ROMEINE 11:1-12
ROMEINE 11:1-12 Bybel vir almal (ABA)
Iemand sal miskien vra: “Het God sy volk gelos?” Nee, nooit nie. Julle moet onthou, ek is ook 'n Israeliet, ek is van die nageslag van Abraham. Ek behoort aan die Benjamin-stam. God het nie sy volk gelos nie. Hy het hulle gekies om aan Hom te behoort. Hy het hulle gekies voordat Hy alles gemaak het. Julle moet onthou wat die Ou Testament oor Elia sê. Elia het by God gekla oor die Israeliete. Elia het gesê: “ Here, die Israeliete het u profete doodgemaak, en hulle het u altare afgebreek. Ek het alleen oorgebly. En nou wil hulle my ook doodmaak.” Maar God het vir Elia gesê: “ Ek het vir My 7 000 mense laat oorbly wat nie hulle knieë gebuig het en vir Baäl aanbid het nie.” God het nou ook mense laat oorbly. Dit is die mense wat Hy gekies het om aan Hom te behoort omdat Hy baie goed wil wees vir hulle. God het hulle gekies omdat Hy baie goed wil wees vir hulle, nie omdat hulle goeie dinge gedoen het nie. As God hulle gekies het omdat hulle goeie dinge gedoen het, dan is dit nie regtig genade nie. Dit beteken: Die Israeliete wou hê God moet hulle vryspreek, maar Hy het dit nie gedoen nie. Hy het party mense gekies en Hy het hulle vrygespreek, maar Hy het die ander mense hardkoppig gemaak. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is: God het hulle mense gemaak wat niks kan doen nie, Hy het vir hulle oë gegee wat nie sien nie en ore wat nie hoor nie. Dit is vandag nog dieselfde. En Dawid sê in die Ou Testament: U moet hulle straf daar by hulle offer-etes, U moet hulle laat val soos voëls in vangnette val. Hulle moet val en seerkry, U moet hulle straf. U moet hulle blind maak sodat hulle nie kan sien nie. U moet elkeen se rug krom maak sodat hulle nooit weer kan loop nie. Die Israeliete het sonde gedoen toe hulle nie in Christus geglo het nie. Nou vra ek: Is hulle heeltemal verlore? Nee, nooit nie! Die Israeliete het sonde gedoen, maar omdat hulle sonde gedoen het, het God die heidene gered. Hy het dit gedoen sodat die Israeliete jaloers kan word. Ja, die Israeliete het sonde gedoen, en daarom het die ander mense in die wêreld al die goeie dinge gekry wat God wil gee. Die Israeliete het al die goeie dinge verloor, en die heidene het al die goeie dinge gewen. Nou moet julle dit weet: Wanneer God al die Israeliete red wat Hy wil red, dan sal die heidene nog baie meer goeie dinge kry.
ROMEINE 11:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EK vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook 'n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin. God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif in die gedeelte oor Elía sê nie? — hoe hy by God optree teen Israel en sê: Here, hulle het u profete gedood en u altare het hulle afgebreek, en ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe! Maar wat sê die Godspraak aan hom? Ek het vir Myself seweduisend manne laat oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie. Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd 'n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade. En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie. Wat dan? Wat Israel soek, dit het hy nie verkry nie; maar die uitverkorenes het dit verkry en die ander is verhard. Soos geskrywe is: God het hulle gegee 'n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe. En Dawid sê: Laat hulle tafel vir hulle wees 'n vangnet en 'n strik en 'n struikelblok en 'n vergelding. Laat hulle oë duister word om nie te sien nie, en buig hulle rug vir altyd krom. Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!
ROMEINE 11:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Het God dan nie tog sy volk verstoot nie?” sou iemand kon vra. Beslis nie! Ek is immers self ook 'n Israeliet, 'n afstammeling van Abraham, uit die stam Benjamin. God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif sê van Elia nie, hoe hy by God oor Israel gekla het: “Here, hulle het u profete doodgemaak en u altare afgebreek, en net ek het oorgebly, en hulle wil my ook om die lewe bring.” Maar wat het God hom geantwoord? “Ek het vir My sewe duisend manne laat oorbly wat nie vir Baäl aanbid het nie.” Net so is dit ook vandag: daar is 'n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is. En as dit uit genade is, dan is dit nie uit verdienste nie, anders sou die genade nie meer genade wees nie. Waarop kom dit dan neer? Hierop: wat Israel soek, het hy nie gekry nie; die uitverkorenes het dit gekry. Die ander is verhard, soos daar geskrywe staan: “God het aan hulle 'n gees gegee wat hulle bedwelm het: oë wat nie sien nie en ore wat nie hoor nie, tot vandag toe nog.” En Dawid sê: “Mag hulle maaltye vir hulle 'n vangstrik en 'n val word en 'n struikelblok en 'n straf. Mag hulle oë verduister word dat hulle nie sien nie; en buig hulle rug vir altyd krom.” 'n Ander vraag is: Het Israel se struikeling hulle finale val beteken? Beslis nie! Maar deur hulle val het die redding na die heidennasies toe gekom om die Jode jaloers te maak. As hulle val 'n verryking vir die wêreld beteken het en hulle klein oorblyfseltjie 'n verryking vir die heidennasies, hoeveel te meer sal dit dan nie tot seën wees as die Jode se volle getal gelowig sou word nie!
