Psalms 119:97-112

Psalms 119:97-112 DB

Ek kan nie vir U sê hoe lief ek vir al u voorskrifte is nie! Ek dink dag en nag daaroor. Dit gee my ’n groot voorsprong bo al my vyande, niemand kan ooit my kennis van u Woord wegvat nie. Ek weet baie meer oor U as hulle wat my van U geleer het, want u Woord is my hele lewe. Ek is verstandiger as al die ou mense omdat ek u Woord in my hart wegbêre. Ek systap die sonde omdat ek graag wil doen wat U sê. Afdraaipaaie ken ek nie, want U het my geleer hoe om te leef. Daar’s niks beter as u Woord nie, dit is soeter as die soetste heuning. U voorskrifte het my geleer hoe om die lewe te bemeester; daarom haat ek leuens. U Woord wys my presies hoe ek moet leef, soos ’n helder lig skyn dit op die donker pad waarop ek stap. Ek het U belowe dat ek net sal doen wat U sê, ek sal nooit teruggaan op my beloftes nie. Wat u sê, is reg. Here, dit gaan nou baie sleg met my. Kom help my tog, soos U belowe het. Hoor hoe ek U loof en prys. Leer my wat reg en verkeerd is. My lewe is in gevaar, maar ek vergeet nie wat U in die wet sê nie. Slegte mense wil my laat afdwaal van u pad af, maar ek wyk nie ’n sentimeter daarvan af nie. U voorskrifte is myne, vir altyd, hulle maak my lewe tot oorlopens toe vol met blydskap. Met my hele lewe wil ek net doen wat U sê, elke dag, van nou af tot die einde toe.