PSALMS 119:1-40
PSALMS 119:1-40 Bybel vir almal (ABA)
Dit gaan goed met die mense wat heeltemal reg lewe, die mense wat lewe soos die Here vir hulle geleer het. Dit gaan goed met mense wat doen wat die Here sê en wat met hulle hele hart naby Hom wil wees. Hulle is ook mense wat nie verkeerde dinge doen nie en wat lewe soos die Here wil hê. U het self vir ons gesê wat ons moet doen, en ons moet dit presies so doen. Ek bid dat ek sal aanhou om te lewe soos u wette sê. Wanneer ek gehoorsaam is aan al u gebooie, dan sal ek altyd weet wat om te doen. Wat U besluit, is altyd reg. Wanneer ek dit geleer het, dan sal ek vir U dankie sê met my hele hart. Ek sal doen wat u wette sê, U moet my nie heeltemal alleen los nie. Wat moet jongmense doen sodat hulle kan weet hoe hulle moet lewe? Hulle moet doen wat U sê. Ek wil naby U wees met my hele hart, U moet keer dat ek nie ongehoorsaam is aan u gebooie nie. Ek dink altyd aan wat U gesê het, dit keer my dat ek nie sonde doen teen U nie. Here, ek prys U, U moet vir my leer wat u wette sê. Ek wil vir die mense alles sê wat U besluit het. Dit maak my bly om te lewe soos U sê, so bly soos wanneer 'n mens alles het wat hy nodig het. Ek sal dink aan wat U beveel het, ek sal goed luister na wat U wil hê. Ek sal altyd bly wees oor u wette, ek sal nie vergeet wat U gesê het nie. As U goed is vir my, u dienaar, dan sal ek lewe en ek sal doen wat U gesê het. U moet my oë oopmaak, sodat ek kan sien hoe wonderlik die dinge is wat U vir ons leer. Ek sal nie lank hier op die aarde wees nie, U moet vir my leer wat u gebooie sê. My hart is seer, want ek verlang altyd om te hoor wat U besluit het. U praat kwaai met die hoogmoedige mense, U het hulle vervloek. Hulle is die mense wat nie wil doen wat u gebooie sê nie. U moet keer dat mense my nie spot en verneder nie, want ek doen wat U sê. Ook wanneer belangrike mense saam planne maak teen my, dan sal ek, u dienaar, altyd aan u wette dink. Wat U sê, maak my bly, dit sê vir my wat ek moet doen. Wanneer dit sleg gaan met my, dan moet U my laat aanhou lewe, soos U gesê het. Toe ek vir U vertel het van my lewe, toe het U my geantwoord. U moet vir my leer wat u wette sê. U moet my help om te verstaan wat U beveel, sodat ek oor u wonderwerke kan dink. Ek smelt weg van die pyn, U moet my regop hou, soos U gesê het. U moet keer dat ek nie vals lewe nie, U moet genadig wees vir my en vir my leer. Ek het gekies om eerlik te lewe, ek het onthou wat U besluit het. Here, ek hou vas aan wat U sê, U moet my help om te weet wat ek moet doen. Ek wil graag lewe soos u gebooie sê, want U sal my help om dit te verstaan. U moet vir my leer wat u wette beteken, sodat ek altyd kan doen wat die wette sê. U moet my help om te verstaan, sodat ek kan doen wat U vir my leer en sodat ek daaraan gehoorsaam kan wees met my hele hart. U moet my laat lewe soos u gebooie sê, want dit is vir my lekker. U moet my help sodat ek graag sal wil doen wat U sê en nie sal kies om ryk te word nie. U moet my help sodat ek nie dinge wil hê wat niks beteken nie, U moet my laat lewe soos U wil hê. U moet vir my doen wat U belowe het, vir my, u dienaar, want U het dit belowe vir mense wat vir U dien. U moet keer dat mense my nie spot nie, ek is bang daarvoor, want wat U besluit, is goed. U moet dit weet, ek wil graag hoor wat U beveel, U sal reg doen en my laat aanhou lewe.
PSALMS 119:1-40 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WELGELUKSALIG is die opregtes van weg, wat in die wet van die HERE wandel. Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek; ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in sy weë wandel. Ú het u bevele gegee om dit trou te onderhou. Ag, was my weë maar vas om u insettinge te onderhou! Dan sal ek nie beskaamd staan as ek op al u gebooie let nie. Ek sal U loof in opregtheid van hart as ek u regverdige verordeninge leer. Ek sal u insettinge onderhou; verlaat my nie geheel en al nie. Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord. Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie. Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie. Lofwaardig is U, o HERE! Leer my u insettinge! Ek het met my lippe vertel al die verordeninge van u mond. Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerhande rykdom. Ek wil u bevele oordink en op u paaie let. Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie. Doen goed aan u kneg, sodat ek kan lewe; dan wil ek u woord bewaar. Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet. Ek is 'n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie. My siel vergaan van verlange na u verordeninge altyddeur. U dreig die vermeteles as gevloektes wat van u gebooie afdwaal. Wentel smaad en veragting van my af, want u getuienisse het ek bewaar. Al sit vorste en beraadslaag teen my — u kneg oordink u insettinge. Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne. My siel kleef aan die stof; maak my lewend na u woord. My weë het ek vertel, en U het my verhoor; leer my u insettinge! Laat my die weg van u bevele verstaan, dat ek u wonders kan oordink. My siel drup weg van kommer; rig my op na u woord. Verwyder van my die weg van leuens, en verleen my genadiglik u wet. Ek het die weg van waarheid verkies; u verordeninge het ek voor my gestel. Ek kleef u getuienisse aan; o HERE, maak my nie beskaamd nie! Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart. HERE, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar. Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte. Laat my wandel op die pad van u gebooie, want daarin het ek 'n behae. Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie. Wend my oë af, dat hulle geen nietigheid sien nie; maak my lewend in u weë. Vervul aan u kneg u belofte wat pas by u vrees. Wend my smaadheid af wat ek vrees, want u verordeninge is goed. Gewis, ek het 'n begeerte tot u bevele; maak my lewend deur u geregtigheid.
PSALMS 119:1-40 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here. Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam, dié wat met hulle hele hart sy wil doen, geen onreg pleeg nie en in sy weë wandel. U het u bevele gegee dat dit ten volle uitgevoer moet word. As ek tog maar net op 'n vaste koers kan bly en my aan u voorskrifte kan hou! As ek al u gebooie in ag neem, sal ek nooit raad-op wees nie. U bepalings is regverdig; as ek hulle ter harte neem, sal ek U loof met 'n opregte hart. Ek sal my aan u voorskrifte hou: moet my tog nooit verlaat nie. Hoe kan 'n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord! Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart, laat my nie afwyk van u gebooie nie. Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U. Aan U kom die lof toe, Here, leer my u voorskrifte. Al u bepalings wil ek een vir een opnoem. Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld. U bevele bly my altyd by. Ek gee ag op die pad wat U aanwys. Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie. Doen goed aan u dienaar, dan sal ek lewe en u woord gehoorsaam. Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van u wet ervaar. Hier op aarde is ek net op u beskerming aangewese: laat my tog nie sonder u gebooie wees nie. Ek kwyn weg van verlange na u bepalings. U straf die hovaardiges, die vervloektes wat van u gebooie afwyk. Keer tog dat ek nie beledig of gesmaad word nie, want ek kom u verordeninge na. Selfs al smee mense wat mag het, komplotte teen my, ek sal my hou aan wat U neergelê het. U verordeninge is my vreugde, hulle is my raadgewers. Ek verkeer in doodsgevaar, gee my nuwe lewe soos U in u woord beloof het. Ek het my lewensloop aan U bekend gemaak en U het my gebed verhoor; leer my u voorskrifte. Leer my hoe om u bevele uit te voer. Ek wil van u magtige dade vertel. Ek kwyn weg van kommer, skenk my krag soos U in u woord beloof het. Hou valsheid ver van my af, wees my genadig, leer my u wet. Ek kies die betroubare pad, ek lewe volgens u bepalings. Ek hou vas aan u verordeninge, Here, moet tog nie dat my lewe 'n teleurstelling word nie. Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam, want U verryk my lewe. Here, leer my hoe om u voorskrifte uit te voer, sodat ek my tot die einde toe daaraan kan hou. Gee my insig, dat ek u wet kan gehoorsaam en dit met my hele hart kan onderhou. Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde. U verordeninge, laat dié my na aan die hart lê, nie die begeerte om myself te verryk nie. Weerhou my van 'n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys. Vervul ook aan my die belofte wat U gegee het aan dié wat U dien. Die venyn van mense, daarvoor is ek bang, moenie dat dit my tref nie. Maar u bepalings, dié is goed. Ek wil u bevele nakom. Hou my in die lewe, want U is getrou.
