hulle voorvaders. Wanneer God vir iemand genade gee, dan gee Hy dit vir altyd. Wanneer Hy mense kies, dan kies Hy hulle vir altyd. Voorheen was julle heidene, julle was nie gehoorsaam aan God nie. Die Israeliete was ook nie gehoorsaam nie, en nou is God vir júlle jammer. Nou sal dieselfde gebeur: Die Israeliete was nie gehoorsaam aan God nie, maar God sal weer goed wees vir hulle, want God was goed vir júlle. Almal, Israeliete en heidene, was ongehoorsaam, en God het hulle ongehoorsaam laat bly, want Hy wou jammer wees vir hulle almal. Die wysheid van God, alles wat Hy weet, alles wat aan God behoort, is meer as wat ons kan verstaan. Ons kan nie weet wat God besluit nie, ons kan nie uitvind wat Hy wil doen nie. Wie mag vir die Here sê wat Hy moet dink? Wie mag vir Hom sê wat die regte dinge is wat Hy moet doen? Of wie het eers vir die Here iets gegee sodat die Here dit dan weer vir hom moes teruggee? Die Here het alles en almal gemaak, alles en almal kom van Hom, en alles en almal moet Hom dien. Daarom moet ons die Here altyd prys. Amen.
ROMEINE 11:25-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem. Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande ter wille van julle; maar wat die uitverkiesing betref, bemindes ter wille van die vaders. Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik. Want soos julle ook vroeër aan God ongehoorsaam was, maar nou barmhartigheid ontvang het deur hulle ongehoorsaamheid, so het hulle ook nou ongehoorsaam geword deur die barmhartigheid aan julle, sodat hulle ook barmhartigheid kan ontvang. Want God het hulle almal in die ongehoorsaamheid ingesluit om vir almal barmhartig te kan wees. O, DIEPTE van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
ROMEINE 11:25-36 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ons staan hier voor 'n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie. Die verharding het oor 'n deel van Israel gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het; en op hierdie manier sal die hele Israel gered word. So staan daar geskrywe: “Uit Sion sal die Redder kom, en Hy sal die goddeloosheid van sy volk Jakob verwyder. En hierdie verbond sal Ek met hulle sluit wanneer Ek hulle sondes wegneem.” Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande van God, en dit kom julle ten goede, maar kragtens die uitverkiesing is hulle geliefdes om die aartsvaders se ontwil. As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie. Vroeër was julle heidene, ongehoorsaam aan God, maar noudat die Jode ongehoorsaam geword het, het God Hom oor julle ontferm. Net so gaan dit ook met die Jode: omdat God Hom oor julle ontferm het, het hulle nou ongehoorsaam geword. Maar dit gebeur sodat hulle self ook nou ontferming kan vind. God het almal aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal kan ontferm. O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! “Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom 'n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?” Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.
ROMEINE 11:25-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik 'n verharding oor Israel gekom, totdat die volle getal van die heidene ingekom het. Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan: “Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder. En dit sal my verbond met hulle wees wanneer Ek hulle sondes wegneem. ” Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande om julle ontwil, maar wat die uitverkiesing betref, is hulle geliefdes om die voorvaders se ontwil. Die gawes en roeping van God is immers onherroeplik. Want net soos júlle voorheen aan God ongehoorsaam was, maar nou ontferming ontvang het weens húlle ongehoorsaamheid, so is ook hulle nou ongehoorsaam weens die ontferming wat julle ontvang het, sodat ook hulle nou self ontferming kan ontvang. God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon. O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, en hoe onnaspeurbaar sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken? Of wie het as sy raadsman opgetree? Of wie het eers gawes aan Hom gegee, vir wie Hy dit sou moes vergoed? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom kom die heerlikheid vir ewig toe! •Amen.
ROMEINE 11:25-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid onkundig moet wees nie, sodat julle nie in jul eie voorstellings wys word nie; dat blindheid ten dele met Israel gebeur het, totdat die volheid van die heidene ingegaan het. En so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddeloosheid van Jakob afwend. Want dit is my verbond met hulle, wanneer Ek hulle sondes sal wegneem. Wat die evangelie betref, hulle is vyande ter wille van julle, maar wat die uitverkiesing betref, is hulle beminde ter wille van die vaders. Want die gawes en roeping van God is onberoulik. Want soos julle in die verlede God nie geglo het nie, maar nou barmhartigheid verkry het deur hulle ongeloof. So het hulle ook nou nie geglo nie, sodat hulle ook deur u barmhartigheid barmhartigheid kan verkry. Want God het hulle almal in ongeloof gesluit, sodat Hy Hom oor almal kan ontferm. O die diepte van die rykdom van die wysheid en kennis van God! hoe ondeurgrondelik is sy oordele, en hoe ondeurgrondelik is sy weë! Want wie het die gedagtes van die Here geken? of wie was sy raadgewer? Of wie het eers aan hom gegee, en dit sal hom weer vergeld word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge; aan wie die heerlikheid toekom tot in ewigheid. Amen.
