PSALMS 119:97-112

PSALMS 119:97-112 NLV

Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, want dit is gedurig by my. Ek het meer insig as my leermeesters, want ek oordink u waarskuwings. Ek het meer begrip as ouer mense, want ek lewe volgens u bevele. Verkeerde paaie het ek vermy, sodat ek u woord kan gehoorsaam. Ek het nie afgewyk van u bepalings nie, want U het my dit geleer. Hoe aangenaam is u woorde vir my; dis soeter as heuning in my mond. Deur u bevele kry ek insig; daarom haat ek elke valse pad. U woord is ’n lamp vir my voete en ’n lig op my pad. Ek het reeds belowe, en ek bevestig: u regverdige bepalings sal ek gehoorsaam. Ek het baie swaargekry, HERE. Vernuwe my lewe volgens u woord. HERE, aanvaar die offers van my mond, en leer my u bepalings. My lewe is gedurig in die weegskaal, maar u gebooie sal ek nie vergeet nie. Die goddeloses stel vir my ’n strik; tog sal ek van u bevele nie afdwaal nie. U verbondsbepalings is my erfdeel vir altyd; dit is die vreugde van my hart. Ek wil leef volgens u voorskrifte, vir altyd, tot die einde toe.