PSALMS 139:1-16

PSALMS 139:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Vir die leier van die koor: Van Dawid. 'n Psalm. Here, U het tot diep in my gekyk, U ken my baie goed. U weet alles wat ek doen, net U weet dit, U is ver, maar U weet wat ek dink. U weet hoe ver ek loop en hoe lank ek slaap. U weet wat ek doen, oral waar ek gaan. Ja, Here, ek het nog nie begin om iets te sê nie, dan weet U klaar alles wat ek wil sê. U is agter my en U is voor my, U hand beskerm my. Ek verstaan nie hoe U alles weet nie, dit is vir my baie moeilik, ek kan dit nie verstaan nie. Waarnatoe kan ek gaan waar U nie is nie? Waarnatoe kan ek wegvlug van U? As ek opklim na die hemel, dan sal U daar wees. As ek in die doderyk my slaapmat oopgooi en gaan lê, dan sal U dáár ook wees. As ek ver na die ooste vlieg of as ek ver in die weste gaan woon, dan sal U ook dáár vir my lei en my vashou. As ek sê die donker moet my toemaak, die lig rondom my moet donker word, dan is dit nie donker vir U nie. Vir U is die nag so lig soos die dag en donker is vir U soos lig. Ja, dit is U wat my gemaak het, 'n mens wat kan voel en dink. U het my hele liggaam gemaak voordat ek gebore is. Ek wil vir U dankie sê, want ek word bang wanneer ek sien hoe wonderlik U my gemaak het. Alles wat U doen, is wonderlik, ek weet dit baie goed. U het geweet van elke been in my liggaam toe U my gemaak het waar niemand dit gesien het nie, toe U my gemaak het in die liggaam van my ma. U het my gesien voordat ek gebore is. Ek was nog nie een dag oud nie, toe het U klaar in u boek geskryf hoe lank ek sal lewe.

PSALMS 139:1-16 Die Boodskap (DB)

Here, U kyk of ek eerlik is en vertrou kan word. U weet wat gaan hier binne-in my aan. Ek kan niks wat ek doen, vir U wegsteek nie. Nog voordat ek iets doen, weet U wat dit gaan wees. Of ek by die huis bly en of ek rondloop, daar is niks wat ek vir U kan wegsteek nie. U weet alles wat ek doen. Al het ek nog nie eens begin praat nie, U weet wat ek gaan sê. U ken my deur en deur. U beskerm my hele lewe. Ek kan dit glad nie verstaan nie, al probeer ek. Dit is te oorweldigend. U is oral. Daar is nie ’n plek waar ek heen kan gaan waar U nie is nie. As ek hemel toe gaan, is U daar. As ek doodgaan, is U by my. Al kan ek so vinnig soos lig beweeg of al gaan ek na die verste plek toe, U is daar. Die afstand tussen oos en wes is nie vir U te ver om gou na my toe te kom nie. Oral hou U my vas. En U lei my op u pad. Al vou die donkerte my heeltemal toe, is U naby my. Lig en donkerte is vir U dieselfde. Niemand kan vir U iets in die donker wegsteek nie. Here, U het my tot in die fynste detail gemaak. In die baarmoeder het U my gevorm. Ek wil U prys omdat U my so volmaak geskep het. U doen wonderlike werk. Ek weet dat U groot dinge kan doen. Daar is nie ’n been in my wat uit sy plek is nie. U ken my totaal. Alles is soos U dit wil hê. U het my gemaak. Toe ek grootgeword het, het U vir my gesorg. U beheer ook my hele lewe. Nog voordat ek mens geword het, het U my al beplan. U het my lewe toe al in u hand gehou. En U het besluit wat met my sou gebeur.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid