Psalms 77:1-20

Psalms 77:1-20 AFR20

Vir die •musiekleier. Op Jedoetoen. Van Asaf. 'n Psalm. Ek roep hard na God, ek roep om hulp. Ek roep hard na God, sodat Hy my moet hoor. In die tyd van my nood soek ek my Heer. In die nag hou ek onvermoeid my hande uitgestrek; ek is ontroosbaar. Dink ek aan God, dan kreun ek; kla ek, dan weifel my gees. •Sela U hou my ooglede oop; ek is ontsteld en kan nie praat nie. Ek dink terug aan vervloë dae, aan vergange jare. Ek wil snags aan my harpspel dink; met my hart wil ek kla en my gees deursoek. Sal my Heer ons dan vir ewig verstoot en ons nooit weer aanvaar nie? Is dit vir altyd die einde van sy troue liefde? Het sy boodskappe van geslag tot geslag tot 'n einde gekom? Het God vergeet om genadig te wees, of het Hy in toorn sy ontferming opgehef? Sela Toe het ek gesê: “Dit is wat my kwel – die verandering van die Allerhoogste se regterhand.” Ek sal die HERE se dade onthou, ja, ek wil u wonders van vroeër onthou. Ek sal oor al u werke mymerend prewel, oor u handelinge wil ek nadink: O God, u weg is •heilig. Wie is so 'n groot god soos God? U is die God wat wonders doen, U het u krag onder die volke bekend gemaak. U het u volk met die krag van u arm losgekoop – die kinders van Jakob en Josef. Sela Die waters het U gesien, o God, die waters het U gesien, dit het ineengekrimp; ja, die •oerwaters het gesidder. Wolke het water uitgegiet, donderwolke het gedreun, ja, u pyle het heen en weer geflits. Die geluid van u donderweer was in die stormwind, weerligstrale het die wêreld verlig, die aarde het gesidder en gebeef. Deur die see loop u pad, u weg deur massas water, maar u spore was onherkenbaar.

Video for Psalms 77:1-20

Gratis leesplanne en oordenkings oor Psalms 77:1-20