PSALMS 139:1-16

PSALMS 139:1-16 NLV

HERE, U deursoek my en ken my. U weet of ek sit en of ek opstaan, U ken my gedagtes van ver af. Of ek op pad is, en of ek gaan lê, elke oomblik weet U waar ek is. Selfs voordat ek praat, HERE, weet U al presies wat ek gaan sê. U sluit my in van voor en van agter. U hand van seën is op my. Dié kennis laat my in verwondering, dit is vir my te hoog om te begryp! Waarheen sou ek kon gaan om u Gees te ontwyk? Of waarheen sou ek kon uitwyk om u teenwoordigheid te ontvlug? Gaan ek op na die hemel toe, is U daar; gaan lê ek in die doderyk, dan is U ook daar! Vlieg ek met die daeraad na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, selfs daar sal u hand my lei, en u regterhand my ondersteun. Sou ek sê: “Mag duisternis my oorweldig en die lig nag word rondom my,” dan is die nag vir U nie donker nie, maar is so helder soos dag, want duisternis is vir U soos lig. U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm. Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed! My bene was vir U sigbaar toe ek stilletjies gevorm is in die dieptes van die moederskoot. U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was.