Die goddelose sweer saam teen die regverdiges en kners op die tande vir hulle. Maar die Here lag vir hom, want Hy sien sy dag van oordeel kom al nader. Die goddelose trek die swaard en span die boog om die armes en behoeftiges tot ’n val te bring, om hulle wat reg doen, dood te maak. Maar hulle swaard sal hulle eie hart deurboor en hulle boog sal stukkend gebreek word. Dit is beter om vroom te wees en min te besit as om boos te wees en baie besittings te hê. Want die mag van die bose sal verpletter word, maar die HERE sal die regverdiges beskerm. Die HERE ken die lewensdae van die opregtes, en hulle erfdeel sal vir altyd bly bestaan. In slegte tye sal hulle nie verleë wees nie; selfs in hongersnood sal hulle genoeg hê. Maar die goddelose sal vergaan. Die vyande van die HERE sal wees soos mooi weivelde wat soos rook verdwyn. Die goddelose leen en betaal nie terug nie, maar die regverdige gee vrygewig. Hulle vir wie die HERE seën, sal die land besit, maar hulle wat Hy vervloek, sal uitgeroei word. Die HERE bepaal die rigting van ’n mens met wie se lewe Hy tevrede is. Al sou so een struikel, hy sal nie val nie, want die HERE hou sy hand vas. Ek was jonk, en nou is ek oud. Maar ’n regverdige mens wat verlate is, het ek nooit gesien nie, of dat sy kinders vir kos moes bedel nie. Hy leen altyd ruimskoots aan ander, en sy kinders is tot ’n seën. Vermy die kwaad en doen wat goed is, dan sal jy vir altyd woon in die land. Want die HERE het die reg lief, en sal sy getroue dienaars nie verlaat nie. Hy sal hulle vir altyd veilig bewaar, maar die goddelose se kinders sal vergaan. Die regverdiges sal die land besit en daar vir altyd woon.
Lees PSALMS 37
Luister na PSALMS 37
Deel
Vergelyk alle weergawes: PSALMS 37:12-29
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's