PSALMS 119:1-40 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Gelukkig is mense wie se lewenspad onberispelik is en wat die wet van die HERE volg! Gelukkig is hulle wat hou by sy bepalings, wat Hom met hulle hele hart soek; wat ook nie onreg pleeg nie, maar net sy paaie volg! U het self u opdragte gegee, sodat mense dit noukeurig sal nakom. Ag, was my lewenspaaie maar standvastig, sodat ek u voorskrifte kon nakom. Dan sal ek nie beskaamd staan, terwyl ek op al u bevele let nie. Ek prys U met 'n opregte hart terwyl ek u regverdige beslissings bestudeer. U voorskrifte sal ek nakom; moet my tog nooit in die steek laat nie. Hoe sal 'n jongmens sy lewenspad suiwer hou? Deur te hou by u woord. Met my hele hart soek ek U; laat my tog nie afdwaal van u bevele nie. In my hart koester ek u woord, sodat ek nie teen U sondig nie. U moet geprys word, HERE! Leer my u voorskrifte! Met my lippe vertel ek van al die beslissings van u mond. Oor die pad van u bepalings is ek verheug soos oor enige rykdom. Oor u opdragte wil ek nadink; ek wil op u paaie let. In u voorskrifte vind ek vreugde; ek sal u woord nie vergeet nie. Wees goed vir u dienskneg, dan kan ek lewe en u woord nakom. Maak oop my oë, sodat ek die wonders uit u wet kan raaksien. Ek is 'n •vreemdeling op aarde; moet u bevele nie vir my verborge hou nie. My lewe kwyn die hele tyd weg van verlange na u beslissings. U bestraf vermeteles, die vervloektes, hulle wat van u bevele afdwaal. Verwyder bespotting en minagting van my, want by u bepalings hou ek. Selfs al sit leiers met mekaar en praat oor my – u dienskneg sal oor u voorskrifte bly nadink. Nog steeds is u bepalings my grootste vreugde; hulle is my raadgewers. My lewe kleef aan die stof; maak my weer lewend volgens u woord. Van my lewenspaaie het ek vertel, en U het my geantwoord; leer my u voorskrifte. Die pad van u opdragte – laat my dit verstaan, sodat ek oor u wonders kan nadink. My lewe vloei weg van verdriet; rig my op volgens u woord. Die pad van bedrog – neem dit van my weg; en u wet – gee dit genadiglik vir my. Die pad van eerlikheid het ek gekies; u beslissings hou ek voor oë. Ek hou aan u bepalings vas; HERE, laat my nie beskaamd staan nie. Die pad van u bevele volg ek geesdriftig, want U verruim my insig. HERE, onderrig my in die pad van u voorskrifte, sodat ek enduit daarby kan hou. Gee my insig, sodat ek by u wet kan hou, dit met my hele hart kan nakom. Begelei my op die pad van u bevele, want daarin vind ek vreugde. Laat my hart na u bepalings neig, en nie na winsbejag nie. Wend my oë daarvan af om na nuttelose dinge te staar; hou my lewend op u paaie. Doen u woord gestand aan u dienskneg – u woord wat ontsag wek vir U. Neem die bespotting wat ek vrees van my weg, want u beslissings is goed. Kyk, ek verlang na u opdragte; hou my lewend deur u •geregtigheid.
PSALMS 119:1-40 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
ALEPH. Geseënd is die onbesmette op die weg, wat in die wet van die HERE wandel. Geseënd is die wat sy getuienisse bewaar en Hom met die hele hart soek. Hulle doen ook geen onreg nie; hulle wandel in sy weë. U het ons beveel om U bevele nougeset te onderhou. Ag, was my weë gelyk om u insettinge te onderhou! Dan sal ek my nie skaam as ek na al U gebooie ag gee nie. Ek sal U loof met opregtheid van hart as ek U regverdige verordeninge leer ken het. Ek sal u insettinge onderhou; verlaat my nie heeltemal nie. BETH. Waarmee sal 'n jongman sy weg reinig? deur daarop ag te slaan volgens u woord. Met my hele hart het ek U gesoek; laat my nie van u gebooie afdwaal nie. Ek het u woord in my hart verberg, dat ek nie teen U sou sondig nie. Geseënd is U, HERE, leer my u insettinge. Met my lippe het ek al die oordele van U mond verkondig. Ek het my verheug oor die weg van U getuienisse, soveel as oor alle rykdom. Ek sal U bevele oordink en U weë ag. Ek sal my verlustig in U insettinge; U woord sal ek nie vergeet nie. GIMEL. Handel goed met U dienaar, dat ek kan lewe en U woord bewaar. Open my oë, dat ek wonders uit U wet kan aanskou. Ek is 'n vreemdeling op die aarde; verberg U gebooie nie vir my nie. My siel breek vanweë die verlange wat dit altyd na U oordele het. U het die hoogmoediges bestraf wat vervloek is, wat van U gebooie afdwaal. Verwyder smaad en veragting van my af; want ek het U getuienisse bewaar. Ook het vorste gesit en teen my gespreek, maar U dienaar het U insettinge oordink. U getuienisse is ook my verlustiging en my raadgewers. DALETH. My siel kleef aan die stof; maak my lewend volgens U woord. Ek het my weë bekend