PSALMS 77:1-20

PSALMS 77:1-20 Bybel vir almal (ABA)

Vir die leier van die koor: Dieselfde musiek soos vir die lied “Jedutun.” Van Asaf. 'n Psalm. Ek roep hard na God, ek vra dat Hy my moet help, ek roep hard na God sodat Hy my kan hoor. Dit gaan sleg met my, ek wil hê die Here moet by my wees. Ek steek my hand uit en ek bid, ek hou die hele nag aan, maar niks verander vir my nie. Wanneer ek aan God dink, dan sug en kla ek, wanneer ek begin dink, dan word ek moedeloos. Sela U laat my wakker bly, ek is bekommerd, ek kan nie praat nie. Wanneer ek dink aan die tyd wat verby is, aan die jare lank gelede, wanneer ek in die nag op my lier speel, dan dink ek diep in my hart en ek vra vir myself: Wil die Here ons vir altyd los, wil Hy nooit weer goed wees vir ons nie? Het Hy heeltemal vergeet wat Hy vir ons belowe het? Sal Hy nooit weer met ons praat nie? Wil God nie meer genadig wees nie? Of is Hy so kwaad dat Hy nie weer jammer kan wees vir ons nie? Sela En dan sê ek: Daar is iets wat my ongelukkig maak, dit is dat die Hoogste God nie meer doen wat Hy voorheen gedoen het nie. Ek dink aan wat die Here gedoen het, die wonderlike dinge wat U gedoen het, lank gelede, ek dink aan alles wat U gedoen het, die groot dinge wat U gedoen het. O God, U het gedoen wat net U kan doen. Daar is nie 'n ander God wat so groot is soos U nie, o God. Dit is U, o God, wat 'n wonderwerk gedoen het en vir die volke gewys het dat U sterk is. U het u volk vrygemaak, die nageslag van Jakob en die nageslag van Josef, U het gewys dat U baie sterk is. Sela O God, toe die water vir U sien, toe die water vir U sien, toe het die water gebewe. Die diep water was baie bang. Daar het reën geval uit die wolke, daar was donderweer in die lug, u weerlig het oral geblits. U het die donderweer laat raas, die weerlig het dit lig gemaak in die wêreld, die aarde het geskud en gebewe. U het deur die see gekom, U het deur die baie water gestap, niemand het u spore gesien nie.

PSALMS 77:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

VIR die musiekleier; op die wysie van: „Jedútun.” 'n Psalm van Asaf. My stem is tot God en ek roep; my stem is tot God, dat Hy na my kan luister. Op die dag van my benoudheid soek ek die HERE; snags bly my hand uitgestrek sonder om moeg te word; my siel weier om getroos te word. As ek aan God dink, moet ek steun; peins ek, dan versmag my gees. Sela. U hou my ooglede oop; ek is onrustig en kan nie spreek nie. Ek dink oor die dae van die voortyd, oor die ou, ou jare. Ek wil dink aan my snarespel in die nag, wil peins met my hart, en my gees deurvors: Sal die Here vir altyd verstoot en verder nie meer goedgunstig wees nie? Hou sy goedertierenheid vir altyd op? Is dit met die belofte gedaan van geslag tot geslag? Het God vergeet om genadig te wees? Of het Hy in toorn sy barmhartighede toegesluit? Sela. Toe het ek gesê: Dit is my grootste bekommernis dat die regterhand van die Allerhoogste verander! Ek dink aan die dade van die HERE; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd en al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade. O God, u weg is in heiligheid. Wie is 'n groot God soos God? U is die God wat wonders doen; U het u sterkte onder die volke bekend gemaak. U het u volk met 'n sterk arm verlos, die kinders van Jakob en van Josef. Sela. Die waters het U gesien, o God, die waters het U gesien, hulle het gebewe; ja, die watervloede het gesidder. Die wolke het water uitgegiet, die hemele het donder laat hoor, ook het u pyle rondgevlieg. U rollende donder het weerklink; bliksems het die wêreld verlig; die aarde het gesidder en gebewe. U weg was in die see en u paaie in groot waters, en u spore was nie te beken nie.

PSALMS 77:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Vir die koorleier. Ter herinnering. Van Asaf. 'n Psalm. Ek roep na God om hulp, ek roep na God, want Hy sal my hoor. In my nood soek ek hulp by die Here; ook in die nag bly my hande in gebed uitgestrek sonder om moeg te word; maar ek vind geen troos nie. Ek dink aan God en ek sug, ek dink na en ek is verslae. Sela U laat my wakker lê, ontsteld en sprakeloos. Ek dink aan vroeër dae, aan jare lank gelede. As ek so in die nag lê en terugdink en peins, vra ek my af: “Sal die Here vir altyd verstoot en nooit weer genade betoon nie? Het daar vir altyd 'n einde gekom aan sy trou? Geld sy beloftes dan glad nie meer nie? Het God vergeet om medelye te hê? Het Hy in sy toorn sy ontferming onttrek?” Sela En ek sê: “My grootste smart is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie.” Ek wil dink aan die dade van die Here, ja, ek wil dink aan u wonderdade van vroeër. Ek wil nadink oor al u werk en oor al u dade peins. Alles wat U doen, is heilig, o God. Waar is 'n god so groot soos God? U is die God wat wonderdade doen; U het u mag onder die volke geopenbaar. U het u volk deur u krag gered, die kinders van Jakob en Josef. Sela Toe die waters U sien, o God, toe die waters U sien, het hulle gebewe, die diep waters het gesidder. Die wolke het water uitgegiet, uit die donderwolke het dit gedreun, u weerligte het in alle rigtings geblits. U donderslae het die lugruim gevul, weerligstrale het die wêreld verlig, die aarde het geskud en gebewe. U het deur die see gekom, u weg deur magtige waters gebaan. Niemand het u spoor gesien nie.