ROMEINE 11:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
My vraag is dan: “Het God dalk sy volk verstoot?” Hoegenaamd nie! Ek is tog ook 'n Israeliet, uit die nageslag van Abraham, uit die stam van Benjamin. “God het nie sy volk verstoot” wat Hy reeds tevore gekies het nie. Of weet julle nie wat die Skrif oor Elia sê nie, hoe hy hom op God beroep het teen Israel? “Here, u profete het hulle doodgemaak, u altare het hulle afgebreek. Ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe.” Maar wat is God se antwoord aan hom? “Ek het vir My seweduisend mans laat oorbly wat nie hulle knie voor Baäl gebuig het nie.” Net so is daar ook in die huidige tyd 'n oorblyfsel, deur genade uitgekies. Maar as dit uit genade is, is dit nie meer op grond van dade nie; want anders sou die genade nie meer genade wees nie. Waarop kom dit dan neer? Dat Israel dit wat hulle soek, nie gekry het nie. Maar die uitverkorenes het dit wel gekry. Die res is egter verhard, soos daar geskryf staan: “God het aan hulle 'n trae gees gegee, oë wat nie sien nie, en ore wat nie hoor nie, tot op die dag van vandag.” En Dawid sê: “Laat hulle etenstafel 'n valstrik en 'n vangnet word, 'n struikelblok en 'n vergelding vir hulle. Laat hulle oë verblind word, sodat hulle nie kan sien nie, laat hulle rûe vir altyd krom buig.” Ek vra verder: “Hulle het tog seker nie gestruikel, net sodat hulle tot 'n val sou kom nie?” Hoegenaamd nie! Inteendeel, deur hulle val het die verlossing na die nie-Jode gekom om hulle jaloers te maak. As hulle val 'n verryking van die wêreld meegebring het, en hulle tekort 'n verryking van die nie-Jode, hoeveel te meer hulle volle getal!
ROMEINE 11:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek sê dan: Het God sy volk verstoot? Die Here behoed. Want ek is ook 'n Israeliet, uit die nageslag van Abraham, uit die stam van Benjamin. God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verwerp nie. Weet julle nie wat die Skrif van Elia sê nie? hoe hy by God teen Israel intree deur te sê: Here, hulle het u profete gedood en u altare afgegrawe; en ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe. Maar wat sê die antwoord van God aan hom? Ek het vir myself sewe duisend man gereserveer wat nie die knie voor die beeld van Baäl gebuig het nie. Net so is daar ook in hierdie huidige tyd 'n oorblyfsel volgens die uitverkiesing van genade. En as dit uit genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is genade geen genade meer nie. Maar as dit uit die werke is, dan is dit geen genade meer nie; anders is werk geen werk meer nie. Wat dan? Israel het nie verkry wat hy soek nie; maar die uitverkiesing het dit verkry, en die ander is verblind. Soos geskrywe is: God het hulle 'n gees van sluimering gegee, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe. Toe sê Dawid: Laat hulle tafel vir hulle 'n strik en 'n strik en 'n struikelblok en 'n vergelding word. Laat hulle oë verduister word, dat hulle nie kan sien nie, en buig hulle rug altyddeur. Ek sê dan: Het hulle gestruikel om te val? God verhoed dit, maar liewer deur hulle val het verlossing tot die heidene gekom om hulle tot ywer te verwek. En as hulle val die rykdom van die wêreld is, en die vermindering van hulle die rykdom van die heidene; hoeveel te meer hulle volheid?