gemaak, en U het na my geluister; leer my u insettinge. Laat my die weg van U bevele verstaan; so sal ek van U wonders praat. My siel smelt van bedroefdheid; versterk my volgens U woord. Verwyder van my die weg van leuens, en gee my U wet genadiglik. Ek het die weg van die waarheid gekies, u oordele het ek voor my neergelê. Ek het vasgehou aan U getuienisse: o HERE, maak my nie beskaamd nie. Ek sal die weg van u gebooie loop as U my hart verruim. HY. Leer my, o HERE, die weg van U insettinge; en ek sal dit tot die einde toe bewaar. Gee my insig, en ek sal U wet onderhou; ja, ek sal dit met my hele hart onderhou. Laat my gaan op die pad van U gebooie; want daarin het ek 'n welbehae. Neig my hart tot U getuienisse en nie tot hebsug nie. Wend my oë af om nietigheid te aanskou; en maak my lewend op u weg. Bevestig U woord aan U dienaar, wat toegewyd is aan u vrees. Wend my smaad af wat ek vrees, want U oordele is goed. Kyk, ek verlang na U bevele; maak my lewend in U geregtigheid.
PSALMS 119:1-40 Die Boodskap (DB)
God hou baie van jou as jy presies doen wat Hy in die Bybel sê. God hou baie van jou as jy sy woorde diep in jou hart bêre en elke dag jou bes doen om Hom gelukkig te maak, ook as jy nie agter al wat sonde is, aanhardloop nie, maar alles doen wat Hy vir jou sê. God, U sê presies vir my hoe ek moet leef. Hoe wens ek nie dat ek elke oomblik kan doen wat U vra nie. Dan sal ek nie so skaam kry as ek lelike dinge doen nie. Here, diep uit my hart wil ek vir U sê dat U baie goed is; ek leer elke dag so baie oor U. Ek loof U. Ek sal alles doen wat U vir my sê. Moet my asseblief nooit alleen laat nie! Hoe kan ’n jongmens leef soos U wil hê? As hy alles doen wat U sê. Ek het net een doel: om U gelukkig te maak! Help my dat ek alles sal doen wat U wil hê. Moet asseblief nie dat ek u wonderlike pad misloop en begin sonde doen nie. U Woord is diep in die brandkluis van my hart weggebêre. Dit keer dat ek dinge doen waarvan U niks hou nie. Here, U is so wonderlik! Leer my hoe om alles te doen wat U van my vra. Ek sal alles oorvertel wat ek by U leer. Elke voorskrif wat van U af kom, maak my lewe vol blydskap; dit is baie meer werd as ’n groot sak vol geld. Ek sit ure aanmekaar en dink hoe ek U bly kan maak. U voorskrifte oor hoe ek moet leef, maak my baie opgewonde. Ek sal nie ’n enkele woord daarvan vergeet nie. Wees asseblief elke dag goed vir my, dan leef ek regtig! Dan sal ek nie ’n enkele sekonde van u pad afdwaal nie. Maak my oë oop sodat ek kan sien hoe wonderlik alles is wat U sê. Ek is glad nie belangrik nie; mense loop maklik bo-oor my. Dus kan ek dit nie bekostig om ’n enkele oomblik sonder U te leef nie. My enigste wens is om te doen wat U vra. U hou niks van mense wat nie doen wat U sê nie, U gooi hulle eenkant toe; vir altyd! Moenie dat slegte mense my onderstebo loop nie. Onthou tog dat ek u Woord in my hart gebêre het. Mense wil my tot ’n val bring, maar onthou asseblief hoe lief ek u Woord het. U Woord maak my lewe vol blydskap; dit wys my hoe om elke dag te leef. My lewe is nie veel werd nie. Gee asseblief vir my nuwe lewe; daardie soort lewe wat U in die Bybel beloof. Ek het vir U kom vertel hoe swaar dit met my gaan. U het geluister en my gehelp; leer my nou om te doen wat U sê. Leer my om die volle rykdom van u voorskrifte goed te verstaan. Ek wil heeltyd daaroor dink. My lewe is vol bekommernis. Help my tog om u hand styf vas te hou. En gee vir my krag. Keer dat ek leuens vertel en op ’n oneerlike manier leef. Skryf u wet diep in my hart. Doen goed aan my. Ek het gekies om op u pad te stap, dis die pad na die lewe toe. U voorskrifte is soos padwysers; dit wys my hoe om te leef. Here, ek hou vas aan elke woord wat U sê. Moenie dat ek U ooit in die steek laat nie. Ek is gretig om elke dag op u pad te stap, want U maak my lewe vol met u goedheid. Here, wys my wat U van my verwag, dan sal ek tot aan die einde van my lewe net doen wat U vra. Verander my manier van dink; maak my gedagtes vol met u wet! Dan sal ek heeltyd doen wat U sê. Laat my elke dag op die pad loop wat U voorskryf, want dit maak my baie gelukkig. Help my om net aan U te dink sodat ek nie agter geld aanhardloop nie. Keer dat ek na dinge kyk waarvan U niks hou nie. Om te leef soos U wil hê; dis al wat ek vra! Maak dit wat U in die Bybel aan u kinders beloof waar in my lewe. Keer tog dat mense lelike dinge vir my sê. Mense kan so venynig wees. Laat my net daardie dinge hoor wat U wil hê ek moet doen. Daar’s net een begeerte in my hart: om te doen wat U sê. Beskerm my, want U doen wat U belowe.
