Die mens wat verkeerd doen, maak slim planne
teen die mens wat reg doen, hy wil hom laat sterf.
Maar die Here lag vir die mense wat verkeerd doen,
want Hy weet wat met hulle sal gebeur.
Die mense wat verkeerd doen, vat die swaard
en hulle trek die boog styf,
hulle wil die mense doodmaak
wat hulleself nie kan beskerm nie
en wat niks het nie,
hulle wil die mense vermoor wat eerlik lewe.
Maar hulle swaard sal deur hulle eie hart steek,
en hulle boog sal stukkend breek.
Wanneer die mens wat reg lewe, min het,
dan is dit beter as die baie dinge
wat die mense het wat verkeerd doen,
want die Here sal die mense wat verkeerd doen,
swak laat word,
maar Hy beskerm die mense wat reg doen.
Die Here sorg altyd vir mense wat net goed doen,
en die land sal altyd hulle land wees.
Hulle sal weet wat om te doen
wanneer dit sleg gaan,
en wanneer daar min kos in die land is,
dan sal hulle genoeg hê om te eet.
Maar die mense wat verkeerd doen, sal sterf.
Die vyande van die Here is soos die veldblomme,
hulle verdwyn in die rook en hulle is weg.
Die mens wat verkeerd doen,
leen van ander mense en hy gee nie terug nie.
Die mens wat reg doen,
is iemand wat vir ander mense goed is
en wat gee.
Wanneer die Here mense seën,
dan sal hulle die land kry,
wanneer Hy mense vervloek,
dan jaag Hy hulle weg uit die land.
Wanneer die Here tevrede is oor hoe 'n mens lewe,
dan lei Hy hom en dan beskerm Hy hom.
Wanneer so 'n mens val, dan val hy nie hard nie,
want die Here hou sy hand vas.
Ek is nou oud, maar vandat ek jonk was tot nou toe,
het ek nie gesien dat die Here
'n mens los wat reg lewe nie,
ek het ook nie gesien dat so 'n mens se nageslag
nie kos het nie.
Die mens wat reg lewe, kan die hele dag lank
goed wees vir ander mense en vir hulle dinge leen,
en sy nageslag laat dit goed gaan met ander mense.
Jy moenie verkeerd doen nie,
jy moet doen wat goed is,
dan sal jy altyd in die land woon.
Want die Here hou daarvan
dat mense reg doen aan ander mense
en Hy los nie die mense wat in Hom glo nie.
Hy beskerm hulle altyd,
maar Hy jaag die nageslag van die mense
wat verkeerd doen, weg.
Die mense wat reg lewe, sal die land kry
en altyd daar woon.