ROMEINE 11:1-12 Die Boodskap (DB)
Het God Israel afgeskryf? Nee, glad nie. Ek self is die bewys dat dit nie waar is nie. Ek is immers ook ’n Israeliet, ’n lid van Abraham se nageslag, uit die stam van Benjamin. Maar die belangrikste bewys dat God nie sy rug vir Israel gedraai het nie, is Hy self. Hy het Hom lank gelede aan Israel bekendgemaak. En Hy is nog heeltyd by hulle. Onthou julle die keer toe Elia oor hierdie einste Israeliete by God gaan kla het? “Here, hulle het u profete doodgemaak. Hulle het u altare onder hulle voete vertrap. Ek het alleen oorgebly. Nou is hulle ook agter my bloed aan, hulle wil my doodmaak.” Julle onthou nog wat God se antwoord aan Elia was: “Ek het 7 000 mans vir My oorgehou. Hulle dien My. Hulle sal nie daardie heidense afgod, Baäl, aanbid nie.” Tot vandag toe is hierdie woorde waar. Daar is nou nog ’n klein groepie Israeliete wat in God glo. God self het hulle uitgekies om in Hom te glo. Hy het dit nie gedoen omdat hierdie mense so goed leef nie, maar omdat Hy so ’n genadige God is. Hy red mense sonder dat hulle dit verdien. As mense hulle redding moes verdien, sou God mos nie meer ’n genadige God wees nie. Wat het dan met die res van Israel skeefgeloop? Wel, hulle het op die verkeerde manier by God probeer uitkom. Slegs die klein groepie wat deur God uitgekies is, het bly glo. Al die ander se harte is kliphard gemaak. Dit gaan met hulle presies soos die Bybel sê: “God het hierdie spul oorgegee aan ’n diep slaap. Daarom sien hulle glad nie meer nie, en hulle hoor ook nie. Dit gaan tot vandag toe nog so.” Dawid sê dieselfde in een van die psalms: “Mag hulle feesmaaltye hulle dodelik siek maak. Mag hulle in ’n lokval gelei word en in groot moeilikheid beland. Mag hulle blind word sodat hulle niks kan sien nie. Mag hulle vir altyd krom loop van die pyn.” Is Israel se kans by God vir altyd verby? Beteken hulle val die einde van God se pad met hulle? Nee, natuurlik nie. Ironies genoeg het Israel se val vir ander volke die kans gebied om God se redding te smaak. Dit moet Israel sommer groen van jaloesie maak. As hulle sien hoe mense uit ander volke nou God se goedheid geniet, moet hulle hulle begin afvra of hulle nie die ware lewe misloop nie. As Israel se ongeloof bygedra het tot ’n wêreldwye bekering van mense uit ander volke, en as hulle val die res van die wêreld verryk het, dink net wat dit vir die wêreld sal beteken as al die Israeliete tot bekering moet kom.
ROMEINE 11:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
My volgende vraag sou wees: Dit beteken tog seker nie dat God sy volk, die Jode, verstoot het nie? Natuurlik nie! Ek is mos ook ’n Israeliet, uit die nageslag van Abraham, uit die stam van Benjamin. Nee, God het nie sy volk verstoot wat Hy van die begin af uitverkies het nie. Onthou julle nie wat die Skrif sê in die gedeelte oor Elia nie? Hoe hy hom teen Israel op God beroep het: “HERE, hulle het u profete doodgemaak en hulle het u altare afgebreek. Ek het alleen agtergebly en nou probeer hulle my ook doodmaak.” En onthou julle God se antwoord? Sy woorde was: “Jy is nie die enigste een wat oorbly nie. Ek het vir My 7 000 ander mense laat oorbly wat nog nooit voor Baäl gekniel het nie.” So is dit ook vandag nog. Daar het ’n klein groepie oorgebly wat God in sy genade uitverkies het. En as dit uit genade is, dan was dit sekerlik nie op grond van hulle goeie dade nie – anders sou die genade nie meer werklik genade wees, dit wil sê dit wat ons teen alle verdienste in van God ontvang nie. Dit alles kom daarop neer dat Israel nie die vryspraak gekry het waarna hulle deur nakoming van die wet gesoek het nie. Die klein groepie wat God vir Hom laat oorbly het, het dit egter wel gekry. Die meerderheid is egter innerlik verhard. Soos die Skrif tereg sê: “God het ’n innerlike verdwasing oor hulle laat kom: hulle oë sien nie wat hulle behoort te sien nie; hulle ore hoor nie wat hulle behoort te hoor nie. So is dit tot vandag toe.” En Dawid het hieroor die volgende gesê: “Mag hulle feesmaaltye vir hulle ’n gevaarlike valstrik word, ’n struikelblok en ’n straf. Laat hulle oë verblind word, sodat hulle nie kan sien nie en hulle rûe deurentyd kromtrek.” Ek sou verder kon vra: Israel se struikeling beteken tog seker nie dat hulle tot ’n finale val gekom het nie? Sekerlik nie! God se plan was om deur Israel se val die verlossing vir die nie-Joodse nasies beskikbaar te maak sodat hulle weer op hulle beurt vir Israel jaloers kan maak. As die wêreld dan deur die val van die Jode verryk is en die nie-Joodse nasies ryk gemaak is deurdat Israel tot ’n oorblyfsel gereduseer is, dink net wat sal gebeur as die meerderheid Jode die Goeie Nuus sou aanneem!