PSALMS 119:1-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Geseënd is hulle wat opreg lewe, wat leef volgens die gebooie van die HERE. Geseënd is hulle wat sy waarskuwings gehoorsaam, Hom met volle oorgawe dien, nie onreg pleeg nie en op sy paaie wandel. U het ons opdrag gegee om u bevele noukeurig te onderhou. Mag my optrede voortdurend weerspieël dat ek u voorskrifte wil nakom. Dan sal ek nie tot skande kom as ek maar net my oë op al u gebooie hou nie. Wanneer ek u regverdige bepalings bestudeer, wil ek U dank met ’n opregte hart. U voorskrifte sal ek nakom; moet my net nie verlaat nie! Hoe kan ’n jongmens ’n skoon lewe lei? Deur sy lewe in te rig volgens u woord. Met my hele hart soek ek U; moenie dat ek afdwaal van u gebooie nie. Ek het u woord in my hart gebêre sodat ek nie teen U sou sondig nie. Geseënd is U, o HERE; leer my u voorskrifte. Die bepalings van u mond het ek met my lippe bekendgemaak. In u voorwaardes het ek my verlustig soos ’n mens bly is oor rykdom. Ek wil oor u bevele nadink en let op u weë. Ek sal my verbly in u voorskrifte en u woord nie vergeet nie. Wees goed vir u dienaar sodat ek mag lewe en u woord gehoorsaam. Maak oop my oë sodat ek die wonders kan sien wat opgeskryf is in u gebooie. Al is ek net ’n vreemdeling op aarde, moenie u gebooie van my weghou nie. Ek word voortdurend verteer deur ’n begeerte na u bepalings. U bestraf trotsaards en vervloektes wat afdwaal van u gebooie. Weer smaad en belediging van my, want ek gehoorsaam u waarskuwings. Al sit en praat heersers saam teen my, sal ek u voorskrifte oordink. U waarskuwings is beslis my vreugde; dit gee my goeie raad. Ek lê in die stof, op pad na die graf; laat my herlewe volgens u woord. My optrede het ek bekendgemaak, en U het geantwoord. Leer my nou u voorskrifte. Leer my verstaan die betekenis van u bevele, sodat ek u wonders kan oordink. Ek huil van droefheid; versterk my soos U in u woord beloof. Bewaar my van leuenagtige weë; leer my in genade u gebooie. Ek het die betroubare pad gekies; ek lewe volgens u bepalings. Ek hou vas aan u voorwaardes, HERE. Moenie dat ek in skande kom nie! Ek sal die pad van u gebooie navolg, want U sal my begrip verbreed. Leer my, HERE, hoe om u voorskrifte uit te voer sodat ek hulle tot die einde toe kan nakom. Gee vir my insig dat ek kan leef volgens u gebooie, en dit van harte gehoorsaam. Laat my wandel volgens u gebooie, want dis waarin ek vreugde vind. Laat my verlang na wat U vereis; verhoed dat ek materialisties word. Weerhou my van waardelose dinge; laat my lewe volgens u voorskrifte. Bevestig opnuut aan my u belofte, wat bedoel is vir hulle wat U dien. Neem weg die smaad wat ek vrees, want u bepalings is goed. Ek verlang van harte na u bevele. Laat my lewe deur u geregtigheid.