PSALMS 116:1-10
PSALMS 116:1-10 Bybel vir almal (ABA)
Ek is lief vir die Here, want Hy luister wanneer ek tot Hom bid, wanneer ek vra dat Hy my moet help. Want Hy luister wanneer ek bid, daarom sal ek tot Hom bid so lank soos ek lewe. Bande van die dood was rondom my, ek was bang om na die doderyk te gaan, dit het sleg gegaan met my, ek het baie swaar gekry. Toe het ek tot die Here gebid en geroep: “Here, asseblief, red my lewe!” Die Here is genadig, Hy doen reg, ons God is goed vir mense wat swaarkry. Hy beskerm jongmense wat baie min weet, Hy het my gered toe ek moedeloos was. Ek moet nou ophou om bekommerd te wees, want die Here het goeie dinge gedoen aan my. Ja, U het gekeer sodat ek nie sterf nie, U het my gehelp, en ek het opgehou huil, U het gekeer sodat ek nie val nie. Nou lewe ek naby die Here tussen mense wat lewe. Ek het aangehou om te glo dat die Here my sal help, ook toe ek gedink het dat dit baie sleg gaan met my.
PSALMS 116:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EK het lief, want die HERE hoor my stem, my smekinge, want Hy het sy oor tot my geneig; daarom sal ek Hom in my dae aanroep. Bande van die dood het my omring, en angste van die doderyk het my getref; ek het benoudheid en kommer gevind. Maar ek het die Naam van die HERE aangeroep: Ag, HERE, red my siel. Die HERE is genadig en regverdig, en onse God is 'n ontfermer. Die HERE bewaar die eenvoudiges; ek het swak geword, maar Hy het my gehelp. My siel, keer terug tot jou rus; want die HERE het goed aan jou gedoen. Want U het my siel gered van die dood, my oog van trane, my voet van struikeling. Ek sal wandel voor die aangesig van die HERE in die lande van die lewendes. Ek het geglo toe ek gespreek het: Ék is diep neergebuig.
PSALMS 116:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede. Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het. Bande van die dood het my omsluit, doodsangs het my aangegryp, ek het benoud en bekommerd geword. Toe het ek die Naam van die Here aangeroep: “Here, red my tog!” Die Here is genadig en regverdig, ons God ontferm Hom oor ons. Die Here beskerm die hulpeloses: ek was magteloos, maar Hy het my gered. Ek moet nou tot rus kom, die Here het goed aan my gedoen: U het my van die dood gered, U het 'n einde gemaak aan my trane, U het gesorg dat ek nie weer struikel nie. Ek kon voor die Here bly wandel in die land van die lewendes. Ek het in U bly glo, selfs toe ek gedink het dit is klaar met my
PSALMS 116:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek het die HERE lief, want Hy luister na my stem, my smeekgebed; ja, Hy draai sy oor na my, en solank ek leef, sal ek Hom aanroep. Bande van die dood het my omsluit; angste van die •doderyk het my oorval; benoudheid en bekommernis het ek ervaar. Toe het ek die Naam van die HERE bly aanroep: “Ag, HERE, red tog my lewe!” Genadig is die HERE en regverdig; ons God is barmhartig. Die HERE beskerm onkundiges; ek is nietig, maar Hy het my verlos. Kom weer tot rus, my •siel, want die HERE het goed gedoen aan jou. Ja, U het my lewe van die dood gered, my oë van trane, my voete van struikeling. Ek mag leef in die teenwoordigheid van die HERE, in die land van die lewendes. Ek het bly glo, selfs toe ek gesê het: “Ek is swaar beproef.”
PSALMS 116:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek het die HERE lief, want Hy het my stem en my smekinge gehoor. Omdat hy sy oor tot My geneig het, daarom sal ek hom aanroep so lank as wat ek lewe. Die smarte van die dood het my omsingel, en die smarte van die doderyk het my aangegryp; ek het benoudheid en droefheid gevind. Toe het ek die Naam van die HERE aangeroep; O HERE, red tog my siel. Genadig is die HERE en regverdig; ja, ons God is genadig. Die HERE bewaar die eenvoudiges: ek is verneder, en Hy het my gehelp. Keer terug na jou rus, o my siel! want die HERE het goed aan jou gedoen. Want U het my siel gered van die dood, my oë van trane en my voete van val. Ek sal voor die aangesig van die HERE wandel in die land van die lewendes. Ek het geglo, daarom het ek gespreek: Ek was baie verdruk
PSALMS 116:1-10 Die Boodskap (DB)
Ek het die Here baie lief. Hy help my as ek Hom baie mooi vra. Hy het mooi na my geluister. Daarom sal ek tot Hom bid so lank as wat ek lewe. Ek het so amper doodgegaan. Ek het al paniekerig daaroor begin word. Ek was doodsbenoud en bekommerd. Maar toe het ek ernstig tot die Here gebid. Ek het by Hom gepleit: “Ag, Here, spaar tog my lewe.” Die Here was baie goed vir my. Hy sorg dat reg aan my gedoen word. Ons God het my soos ’n ma in sy liefde toegevou. Die Here beskerm mense wat aan die einde van hulle kragte gekom het. Ek was in so ’n situasie. Toe ek op my swakste was, het Hy my gehelp. Ek het toe vir myself gesê: “Jy kan ontspan. Wees rustig. Die Here was baie goed vir jou.” Ja, U het my lewe gespaar. U het my getroos. U het gekeer dat ek ondergaan. Daarom sal ek saam met die Here lewe tussen almal wat nog leef. Ek het die Here vertrou toe ek gedink het ek kry baie swaar. Ek het gedink dis klaar met my.
PSALMS 116:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek het die HERE lief, want Hy antwoord my smeekgebed. Omdat Hy na my geluister het, sal ek Hom aanroep solank ek lewe. Bande van die dood het my omring, angs van die doderyk het my oorval. Vrees en verdriet het my oorweldig. Toe roep ek die HERE se Naam aan: “HERE, red my tog!” Die HERE is genadig en regverdig. Ons God bewys barmhartigheid. Die HERE beskerm die eenvoudiges. Ek was in nood, maar Hy het my gered. Nou kan ek weer gerus wees, want die HERE was goed vir my. U het my van die dood gered, my oë van trane bevry, my voete van struikeling weerhou. Daarom wandel ek voor die HERE in die land van die lewendes. Ek het geglo toe ek gesê het: “Ek is in groot ellende.”