PSALMS 139:13-24
PSALMS 139:13-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit is immers U wat my niere geskep het, my in die moederskoot geweef het. Ek prys U omdat ek op 'n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Wonderbaarlik is u werke en ek besef dit maar te goed. My skelet was nie vir U verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, toe ek kunstig geweef is in die dieptes van die aarde. U oë het my vormloosheid gesien. En in u •boekrol is hulle almal opgeteken – dae wat beplan is, toe nie een daar was nie. En vir my, hoe kosbaar is u gedagtes, o God – hoe oorweldigend is die volle getal daarvan! As ek dit tel, is dit meer as die sand. Word ek wakker, dan is ek steeds by U. As U, o God, goddeloses maar wou ombring! Manne wat bloed vergiet, gaan weg van my af! Dit is hulle wat valshede oor U verkondig, u vyande wat die stem tevergeefs verhef. Sou ek u haters nie haat nie, HERE, in hulle wat teen U opstaan, nie 'n weersin hê nie? Ek haat hulle met 'n intense haat; vyande het hulle vir my geword. Ondersoek my, o God, en ken my hart; toets my, en ken my ontstellende gedagtes. Kyk of ek nie op 'n pad van verdriet is nie, en lei my op die ewige pad.
PSALMS 139:13-24 Bybel vir almal (ABA)
Ja, dit is U wat my gemaak het, 'n mens wat kan voel en dink. U het my hele liggaam gemaak voordat ek gebore is. Ek wil vir U dankie sê, want ek word bang wanneer ek sien hoe wonderlik U my gemaak het. Alles wat U doen, is wonderlik, ek weet dit baie goed. U het geweet van elke been in my liggaam toe U my gemaak het waar niemand dit gesien het nie, toe U my gemaak het in die liggaam van my ma. U het my gesien voordat ek gebore is. Ek was nog nie een dag oud nie, toe het U klaar in u boek geskryf hoe lank ek sal lewe. O God, die dinge waaraan U dink, is vir my baie moeilik, ek kan dit nie verstaan nie, en U dink aan so baie dinge. As ek dit alles probeer tel, dan is dit meer as sand, en wanneer ek geslaap het en wakker word, dan dink ek nóg aan U. O God, ek bid dat U die mense moet doodmaak wat verkeerd doen. U moet die moordenaars laat weggaan van my. Hulle is u vyande, hulle sê slegte dinge teen U, en hulle is opstandig teen U. Ek haat die mense wat vir U haat, ek hou niks van mense wat opstandig is teen U nie. Ek haat hulle met my hele hart, hulle is my vyande. O God, U moet diep in my kyk, U moet weet wat binne-in my hart is, U moet my toets, U moet weet wat ek dink. En U moet help dat ek nie so lewe dat ek seerkry nie, U moet my lei op die pad na U toe.
PSALMS 139:13-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie. Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie! Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U. O God, as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle manne van bloed, gaan van my af weg! Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef — u teëstanders! HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en 'n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met 'n volkome haat; vyande is hulle vir my! Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!
PSALMS 139:13-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê. As U tog maar die goddelose uit die weg wou ruim, o God! Gaan weg van my af, julle moordenaars! Dit is hulle wat bose planne teen U smee, wat so vals teen U optree. Moet ek u haters dan nie haat nie, Here, moet ek nie 'n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie? Ek haat hulle met 'n uiterste haat, want hulle is ook my vyande. Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!
PSALMS 139:13-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want U het my niere in besit geneem, U het my in die skoot van my moeder bedek. Ek wil U loof; want ek is vreeslik en wonderbaar gemaak; wonderlik is u werke; en dat my siel goed weet. My besittings was nie vir jou verborge toe ek in die geheim gemaak is, en wonderlik bewerk is in die laagste dele van die aarde nie. U oë het my goed gesien, maar tog onvolmaak; en in u boek is al my lede opgeskrywe wat gevorm is toe daar nog nie een van hulle was nie. Hoe kosbaar is u gedagtes ook vir my, o God! hoe groot is die som daarvan! As ek hulle tel, is hulle meer as die sand; as ek wakker word, is ek nog by jou. Waarlik, U sal die goddelose doodmaak, o God; Want hulle spreek goddeloos teen jou, en jou vyande gebruik jou naam ydellik. Hat ek nie hulle wat U haat nie, o HERE? en is ek nie bedroef oor die wat teen jou opstaan nie? Ek haat hulle met volmaakte haat, ek ag hulle my vyande. Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes. En kyk of daar enige verkeerde weg in my is, en lei my op die ewige weg.
PSALMS 139:13-24 Die Boodskap (DB)
Here, U het my tot in die fynste detail gemaak. In die baarmoeder het U my gevorm. Ek wil U prys omdat U my so volmaak geskep het. U doen wonderlike werk. Ek weet dat U groot dinge kan doen. Daar is nie ’n been in my wat uit sy plek is nie. U ken my totaal. Alles is soos U dit wil hê. U het my gemaak. Toe ek grootgeword het, het U vir my gesorg. U beheer ook my hele lewe. Nog voordat ek mens geword het, het U my al beplan. U het my lewe toe al in u hand gehou. En U het besluit wat met my sou gebeur. God, dit troos my om te weet dat U alles in u hand hou. Die gedagte daaraan is net te groot om te verstaan. As ek dit probeer verstaan, besef ek my kop is te klein. En as ek klaar probeer dink het oor U, het ek nog steeds met U te doen. God, raak tog ontslae van mense wat weier om U te dien. Julle wat ander wil doodmaak, moet van my af weggaan. Here, diegene wat sulke lelike dinge doen, is mense wat met U wil baklei. Ek wil niks met hulle te doen hê nie. Ek kan nie mense verdra wat nie na U wil luister nie. Mense wat teen U is, is ook nie my vriende nie. God, kyk of U my kan vertrou. Toets my gesindheid. Kyk of ek eerlik is. Help my op die regte pad. Hou my weg van al die verkeerde dinge.
PSALMS 139:13-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm. Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed! My bene was vir U sigbaar toe ek stilletjies gevorm is in die dieptes van die moederskoot. U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was. Kosbaar is u gedagtes vir my, o God! Hoe onmeetlik is die totaal! As ek dit sou moes tel, sou hulle meer wees as sandkorrels! Wanneer ek daarmee klaar is, sal ek nog steeds by U wees. As U net die goddeloses sal uitroei, o God! Gaan weg van my, julle moordenaars! Hulle smee bose planne teen U, u vyande misbruik u Naam. Moet ek hulle nie haat wat vir U haat nie, HERE? Moet ek nie ’n afkeer hê van dié wat teen U in opstand kom nie? Ja, ek haat hulle met ’n volkome haat, want u vyande is my vyande. Deursoek my, o God, en ken my hart; toets my en ken my onrustige gemoed. Kyk of daar enige sondige neiging by my is, en lei my op die ewige pad.