ROMEINE 11:25-36 Die Boodskap (DB)
My broers en susters, ek wil hê dat julle goed moet begryp hoe God se plan werk. As julle verkeerd oor Israel oordeel, dink julle kort voor lank dat julle belangriker as hulle is. Daarom wil ek nou ’n paar van God se geheime met julle deel. Wel, julle weet dat baie Israeliete se harte kliphard is, want hulle weier om in God te glo. Maar dit sal ophou wanneer al God se uitverkorenes uit ander volke tot bekering gekom het. Op hierdie manier sal die ganse Israel, alle ware Israeliete, na God toe terugkeer. Dit is soos daar geskryf staan: “Die Redder kom van die berg Sion af. Hy sal Jakob se goddeloosheid verwyder. Dit is my ooreenkoms met hulle: Ek sal hulle sondes vergewe.” Baie Israeliete is vyande van die evangelie. Dit het natuurlik aan julle wat nie Jode is nie die kans gebied om in Jesus te glo. Maar aan die ander kant is hulle nog steeds God se vriende omdat Hy hulle uitgekies het. God bly immers getrou aan sy beloftes aan hulle voorvaders. Hy gaan nooit terug op sy woord nie. Vroeër was julle ook ongehoorsaam aan God. Nou glo julle egter omdat God julle jammer gekry het. Dit het gebeur omdat die Jode die deur van God se genade toegeklap het. In reaksie daarop het God toe aan julle die kans gegee om in Hom te glo. Nou staan die Jode ook voor ’n toe deur. Omdat God julle jammer gekry het, staan hulle nou buite. Dit het egter gebeur sodat hulle ook nou God se ontferming kan beleef. God het ons almal laat voel hoe verskriklik dit is om ver van Hom af te leef. Ons almal is aan die mag van die sonde oorgegee sodat ons kan ervaar hoe wonderlik dit is wanneer God sy genade aan ons almal bewys. Niemand in die hemel of op die aarde het soveel wysheid en insig soos God nie. Wie kan dit waag om God se oordeel te bevraagteken? Wie is in staat om sy optrede te verklaar? Wie ken God se planne? Is daar iemand wat vir Hom kan voorskryf wat om te doen? Is daar iemand wat vir God ’n guns bewys het, sodat Hy iets aan hom moet terugdoen? Van God af kom alles wat bestaan. Hy hou alles in stand. Alles is daar om sy Naam groot te maak. Vir altyd. Ja en amen!
ROMEINE 11:25-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek wil graag aan julle ’n geheim vertel, broers en susters, wat God aan my bekendgemaak het. Ek doen dit om te voorkom dat julle te slim in julle eie oë word. Dit gaan daaroor dat die verharding net vir ’n beperkte tyd oor Israel gekom het totdat die volle getal uit die nie-Joodse nasies onder die koningsheerskappy van God gekom het. En so sal die hele Israel verlos word. Daar staan mos in die Skrif: “’n Redder sal uit Jerusalem kom, en Hy sal Israel se goddeloosheid van hom verwyder. En dan sal Ek hierdie verbond met hulle sluit wanneer Ek hulle sondes wegneem.” Hulle is op die oomblik wel vyande van die Goeie Nuus, maar dit kom julle ten goede omdat God sy gawes nou aan julle geskenk het. Tog is hulle, wat God se uitverkiesing betref, nog steeds geliefdes van God – Hy het immers sy beloftes aan die aartsvaders gegee en sy gawes en roeping staan onherroeplik vas. Voorheen was julle aan God ongehoorsaam, maar as gevolg van die ongehoorsaamheid van die Jode het julle in die huidige tyd ontferming ontvang. Net so sal die ongehoorsaamheid van sommige van julle aan God se ontferming weer daartoe lei dat die Jode opnuut ontferming sal ontvang. God sluit alle nasies in die ongehoorsaamheid in sodat Hy Hom oor almal kan ontferm. Hoe ongelooflik wonderlik is God nie – hoe ontsaglik ryk en wys en vol kennis is Hy nie! Sy beslissings gaan ons begrip te bowe; sy manier van doen kan ons nie deurvors nie. Wie van ons kan regtig verstaan hoe God dink? Of wie sou as sy raadgewer kon optree? Of wie sou ooit aan Hom ’n guns kon bewys vir wie Hy dit sou moes vergoed? Hy is die bron van alles. Alles bestaan deur sy krag, en alles is op Hom gerig. Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.