PSALMS 119:17-32
PSALMS 119:17-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wees goed vir u dienskneg, dan kan ek lewe en u woord nakom. Maak oop my oë, sodat ek die wonders uit u wet kan raaksien. Ek is 'n •vreemdeling op aarde; moet u bevele nie vir my verborge hou nie. My lewe kwyn die hele tyd weg van verlange na u beslissings. U bestraf vermeteles, die vervloektes, hulle wat van u bevele afdwaal. Verwyder bespotting en minagting van my, want by u bepalings hou ek. Selfs al sit leiers met mekaar en praat oor my – u dienskneg sal oor u voorskrifte bly nadink. Nog steeds is u bepalings my grootste vreugde; hulle is my raadgewers. My lewe kleef aan die stof; maak my weer lewend volgens u woord. Van my lewenspaaie het ek vertel, en U het my geantwoord; leer my u voorskrifte. Die pad van u opdragte – laat my dit verstaan, sodat ek oor u wonders kan nadink. My lewe vloei weg van verdriet; rig my op volgens u woord. Die pad van bedrog – neem dit van my weg; en u wet – gee dit genadiglik vir my. Die pad van eerlikheid het ek gekies; u beslissings hou ek voor oë. Ek hou aan u bepalings vas; HERE, laat my nie beskaamd staan nie. Die pad van u bevele volg ek geesdriftig, want U verruim my insig.
PSALMS 119:17-32 Bybel vir almal (ABA)
As U goed is vir my, u dienaar, dan sal ek lewe en ek sal doen wat U gesê het. U moet my oë oopmaak, sodat ek kan sien hoe wonderlik die dinge is wat U vir ons leer. Ek sal nie lank hier op die aarde wees nie, U moet vir my leer wat u gebooie sê. My hart is seer, want ek verlang altyd om te hoor wat U besluit het. U praat kwaai met die hoogmoedige mense, U het hulle vervloek. Hulle is die mense wat nie wil doen wat u gebooie sê nie. U moet keer dat mense my nie spot en verneder nie, want ek doen wat U sê. Ook wanneer belangrike mense saam planne maak teen my, dan sal ek, u dienaar, altyd aan u wette dink. Wat U sê, maak my bly, dit sê vir my wat ek moet doen. Wanneer dit sleg gaan met my, dan moet U my laat aanhou lewe, soos U gesê het. Toe ek vir U vertel het van my lewe, toe het U my geantwoord. U moet vir my leer wat u wette sê. U moet my help om te verstaan wat U beveel, sodat ek oor u wonderwerke kan dink. Ek smelt weg van die pyn, U moet my regop hou, soos U gesê het. U moet keer dat ek nie vals lewe nie, U moet genadig wees vir my en vir my leer. Ek het gekies om eerlik te lewe, ek het onthou wat U besluit het. Here, ek hou vas aan wat U sê, U moet my help om te weet wat ek moet doen. Ek wil graag lewe soos u gebooie sê, want U sal my help om dit te verstaan.
PSALMS 119:17-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Doen goed aan u kneg, sodat ek kan lewe; dan wil ek u woord bewaar. Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet. Ek is 'n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie. My siel vergaan van verlange na u verordeninge altyddeur. U dreig die vermeteles as gevloektes wat van u gebooie afdwaal. Wentel smaad en veragting van my af, want u getuienisse het ek bewaar. Al sit vorste en beraadslaag teen my — u kneg oordink u insettinge. Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne. My siel kleef aan die stof; maak my lewend na u woord. My weë het ek vertel, en U het my verhoor; leer my u insettinge! Laat my die weg van u bevele verstaan, dat ek u wonders kan oordink. My siel drup weg van kommer; rig my op na u woord. Verwyder van my die weg van leuens, en verleen my genadiglik u wet. Ek het die weg van waarheid verkies; u verordeninge het ek voor my gestel. Ek kleef u getuienisse aan; o HERE, maak my nie beskaamd nie! Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart.
PSALMS 119:17-32 Afrikaans 1983 (AFR83)
Doen goed aan u dienaar, dan sal ek lewe en u woord gehoorsaam. Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van u wet ervaar. Hier op aarde is ek net op u beskerming aangewese: laat my tog nie sonder u gebooie wees nie. Ek kwyn weg van verlange na u bepalings. U straf die hovaardiges, die vervloektes wat van u gebooie afwyk. Keer tog dat ek nie beledig of gesmaad word nie, want ek kom u verordeninge na. Selfs al smee mense wat mag het, komplotte teen my, ek sal my hou aan wat U neergelê het. U verordeninge is my vreugde, hulle is my raadgewers. Ek verkeer in doodsgevaar, gee my nuwe lewe soos U in u woord beloof het. Ek het my lewensloop aan U bekend gemaak en U het my gebed verhoor; leer my u voorskrifte. Leer my hoe om u bevele uit te voer. Ek wil van u magtige dade vertel. Ek kwyn weg van kommer, skenk my krag soos U in u woord beloof het. Hou valsheid ver van my af, wees my genadig, leer my u wet. Ek kies die betroubare pad, ek lewe volgens u bepalings. Ek hou vas aan u verordeninge, Here, moet tog nie dat my lewe 'n teleurstelling word nie. Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam, want U verryk my lewe.