PSALMS 77:1-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Vir die •musiekleier. Op Jedoetoen. Van Asaf. 'n Psalm. Ek roep hard na God, ek roep om hulp. Ek roep hard na God, sodat Hy my moet hoor. In die tyd van my nood soek ek my Heer. In die nag hou ek onvermoeid my hande uitgestrek; ek is ontroosbaar. Dink ek aan God, dan kreun ek; kla ek, dan weifel my gees. •Sela U hou my ooglede oop; ek is ontsteld en kan nie praat nie. Ek dink terug aan vervloë dae, aan vergange jare. Ek wil snags aan my harpspel dink; met my hart wil ek kla en my gees deursoek. Sal my Heer ons dan vir ewig verstoot en ons nooit weer aanvaar nie? Is dit vir altyd die einde van sy troue liefde? Het sy boodskappe van geslag tot geslag tot 'n einde gekom? Het God vergeet om genadig te wees, of het Hy in toorn sy ontferming opgehef? Sela Toe het ek gesê: “Dit is wat my kwel – die verandering van die Allerhoogste se regterhand.” Ek sal die HERE se dade onthou, ja, ek wil u wonders van vroeër onthou. Ek sal oor al u werke mymerend prewel, oor u handelinge wil ek nadink: O God, u weg is •heilig. Wie is so 'n groot god soos God? U is die God wat wonders doen, U het u krag onder die volke bekend gemaak. U het u volk met die krag van u arm losgekoop – die kinders van Jakob en Josef. Sela Die waters het U gesien, o God, die waters het U gesien, dit het ineengekrimp; ja, die •oerwaters het gesidder. Wolke het water uitgegiet, donderwolke het gedreun, ja, u pyle het heen en weer geflits. Die geluid van u donderweer was in die stormwind, weerligstrale het die wêreld verlig, die aarde het gesidder en gebeef. Deur die see loop u pad, u weg deur massas water, maar u spore was onherkenbaar.

PSALMS 77:1-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ek het met my stem tot God geroep, met my stem tot God; en hy het na my gehoor. Op die dag van my benoudheid het ek die HERE gesoek: my swere het in die nag geloop en nie opgehou nie; my siel het geweier om getroos te word. Ek het aan God gedink, en ek was ontsteld: ek het gekla, en my gees was oorweldig. Sela. U hou my oë wakker: ek is so ontsteld dat ek nie kan praat nie. Ek het die dae van die ou tyd, die jare van die ou tyd, oorweeg. Ek roep tot gedagtenis aan my lied in die nag: ek praat met my hart, en my gees het ywerig gesoek. Sal die HERE vir ewig verstoot? en sal hy nie meer gunstig wees nie? Is sy goedertierenheid vir altyd skoon weg? misluk sy belofte vir ewig? Het God vergeet om genadig te wees? Het hy in toorn sy barmhartighede toegesluit? Sela. En ek het gesê: Dit is my krankheid, maar ek sal dink aan die jare van die regterhand van die Allerhoogste. Ek sal dink aan die werke van die HERE; sekerlik sal ek dink aan u wonders van ouds. Ook sal ek oor al jou werk peins en oor jou handelinge praat. U weg, o God, is in die heiligdom; wie is so 'n groot God soos ons God? U is die God wat wonders doen; U het u sterkte onder die volke verkondig. U het U volk, die seuns van Jakob en Josef, met U arm verlos. Sela. Die waters het U gesien, o God, die waters het U gesien; hulle was bevrees; ook die dieptes was ontsteld. Die wolke het water uitgegiet, die lug het 'n geluid uitgestuur; jou pyle het ook na die buiteland gegaan. Die stem van jou donder was in die hemel: die weerlig het die wêreld verlig, die aarde het gebewe en gebewe. U weg is in die see, en u pad in die groot waters, en u voetstappe is nie bekend nie. U het u volk soos 'n kudde gelei deur die hand van Moses en Aäron.

PSALMS 77:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek roep hardop tot God. Ek roep hardop tot God om na my te luister! In my nood soek ek die Here. Ook in die nag strek ek onvermoeid my hande uit in gebed. Tog het ek geen troos gekry nie. Ek dink aan God, en ek sug, ek peins daaroor en is moedeloos. Sela U verhinder dat ek slaap; van ontsteltenis kan ek nie praat nie! Ek dink aan die dae van vroeër, aan jare van lank gelede, toe ek gesing het in die nag, nagedink het oor sake. Dan vra ek my af in my binneste: Het die Here my vir altyd verwerp? Sal Hy ooit weer sy genade bewys? Het sy troue liefde vir altyd verdwyn? Het sy beloftes tot ’n einde gekom? Het God sy medelye vergeet? Het Hy in toorn sy simpatie onttrek? Sela Ek het gesê: “Dit is my droefheid: dat die Allerhoogste nie optree soos Hy voorheen gedoen het nie.” HERE, ek onthou wat U gedoen het, ja, ek onthou u wonderlike dade van destyds. U dade bly in my gedagtes. Al u werke wil ek bepeins. O God, u weë is heilig. Is daar enige god so magtig soos U? U is die God wat wonders doen! U het u mag aan die nasies getoon. Deur u mag het U u volk gered, die nageslag van Jakob en Josef. Sela Toe die waters U sien, o God, toe hulle U sien, het hulle gebewe, selfs die diepsee het gesidder. Die wolke het reën neergestort, die donderslae het gerammel, u weerligpyle het oral geblits. U donder het gebulder in die storm; weerligstrale het die wêreld verlig! Die aarde het gebewe en geskud. U pad loop deur die see, u weg was deur magtige waters, maar u spoor kon niemand sien nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid