PSALMS 37:12-29

PSALMS 37:12-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die goddelose soek die ondergang van die regverdige en bedreig sy lewe. Die Here lag vir die goddeloses, want Hy sien hulle dag kom. Die goddeloses trek die swaard en span die boog om die hulpelose en die arme dood te maak, om dié wat die regte pad loop, te vermoor. Die goddeloses se swaarde sal hulle eie harte tref en hulle boë sal stukkend gebreek word. Die bietjie van die regverdige is beter as die rykdom van talle goddeloses, want die mag van die goddeloses sal verbreek word, maar die Here sal die hulp wees van die regverdiges. Die Here sorg vir die lewe van die opregtes, en wat hulle besit, sal hulle behou so lank hulle lewe. In tyd van nood sal hulle nie verleë staan nie, in tyd van gebrek sal hulle genoeg hê. Die goddeloses sal te gronde gaan, die vyande van die Here sal tot niet gaan; soos mooi weivelde wat in vlamme opgaan, so sal hulle verdwyn. Die goddelose leen en betaal nie terug nie, die regverdige kry jammer en help. Dié wat deur die Here geseën word, sal die land besit; maar dié wat deur Hom vervloek is, sal uitgeroei word. Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom. As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op. Ek was jonk en ek het oud geword, maar nooit het ek 'n regverdige verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie. Hy is altyd vrygewig, hy leen uit sonder rente: met sy nageslag sal dit goed gaan. Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, dan sal jy die land altyd bewoon, want die Here het die reg lief en sy troue dienaars verlaat Hy nie. Hulle sal altyd behoue bly, maar die nageslag van die goddeloses sal uitgeroei word. Die regverdiges sal die land besit en altyd daarin woon.

PSALMS 37:12-29 Bybel vir almal (ABA)

Die mens wat verkeerd doen, maak slim planne teen die mens wat reg doen, hy wil hom laat sterf. Maar die Here lag vir die mense wat verkeerd doen, want Hy weet wat met hulle sal gebeur. Die mense wat verkeerd doen, vat die swaard en hulle trek die boog styf, hulle wil die mense doodmaak wat hulleself nie kan beskerm nie en wat niks het nie, hulle wil die mense vermoor wat eerlik lewe. Maar hulle swaard sal deur hulle eie hart steek, en hulle boog sal stukkend breek. Wanneer die mens wat reg lewe, min het, dan is dit beter as die baie dinge wat die mense het wat verkeerd doen, want die Here sal die mense wat verkeerd doen, swak laat word, maar Hy beskerm die mense wat reg doen. Die Here sorg altyd vir mense wat net goed doen, en die land sal altyd hulle land wees. Hulle sal weet wat om te doen wanneer dit sleg gaan, en wanneer daar min kos in die land is, dan sal hulle genoeg hê om te eet. Maar die mense wat verkeerd doen, sal sterf. Die vyande van die Here is soos die veldblomme, hulle verdwyn in die rook en hulle is weg. Die mens wat verkeerd doen, leen van ander mense en hy gee nie terug nie. Die mens wat reg doen, is iemand wat vir ander mense goed is en wat gee. Wanneer die Here mense seën, dan sal hulle die land kry, wanneer Hy mense vervloek, dan jaag Hy hulle weg uit die land. Wanneer die Here tevrede is oor hoe 'n mens lewe, dan lei Hy hom en dan beskerm Hy hom. Wanneer so 'n mens val, dan val hy nie hard nie, want die Here hou sy hand vas. Ek is nou oud, maar vandat ek jonk was tot nou toe, het ek nie gesien dat die Here 'n mens los wat reg lewe nie, ek het ook nie gesien dat so 'n mens se nageslag nie kos het nie. Die mens wat reg lewe, kan die hele dag lank goed wees vir ander mense en vir hulle dinge leen, en sy nageslag laat dit goed gaan met ander mense. Jy moenie verkeerd doen nie, jy moet doen wat goed is, dan sal jy altyd in die land woon. Want die Here hou daarvan dat mense reg doen aan ander mense en Hy los nie die mense wat in Hom glo nie. Hy beskerm hulle altyd, maar Hy jaag die nageslag van die mense wat verkeerd doen, weg. Die mense wat reg lewe, sal die land kry en altyd daar woon.

PSALMS 37:12-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Sajin. Die goddelose bedink listige planne teen die regverdige en kners met sy tande teen hom. Die Here lag oor hom, want Hy sien dat sy dag kom. Get. Die goddelose het die swaard getrek en hulle boog gespan om die ellendige en behoeftige te laat val, om dié te slag wat opreg is van weg. Hulle swaard sal in hul hart gaan, en hulle boë sal verbreek word. Tet. 'n Klein bietjie is vir die regverdige beter as die rykdom van baie goddelose; want die arms van die goddelose sal verbreek word, maar die HERE ondersteun die regverdiges. Jod. Die HERE ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly. Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in dae van hongersnood sal hulle versadig word. Kaf. Maar die goddelose sal omkom en die vyande van die HERE soos die prag van die weivelde; hulle verdwyn soos rook, hulle verdwyn. Lamed. Die goddelose leen en gee nie terug nie, maar die regverdige ontferm hom en gee; want die wat deur Hom geseën word, sal die aarde besit; maar die wat deur Hom vervloek word, sal uitgeroei word. Mem. Deur die HERE word die gange van 'n man bevestig, en Hy het 'n welbehae in sy weg. As hy val, dan stort hy nie neer nie; want die HERE ondersteun sy hand. Noen. Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie. Die hele dag ontferm hy hom en leen uit, en sy nageslag is 'n seën. Samek. Wyk af van wat kwaad is, en doen wat goed is, en jy sal vir ewig woon; want die HERE het die reg lief en sal sy gunsgenote nie verlaat nie; vir ewig word hulle bewaar, maar die nageslag van die goddelose word uitgeroei. Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.

PSALMS 37:12-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

'n Goddelose beplan onheil teen die regverdige en kners op sy tande vir hom. My Heer lag vir hom, want Hy sien dat sy dag kom. Goddeloses trek die swaard en span hulle boog om die magtelose en behoeftige neer te vel, om dié wat opreg leef, af te slag. Hulle swaard sal hulle eie hart binnedring, en hulle boë sal gebreek word. Die bietjie wat 'n regverdige het, is beter as die oorvloed van baie goddeloses. Want die arms van goddeloses sal gebreek word, maar die HERE ondersteun regverdiges. Die HERE dra sorg vir die lewensdae van hulle wat onberispelik leef: Hulle erfdeel bly vir altyd behoue. Hulle sal nie beskaamd staan in 'n tyd van teenspoed nie, en in tye van hongersnood is hulle versadig. Maar goddeloses gaan tot niet, die vyande van die HERE – soos kosbare weiveld verdwyn hulle, in 'n rookwolk verdwyn hulle. 'n Goddelose leen en betaal nie terug nie, maar 'n regverdige is goedhartig en mededeelsaam. Ja, wie deur Hom geseën is, sal die land besit, maar wie deur Hom vervloek is, sal uitgeroei word. Danksy die HERE stap 'n jong man met ferm treë; en die HERE is tevrede met sy lewenspad. As hy val, sal hy nie neerslaan nie want die HERE hou hom aan sy hand. Toe ek jonk was en selfs noudat ek oud geword het, het ek nie gesien dat 'n regverdige versaak word, of dat sy nageslag kos soek nie. Hy is altyd goedhartig en leen graag uit, sy nageslag is 'n seën vir ander. As jy die kwaad vermy en die goeie doen, sal jy vir altyd die land bewoon. Want die HERE het •geregtigheid lief en wie aan Hom getrou is, verlaat Hy nie; en hulle word vir altyd beskerm, maar die nageslag van goddeloses word uitgeroei. Regverdiges sal die land besit en vir altyd daarin woon.

PSALMS 37:12-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Die goddelose plan 'n sameswering teen die regverdige en kners op hom met sy tande. Die HERE sal oor hom lag, want hy sien dat sy dag kom. Die goddelose het die swaard uitgetrek en hulle boog gespan om die ellendige en behoeftiges neer te werp en die wat opregte wandel is, dood te maak. Hulle swaard sal in hulle eie hart ingaan, en hulle boë sal verbreek word. 'n Bietjie wat 'n regverdige het, is beter as die rykdom van baie goddeloses. Want die arms van die goddelose sal verbreek word, maar die HERE ondersteun die regverdiges. Die HERE ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal vir ewig wees. Hulle sal nie beskaamd staan in die tyd van onheil nie, en in die dae van hongersnood sal hulle versadig word. Maar die goddelose sal omkom, en die vyande van die HERE sal wees soos die vet van lammers: hulle sal verteer; in rook sal hulle verteer. Die goddelose leen en betaal nie terug nie, maar die regverdige bewys barmhartigheid en gee. Want die wat deur hom geseën word, sal die aarde beërwe; en die wat deur hom vervloek is, sal uitgeroei word. Die voetstappe van 'n goeie man word deur die HERE bepaal, en hy het behae in sy weg. Al val hy, hy sal nie met die ban neergewerp word nie, want die HERE ondersteun hom met Sy hand. Ek was jonk, en nou is ek oud; maar Ek het die regverdige nie verlate gesien nie, en ook nie sy nageslag wat brood soek nie. Hy is altyd barmhartig en leen uit; en sy saad is geseën. Gaan weg van die kwaad en doen goed; en bly tot in ewigheid. Want die HERE het die reg lief en Hy verlaat sy gunsgenote nie; hulle word vir ewig bewaar, maar die nageslag van die goddelose word uitgeroei. Die regverdiges sal die land beërwe en vir ewig daarin woon.

PSALMS 37:12-29 Die Boodskap (DB)

Slegte mense hou niks van die Here se kinders nie. Hulle probeer dié mense uit die weg ruim. Maar die Here lag vir hulle. Hy weet hulle tyd raak min! Hulle dag kom. Slegte mense wil hulpelose mense en arm mense en mense wat die regte pad loop, doodmaak, maar binnekort is hulle almal dood. Mense wat sonder God leef, sal deur hulle eie toedoen doodgaan. Al hulle wapens sal vernietig word. Dis beter om net ’n paar besittings te hê en die Here lief te hê as om ’n sak vol geld te hê, maar jy glo nie in Hom nie. Onthou: slegte mense sal nie vir altyd baasspeel hier op aarde nie. Die Here weet wat in sy kinders se lewe aangaan. Hy help hulle. Hy sorg altyd vir hulle. Wat hulle geërf het, behou hulle vir altyd. Wanneer almal rondom hulle swaarkry, sal hulle genoeg hê om van te leef. As ander honger ly, sal hulle genoeg hê om hulle versadig te eet. Maar die Here se vyande sal in rook en vlamme vergaan. Mense wat sonder God leef, sal tot niet gaan. Mense wat sonder God leef, leen geld by ander, maar betaal dit nooit terug nie. Goeie mense kry ander mense jammer en help hulle. Mense met wie die Here tevrede is, sal eendag alles op die aarde besit. Maar mense vir wie die Here sy rug keer, sal ondergaan. Hulle sal uitgeroei word. Die Here bepaal wat in die lewe van mense gebeur met wie se optrede Hy tevrede is. Hy laat dit goed gaan met hulle. As hulle op die grond neerslaan, bly hulle nie lê nie. Die Here kom buk by hulle en tel hulle weer op. Ek is nou al oud, maar ek het nog nie gesien dat mense wat reg voor God leef ooit alleen is nie. Nêrens staan gelowiges op straathoeke en bedel nie. Hulle kinders gaan slaap nooit honger nie. Gelowiges gee regtig om vir ander mense. Hulle klou nie aan hulle geld vas nie. Hulle leen geld sonder om rente te hef. Ook met hulle kinders sal dit goed gaan. Moenie die verkeerde doen nie. Doen net goeie dinge, dan sal jy vir altyd naby aan Hom leef. Die Here hou baie van almal wat reg optree. Sulke mense los Hy nooit alleen nie. Hy sal hulle altyd beskerm, maar slegte mense verdwyn soos mis voor die son. Hulle word uitgeroei. Die Here se kinders sal die land kry en vir altyd daarin lewe.

PSALMS 37:12-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die goddelose sweer saam teen die regverdiges en kners op die tande vir hulle. Maar die Here lag vir hom, want Hy sien sy dag van oordeel kom al nader. Die goddelose trek die swaard en span die boog om die armes en behoeftiges tot ’n val te bring, om hulle wat reg doen, dood te maak. Maar hulle swaard sal hulle eie hart deurboor en hulle boog sal stukkend gebreek word. Dit is beter om vroom te wees en min te besit as om boos te wees en baie besittings te hê. Want die mag van die bose sal verpletter word, maar die HERE sal die regverdiges beskerm. Die HERE ken die lewensdae van die opregtes, en hulle erfdeel sal vir altyd bly bestaan. In slegte tye sal hulle nie verleë wees nie; selfs in hongersnood sal hulle genoeg hê. Maar die goddelose sal vergaan. Die vyande van die HERE sal wees soos mooi weivelde wat soos rook verdwyn. Die goddelose leen en betaal nie terug nie, maar die regverdige gee vrygewig. Hulle vir wie die HERE seën, sal die land besit, maar hulle wat Hy vervloek, sal uitgeroei word. Die HERE bepaal die rigting van ’n mens met wie se lewe Hy tevrede is. Al sou so een struikel, hy sal nie val nie, want die HERE hou sy hand vas. Ek was jonk, en nou is ek oud. Maar ’n regverdige mens wat verlate is, het ek nooit gesien nie, of dat sy kinders vir kos moes bedel nie. Hy leen altyd ruimskoots aan ander, en sy kinders is tot ’n seën. Vermy die kwaad en doen wat goed is, dan sal jy vir altyd woon in die land. Want die HERE het die reg lief, en sal sy getroue dienaars nie verlaat nie. Hy sal hulle vir altyd veilig bewaar, maar die goddelose se kinders sal vergaan. Die regverdiges sal die land besit en daar vir altyd woon.