PSALMS 119:97-112
PSALMS 119:97-112 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, want dit is gedurig by my. Ek het meer insig as my leermeesters, want ek oordink u waarskuwings. Ek het meer begrip as ouer mense, want ek lewe volgens u bevele. Verkeerde paaie het ek vermy, sodat ek u woord kan gehoorsaam. Ek het nie afgewyk van u bepalings nie, want U het my dit geleer. Hoe aangenaam is u woorde vir my; dis soeter as heuning in my mond. Deur u bevele kry ek insig; daarom haat ek elke valse pad. U woord is ’n lamp vir my voete en ’n lig op my pad. Ek het reeds belowe, en ek bevestig: u regverdige bepalings sal ek gehoorsaam. Ek het baie swaargekry, HERE. Vernuwe my lewe volgens u woord. HERE, aanvaar die offers van my mond, en leer my u bepalings. My lewe is gedurig in die weegskaal, maar u gebooie sal ek nie vergeet nie. Die goddeloses stel vir my ’n strik; tog sal ek van u bevele nie afdwaal nie. U verbondsbepalings is my erfdeel vir altyd; dit is die vreugde van my hart. Ek wil leef volgens u voorskrifte, vir altyd, tot die einde toe.
PSALMS 119:97-112 Bybel vir almal (ABA)
Ek is baie lief vir die dinge wat U vir my leer, ek dink die hele dag daaroor. U gebooie gee vir my wysheid, meer wysheid as wat my vyande het, want ek onthou altyd u gebooie. Ek is verstandiger as almal wat vir my geleer het, want ek dink aan wat U gesê het. Ek is slimmer as mense wat ouer is as ek, want ek doen wat U beveel het. Ek doen niks wat verkeerd is nie, ek wil doen wat U gesê het. Ek hou aan om te doen wat U besluit, want U self leer vir my. Dit is lekker om te praat oor die dinge wat U belowe het, dit is lekkerder as heuning. Ek verstaan wat U beveel het, daarom haat ek alles wat vals is. Die dinge wat U vir ons gesê het, is vir my soos 'n lamp wanneer ek in die donker loop, dit wys vir my hoe ek moet lewe. Ek het belowe, en ek sal dit doen: Ek sal doen wat U besluit, want U besluit reg. Dit gaan baie baie sleg met my, U moet my laat aanhou lewe, soos U gesê het. Here, die dinge wat ek vir U sê, is offers wat ek graag vir U bring. U moet dit asseblief aanvaar en U moet vir my leer om te verstaan wat U besluit. Daar is altyd mense wat my wil doodmaak, maar ek vergeet nie wat U vir ons geleer het nie. Die mense wat verkeerd doen, wil my vang soos 'n mens voëls vang in 'n vangnet, maar ek hou aan om te doen wat U beveel. Ek wil altyd onthou wat U sê, want dit maak my baie bly. Ek het besluit om altyd te doen wat u wette sê, so lank soos ek lewe.
PSALMS 119:97-112 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing. Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele. Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u woord kan bewaar. Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want Ú het my geleer. Hoe soet is u beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond. Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad. U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad. Ek het gesweer, en dit gehou, om u regverdige verordeninge te onderhou. Ek is baie diep neergedruk; HERE, maak my lewend na u woord! Laat tog die vrywillige offerandes van my mond U behaag, o HERE, en leer my u verordeninge. My lewe is altyddeur in my hand; nogtans vergeet ek u wet nie. Die goddelose het vir my 'n vangnet gespan; nogtans het ek van u bevele nie afgedwaal nie. Ek het u getuienisse vir ewig as erfdeel ontvang, want hulle is die vreugde van my hart. Ek het my hart geneig, om u insettinge te betrag, vir ewig, tot die einde toe.
PSALMS 119:97-112 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hoe lief het ek u wet! Dit bly my elke oomblik by. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, en is altyd by my. Ek munt uit bo al my leermeesters, want u verordeninge bly my by. Ek het meer insig as ouer mense, want ek gehoorsaam u bevele. Ek het my voete van elke verkeerde pad af gehou sodat ek gehoorsaam kan wees aan u woord. Van u bepalings het ek nie afgewyk nie, want U het my dit geleer. Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond. U bevele gee my insig, daarom haat ek elke verkeerde pad. U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. Ek het 'n eed afgelê, en daarby sal ek bly, om my aan u bepalings te hou; hulle is regverdig. Ek ly swaar, Here, hou my in die lewe, soos U beloof het. Neem tog my dank aan, Here. Leer my u bepalings. My lewe is gedurig in gevaar, maar u wet verontagsaam ek nie. Die goddeloses stel vir my 'n strik, maar van u bevele wyk ek nie af nie. U verordeninge maak ek altyd my eie, want hulle is vir my 'n vreugde. Ek lê my daarop toe om u voorskrifte altyd uit te voer, tot die einde toe.
PSALMS 119:97-112 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hoe lief het ek u wet – die hele dag dink ek daaroor na. U gebod maak my wyser as my vyande, want dit is altyd daar vir my. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u bepalings is vir my stof tot nadenke. Ek het meer insig as oumense, want by u opdragte hou ek. Van elke slegte pad het ek my voete weerhou sodat ek u woord kon onderhou. Van u beslissings het ek nie afgewyk nie, want dit is U wat my onderrig. Hoe strelend is u woord vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond. Uit u opdragte kry ek insig; daarom haat ek elke bedrieglike pad. U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my lewenspad. Ek het 'n eed afgelê – en daarby gehou – om u regverdige beslissings na te kom. Ek is baie terneergedruk; HERE, maak my lewend volgens u woord! Laat die vrywillige offers van my mond tog vir U aanvaarbaar wees, HERE, en leer my u beslissings. My lewe is voortdurend in my hande; maar u wet vergeet ek nie. Goddeloses het vir my 'n net gespan, maar van u opdragte het ek nie afgewyk nie. Ek het u bepalings as blywende erfporsie ontvang; ja, dit is die vreugde van my hart. Ek rig my hart daarop om u voorskrifte uit te voer – vir altyd, tot die einde toe.
PSALMS 119:97-112 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
MEM. O, hoe het ek U wet lief! dit is my meditasie die hele dag. U het my deur U gebooie wyser gemaak as my vyande, want hulle is altyd by my. Ek het meer verstand as al my leraars, want U getuienisse is my oordenking. Ek verstaan meer as die oudstes, want ek bewaar U bevele. Ek het my voete van elke verkeerde weg teruggehou, om u woord te bewaar. Ek het nie van U oordele afgewyk nie, want U het my geleer. Hoe soet is U woorde na my smaak! ja, soeter as heuning vir my mond! Deur u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke bedrieglike weg. NUN. U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad. Ek het gesweer, en ek sal dit volbring, dat ek U regverdige verordeninge sal onderhou. Ek is baie verdruk; maak my lewend, HERE, volgens U woord. Aanvaar tog die vrywillige offers van my mond, o HERE, en leer my U oordele. My siel is altyddeur in my hand, maar ek vergeet U wet nie. Die goddelose het vir my 'n strik gelê, maar ek het nie van U bevele afgedwaal nie. U getuienisse het ek vir ewig as 'n erfdeel geneem, want dit is die vreugde van my hart. Ek het my hart geneig om U insettinge altyd te doen, tot die einde toe.
PSALMS 119:97-112 Die Boodskap (DB)
Ek kan nie vir U sê hoe lief ek vir al u voorskrifte is nie! Ek dink dag en nag daaroor. Dit gee my ’n groot voorsprong bo al my vyande, niemand kan ooit my kennis van u Woord wegvat nie. Ek weet baie meer oor U as hulle wat my van U geleer het, want u Woord is my hele lewe. Ek is verstandiger as al die ou mense omdat ek u Woord in my hart wegbêre. Ek systap die sonde omdat ek graag wil doen wat U sê. Afdraaipaaie ken ek nie, want U het my geleer hoe om te leef. Daar’s niks beter as u Woord nie, dit is soeter as die soetste heuning. U voorskrifte het my geleer hoe om die lewe te bemeester; daarom haat ek leuens. U Woord wys my presies hoe ek moet leef, soos ’n helder lig skyn dit op die donker pad waarop ek stap. Ek het U belowe dat ek net sal doen wat U sê, ek sal nooit teruggaan op my beloftes nie. Wat u sê, is reg. Here, dit gaan nou baie sleg met my. Kom help my tog, soos U belowe het. Hoor hoe ek U loof en prys. Leer my wat reg en verkeerd is. My lewe is in gevaar, maar ek vergeet nie wat U in die wet sê nie. Slegte mense wil my laat afdwaal van u pad af, maar ek wyk nie ’n sentimeter daarvan af nie. U voorskrifte is myne, vir altyd, hulle maak my lewe tot oorlopens toe vol met blydskap. Met my hele lewe wil ek net doen wat U sê, elke dag, van nou af tot die einde toe.
PSALMS 119:97-112 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, want dit is gedurig by my. Ek het meer insig as my leermeesters, want ek oordink u waarskuwings. Ek het meer begrip as ouer mense, want ek lewe volgens u bevele. Verkeerde paaie het ek vermy, sodat ek u woord kan gehoorsaam. Ek het nie afgewyk van u bepalings nie, want U het my dit geleer. Hoe aangenaam is u woorde vir my; dis soeter as heuning in my mond. Deur u bevele kry ek insig; daarom haat ek elke valse pad. U woord is ’n lamp vir my voete en ’n lig op my pad. Ek het reeds belowe, en ek bevestig: u regverdige bepalings sal ek gehoorsaam. Ek het baie swaargekry, HERE. Vernuwe my lewe volgens u woord. HERE, aanvaar die offers van my mond, en leer my u bepalings. My lewe is gedurig in die weegskaal, maar u gebooie sal ek nie vergeet nie. Die goddeloses stel vir my ’n strik; tog sal ek van u bevele nie afdwaal nie. U verbondsbepalings is my erfdeel vir altyd; dit is die vreugde van my hart. Ek wil leef volgens u voorskrifte, vir altyd, tot die einde toe.