Psalms 119:17-32

Psalms 119:17-32 CAB23

GIMEL. Handel goed met U dienaar, dat ek kan lewe en U woord bewaar. Open my oë, dat ek wonders uit U wet kan aanskou. Ek is 'n vreemdeling op die aarde; verberg U gebooie nie vir my nie. My siel breek vanweë die verlange wat dit altyd na U oordele het. U het die hoogmoediges bestraf wat vervloek is, wat van U gebooie afdwaal. Verwyder smaad en veragting van my af; want ek het U getuienisse bewaar. Ook het vorste gesit en teen my gespreek, maar U dienaar het U insettinge oordink. U getuienisse is ook my verlustiging en my raadgewers. DALETH. My siel kleef aan die stof; maak my lewend volgens U woord. Ek het my weë bekend gemaak, en U het na my geluister; leer my u insettinge. Laat my die weg van U bevele verstaan; so sal ek van U wonders praat. My siel smelt van bedroefdheid; versterk my volgens U woord. Verwyder van my die weg van leuens, en gee my U wet genadiglik. Ek het die weg van die waarheid gekies, u oordele het ek voor my neergelê. Ek het vasgehou aan U getuienisse: o HERE, maak my nie beskaamd nie. Ek sal die weg van u gebooie loop as U my hart verruim.