Psalms 139:13-24

Psalms 139:13-24 AFR20

Dit is immers U wat my niere geskep het, my in die moederskoot geweef het. Ek prys U omdat ek op 'n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Wonderbaarlik is u werke en ek besef dit maar te goed. My skelet was nie vir U verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, toe ek kunstig geweef is in die dieptes van die aarde. U oë het my vormloosheid gesien. En in u •boekrol is hulle almal opgeteken – dae wat beplan is, toe nie een daar was nie. En vir my, hoe kosbaar is u gedagtes, o God – hoe oorweldigend is die volle getal daarvan! As ek dit tel, is dit meer as die sand. Word ek wakker, dan is ek steeds by U. As U, o God, goddeloses maar wou ombring! Manne wat bloed vergiet, gaan weg van my af! Dit is hulle wat valshede oor U verkondig, u vyande wat die stem tevergeefs verhef. Sou ek u haters nie haat nie, HERE, in hulle wat teen U opstaan, nie 'n weersin hê nie? Ek haat hulle met 'n intense haat; vyande het hulle vir my geword. Ondersoek my, o God, en ken my hart; toets my, en ken my ontstellende gedagtes. Kyk of ek nie op 'n pad van verdriet is nie, en lei my op die ewige pad.