PSALMS 77:1-20

PSALMS 77:1-20 AFR83

Vir die koorleier. Ter herinnering. Van Asaf. 'n Psalm. Ek roep na God om hulp, ek roep na God, want Hy sal my hoor. In my nood soek ek hulp by die Here; ook in die nag bly my hande in gebed uitgestrek sonder om moeg te word; maar ek vind geen troos nie. Ek dink aan God en ek sug, ek dink na en ek is verslae. Sela U laat my wakker lê, ontsteld en sprakeloos. Ek dink aan vroeër dae, aan jare lank gelede. As ek so in die nag lê en terugdink en peins, vra ek my af: “Sal die Here vir altyd verstoot en nooit weer genade betoon nie? Het daar vir altyd 'n einde gekom aan sy trou? Geld sy beloftes dan glad nie meer nie? Het God vergeet om medelye te hê? Het Hy in sy toorn sy ontferming onttrek?” Sela En ek sê: “My grootste smart is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie.” Ek wil dink aan die dade van die Here, ja, ek wil dink aan u wonderdade van vroeër. Ek wil nadink oor al u werk en oor al u dade peins. Alles wat U doen, is heilig, o God. Waar is 'n god so groot soos God? U is die God wat wonderdade doen; U het u mag onder die volke geopenbaar. U het u volk deur u krag gered, die kinders van Jakob en Josef. Sela Toe die waters U sien, o God, toe die waters U sien, het hulle gebewe, die diep waters het gesidder. Die wolke het water uitgegiet, uit die donderwolke het dit gedreun, u weerligte het in alle rigtings geblits. U donderslae het die lugruim gevul, weerligstrale het die wêreld verlig, die aarde het geskud en gebewe. U het deur die see gekom, u weg deur magtige waters gebaan. Niemand het u spoor gesien nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor PSALMS 77:1-20

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid