Psalms 37:12-29

Psalms 37:12-29 AFR20

'n Goddelose beplan onheil teen die regverdige en kners op sy tande vir hom. My Heer lag vir hom, want Hy sien dat sy dag kom. Goddeloses trek die swaard en span hulle boog om die magtelose en behoeftige neer te vel, om dié wat opreg leef, af te slag. Hulle swaard sal hulle eie hart binnedring, en hulle boë sal gebreek word. Die bietjie wat 'n regverdige het, is beter as die oorvloed van baie goddeloses. Want die arms van goddeloses sal gebreek word, maar die HERE ondersteun regverdiges. Die HERE dra sorg vir die lewensdae van hulle wat onberispelik leef: Hulle erfdeel bly vir altyd behoue. Hulle sal nie beskaamd staan in 'n tyd van teenspoed nie, en in tye van hongersnood is hulle versadig. Maar goddeloses gaan tot niet, die vyande van die HERE – soos kosbare weiveld verdwyn hulle, in 'n rookwolk verdwyn hulle. 'n Goddelose leen en betaal nie terug nie, maar 'n regverdige is goedhartig en mededeelsaam. Ja, wie deur Hom geseën is, sal die land besit, maar wie deur Hom vervloek is, sal uitgeroei word. Danksy die HERE stap 'n jong man met ferm treë; en die HERE is tevrede met sy lewenspad. As hy val, sal hy nie neerslaan nie want die HERE hou hom aan sy hand. Toe ek jonk was en selfs noudat ek oud geword het, het ek nie gesien dat 'n regverdige versaak word, of dat sy nageslag kos soek nie. Hy is altyd goedhartig en leen graag uit, sy nageslag is 'n seën vir ander. As jy die kwaad vermy en die goeie doen, sal jy vir altyd die land bewoon. Want die HERE het •geregtigheid lief en wie aan Hom getrou is, verlaat Hy nie; en hulle word vir altyd beskerm, maar die nageslag van goddeloses word uitgeroei. Regverdiges sal die land besit en vir altyd daarin woon.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Psalms 37:12-29