PSALMS 119:9-16
PSALMS 119:9-16 Bybel vir almal (ABA)
Wat moet jongmense doen sodat hulle kan weet hoe hulle moet lewe? Hulle moet doen wat U sê. Ek wil naby U wees met my hele hart, U moet keer dat ek nie ongehoorsaam is aan u gebooie nie. Ek dink altyd aan wat U gesê het, dit keer my dat ek nie sonde doen teen U nie. Here, ek prys U, U moet vir my leer wat u wette sê. Ek wil vir die mense alles sê wat U besluit het. Dit maak my bly om te lewe soos U sê, so bly soos wanneer 'n mens alles het wat hy nodig het. Ek sal dink aan wat U beveel het, ek sal goed luister na wat U wil hê. Ek sal altyd bly wees oor u wette, ek sal nie vergeet wat U gesê het nie.
PSALMS 119:9-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord. Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie. Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie. Lofwaardig is U, o HERE! Leer my u insettinge! Ek het met my lippe vertel al die verordeninge van u mond. Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerhande rykdom. Ek wil u bevele oordink en op u paaie let. Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie.
PSALMS 119:9-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hoe kan 'n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord! Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart, laat my nie afwyk van u gebooie nie. Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U. Aan U kom die lof toe, Here, leer my u voorskrifte. Al u bepalings wil ek een vir een opnoem. Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld. U bevele bly my altyd by. Ek gee ag op die pad wat U aanwys. Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie.
PSALMS 119:9-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hoe sal 'n jongmens sy lewenspad suiwer hou? Deur te hou by u woord. Met my hele hart soek ek U; laat my tog nie afdwaal van u bevele nie. In my hart koester ek u woord, sodat ek nie teen U sondig nie. U moet geprys word, HERE! Leer my u voorskrifte! Met my lippe vertel ek van al die beslissings van u mond. Oor die pad van u bepalings is ek verheug soos oor enige rykdom. Oor u opdragte wil ek nadink; ek wil op u paaie let. In u voorskrifte vind ek vreugde; ek sal u woord nie vergeet nie.
PSALMS 119:9-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
BETH. Waarmee sal 'n jongman sy weg reinig? deur daarop ag te slaan volgens u woord. Met my hele hart het ek U gesoek; laat my nie van u gebooie afdwaal nie. Ek het u woord in my hart verberg, dat ek nie teen U sou sondig nie. Geseënd is U, HERE, leer my u insettinge. Met my lippe het ek al die oordele van U mond verkondig. Ek het my verheug oor die weg van U getuienisse, soveel as oor alle rykdom. Ek sal U bevele oordink en U weë ag. Ek sal my verlustig in U insettinge; U woord sal ek nie vergeet nie.
PSALMS 119:9-16 Die Boodskap (DB)
Hoe kan ’n jongmens leef soos U wil hê? As hy alles doen wat U sê. Ek het net een doel: om U gelukkig te maak! Help my dat ek alles sal doen wat U wil hê. Moet asseblief nie dat ek u wonderlike pad misloop en begin sonde doen nie. U Woord is diep in die brandkluis van my hart weggebêre. Dit keer dat ek dinge doen waarvan U niks hou nie. Here, U is so wonderlik! Leer my hoe om alles te doen wat U van my vra. Ek sal alles oorvertel wat ek by U leer. Elke voorskrif wat van U af kom, maak my lewe vol blydskap; dit is baie meer werd as ’n groot sak vol geld. Ek sit ure aanmekaar en dink hoe ek U bly kan maak. U voorskrifte oor hoe ek moet leef, maak my baie opgewonde. Ek sal nie ’n enkele woord daarvan vergeet nie.
PSALMS 119:9-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hoe kan ’n jongmens ’n skoon lewe lei? Deur sy lewe in te rig volgens u woord. Met my hele hart soek ek U; moenie dat ek afdwaal van u gebooie nie. Ek het u woord in my hart gebêre sodat ek nie teen U sou sondig nie. Geseënd is U, o HERE; leer my u voorskrifte. Die bepalings van u mond het ek met my lippe bekendgemaak. In u voorwaardes het ek my verlustig soos ’n mens bly is oor rykdom. Ek wil oor u bevele nadink en let op u weë. Ek sal my verbly in u voorskrifte en u woord nie vergeet nie.