Psalms 139:1-16

Psalms 139:1-16 AFR20

Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. HERE, U ondersoek my en U ken my. U is die een wat my sit en opstaan ken; U verstaan van ver af wat ek in gedagte het. My omswerwinge en waar ek rus – U het dit afgemeet; al my paaie is aan U bekend. Ja, daar is nog nie 'n woord op my tong nie, kyk, dan ken U, HERE, dit volledig! Van agter en van voor omsluit U my; U plaas u handpalms op my. Om dit te verstaan, is 'n te groot wonder vir my; dit is te hoog, ek kan dit nie begryp nie. Waarheen kan ek gaan, weg van u Gees; waarheen kan ek vlug, weg van u teenwoordigheid? Klim ek op na die hemel – U is daar; gaan lê ek in die •doderyk – ook daar is U! Neem ek die vlerke van die daeraad, gaan woon ek by die einde van die see; ook daar sal u hand my lei, u regterhand my vashou. En al sê ek, “As duisternis my maar net wil verberg en die lig om my nag word”, is selfs duisternis nie vir U donker nie, maar skyn nag so lig soos die dag, is die duisternis soos die lig. Dit is immers U wat my niere geskep het, my in die moederskoot geweef het. Ek prys U omdat ek op 'n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Wonderbaarlik is u werke en ek besef dit maar te goed. My skelet was nie vir U verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, toe ek kunstig geweef is in die dieptes van die aarde. U oë het my vormloosheid gesien. En in u •boekrol is hulle almal opgeteken – dae wat beplan is, toe nie een daar was nie.