PSALMS 119:17-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wees goed vir u dienskneg, dan kan ek lewe en u woord nakom. Maak oop my oë, sodat ek die wonders uit u wet kan raaksien. Ek is 'n •vreemdeling op aarde; moet u bevele nie vir my verborge hou nie. My lewe kwyn die hele tyd weg van verlange na u beslissings. U bestraf vermeteles, die vervloektes, hulle wat van u bevele afdwaal. Verwyder bespotting en minagting van my, want by u bepalings hou ek. Selfs al sit leiers met mekaar en praat oor my – u dienskneg sal oor u voorskrifte bly nadink. Nog steeds is u bepalings my grootste vreugde; hulle is my raadgewers. My lewe kleef aan die stof; maak my weer lewend volgens u woord. Van my lewenspaaie het ek vertel, en U het my geantwoord; leer my u voorskrifte. Die pad van u opdragte – laat my dit verstaan, sodat ek oor u wonders kan nadink. My lewe vloei weg van verdriet; rig my op volgens u woord. Die pad van bedrog – neem dit van my weg; en u wet – gee dit genadiglik vir my. Die pad van eerlikheid het ek gekies; u beslissings hou ek voor oë. Ek hou aan u bepalings vas; HERE, laat my nie beskaamd staan nie. Die pad van u bevele volg ek geesdriftig, want U verruim my insig.
PSALMS 119:17-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
GIMEL. Handel goed met U dienaar, dat ek kan lewe en U woord bewaar. Open my oë, dat ek wonders uit U wet kan aanskou. Ek is 'n vreemdeling op die aarde; verberg U gebooie nie vir my nie. My siel breek vanweë die verlange wat dit altyd na U oordele het. U het die hoogmoediges bestraf wat vervloek is, wat van U gebooie afdwaal. Verwyder smaad en veragting van my af; want ek het U getuienisse bewaar. Ook het vorste gesit en teen my gespreek, maar U dienaar het U insettinge oordink. U getuienisse is ook my verlustiging en my raadgewers. DALETH. My siel kleef aan die stof; maak my lewend volgens U woord. Ek het my weë bekend gemaak, en U het na my geluister; leer my u insettinge. Laat my die weg van U bevele verstaan; so sal ek van U wonders praat. My siel smelt van bedroefdheid; versterk my volgens U woord. Verwyder van my die weg van leuens, en gee my U wet genadiglik. Ek het die weg van die waarheid gekies, u oordele het ek voor my neergelê. Ek het vasgehou aan U getuienisse: o HERE, maak my nie beskaamd nie. Ek sal die weg van u gebooie loop as U my hart verruim.
PSALMS 119:17-32 Die Boodskap (DB)
Wees asseblief elke dag goed vir my, dan leef ek regtig! Dan sal ek nie ’n enkele sekonde van u pad afdwaal nie. Maak my oë oop sodat ek kan sien hoe wonderlik alles is wat U sê. Ek is glad nie belangrik nie; mense loop maklik bo-oor my. Dus kan ek dit nie bekostig om ’n enkele oomblik sonder U te leef nie. My enigste wens is om te doen wat U vra. U hou niks van mense wat nie doen wat U sê nie, U gooi hulle eenkant toe; vir altyd! Moenie dat slegte mense my onderstebo loop nie. Onthou tog dat ek u Woord in my hart gebêre het. Mense wil my tot ’n val bring, maar onthou asseblief hoe lief ek u Woord het. U Woord maak my lewe vol blydskap; dit wys my hoe om elke dag te leef. My lewe is nie veel werd nie. Gee asseblief vir my nuwe lewe; daardie soort lewe wat U in die Bybel beloof. Ek het vir U kom vertel hoe swaar dit met my gaan. U het geluister en my gehelp; leer my nou om te doen wat U sê. Leer my om die volle rykdom van u voorskrifte goed te verstaan. Ek wil heeltyd daaroor dink. My lewe is vol bekommernis. Help my tog om u hand styf vas te hou. En gee vir my krag. Keer dat ek leuens vertel en op ’n oneerlike manier leef. Skryf u wet diep in my hart. Doen goed aan my. Ek het gekies om op u pad te stap, dis die pad na die lewe toe. U voorskrifte is soos padwysers; dit wys my hoe om te leef. Here, ek hou vas aan elke woord wat U sê. Moenie dat ek U ooit in die steek laat nie. Ek is gretig om elke dag op u pad te stap, want U maak my lewe vol met u goedheid.
PSALMS 119:17-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wees goed vir u dienaar sodat ek mag lewe en u woord gehoorsaam. Maak oop my oë sodat ek die wonders kan sien wat opgeskryf is in u gebooie. Al is ek net ’n vreemdeling op aarde, moenie u gebooie van my weghou nie. Ek word voortdurend verteer deur ’n begeerte na u bepalings. U bestraf trotsaards en vervloektes wat afdwaal van u gebooie. Weer smaad en belediging van my, want ek gehoorsaam u waarskuwings. Al sit en praat heersers saam teen my, sal ek u voorskrifte oordink. U waarskuwings is beslis my vreugde; dit gee my goeie raad. Ek lê in die stof, op pad na die graf; laat my herlewe volgens u woord. My optrede het ek bekendgemaak, en U het geantwoord. Leer my nou u voorskrifte. Leer my verstaan die betekenis van u bevele, sodat ek u wonders kan oordink. Ek huil van droefheid; versterk my soos U in u woord beloof. Bewaar my van leuenagtige weë; leer my in genade u gebooie. Ek het die betroubare pad gekies; ek lewe volgens u bepalings. Ek hou vas aan u voorwaardes, HERE. Moenie dat ek in skande kom nie! Ek sal die pad van u gebooie navolg, want U sal my begrip verbreed.