PSALMS 106:32-48

PSALMS 106:32-48 Bybel vir almal (ABA)

Die volk het die Here kwaad gemaak by die Meriba-water, en dit het sleg gegaan met Moses omdat hulle dit gedoen het. Hulle het Moses baie kwaad gemaak, hy het nie gedink wat hy sê nie, en hy het dinge gesê wat baie verkeerd was. Die Here het vir die volk gesê hulle moet die volke wat heidene was, almal doodmaak, maar hulle het dit nie gedoen nie. Hulle het met heidene getrou en hulle het geleer om te doen wat die heidene doen. Hulle het die heidene se afgode begin dien, en dit het hulle vasgevang soos 'n vangstrik 'n voël vasvang. Hulle het hulle seuns en hulle dogters vir die veldgode ge-offer. Hulle het onskuldige mense vermoor, hulle het hulle eie seuns en dogters ge-offer vir die afgode van Kanaän. Hulle het die land vuil gemaak met bloed. Hulle het onrein geword oor die dinge wat hulle gedoen het, hulle was ontrou aan God, hulle het baie verkeerde dinge gedoen. Die Here het baie kwaad geword vir sy volk, Hy het nie meer gehou van die mense wat aan Hom behoort nie. Toe het Hy sy volk vir die heidene gegee, sodat die heidene oor hulle kon regeer, die heidene wat vir hulle gehaat het. Die volk se vyande het hulle verdruk en laat swaarkry. Die Here het hulle baie maal gered, maar hulle het besluit om opstandig te bly, hulle het altyd meer verkeerde dinge gedoen. Die Here het gesien dat dit sleg gaan met hulle en Hy het gehoor hoe hulle soebat dat Hy hulle moet help. Hy het toe gedink aan sy verbond met hulle en Hy het dit beter laat gaan met hulle, Hy het onthou dat hulle sý mense is. Hy het hulle vyande se harte verander, die vyande wat vir hulle gevang en weggevat het. Die vyande was toe jammer vir die volk van die Here. Ons God die Here, U moet ons red, U moet ons bymekaarmaak tussen die volke, sodat ons u heilige Naam kan sê en vir U dankie kan sê, sodat ons dit sal geniet om U te prys. Almal moet die Here, die God van Israel, prys, hulle moet Hom altyd en altyd prys. En die hele volk moet sê: Amen. Julle moet die Here prys!

PSALMS 106:32-48 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Hulle het Hom ook vertoorn by die waters van Mériba, en dit het met Moses sleg gegaan om hulle ontwil; want hulle was wederstrewig teen sy Gees, sodat hy onverskillig gepraat het met sy lippe. Hulle het die volke nie verdelg soos die HERE aan hulle gesê het nie, maar hul met die heidene vermeng en hulle werke geleer. En hulle het hulle afgode gedien, en dit het vir hulle 'n strik geword. Bowendien het hulle hul seuns en hul dogters aan die duiwels geoffer en onskuldige bloed vergiet — die bloed van hul seuns en hul dogters wat hulle aan die afgode van Kanaän geoffer het — sodat die land deur bloedskuld ontheilig is. En hulle het onrein geword deur hul werke en gehoereer deur hul dade. Toe het die toorn van die HERE ontvlam teen sy volk, en Hy het 'n afsku gekry van sy erfdeel. En Hy het hulle in die hand van die heidene gegee, en hulle haters het oor hulle geheers; en hulle vyande het hulle verdruk, sodat hulle onder hul hand moes buig. Hy het hulle baiekeer gered; maar húlle was wederstrewig in hulle voorneme. So het hulle dan weggesink deur hul ongeregtigheid. Nogtans het Hy hulle benoudheid aangesien toe Hy hulle smeking gehoor het; en Hy het tot hulle beswil aan sy verbond gedink en berou gekry na die veelheid van sy goedertierenhede. En Hy het hulle medelyde laat vind by almal wat hulle as gevangenes weggevoer het. Verlos ons, HERE onse God, en versamel ons uit die nasies, dat ons u heilige Naam kan loof en ons beroem in u lof! Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! En laat die hele volk sê: Amen. Halleluja!

PSALMS 106:32-48 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die volk het die Here se toorn by die Meribawaters laat ontvlam, en Moses het die wrange vrugte van hulle optrede gepluk: hulle het hom so verbitterd laat raak dat hy onbesonne dinge gesê het. Hulle het nie die ander volke uitgeroei soos die Here hulle beveel het nie, maar hulle met die heidene vermeng en húlle praktyke aangeleer: hulle het die afgode van die heidene begin dien en daarin verstrik geraak. Hulle het hulle seuns en dogters aan veldduiwels geoffer en onskuldige bloed vergiet, die bloed van hulle seuns en dogters wat hulle aan die afgode van Kanaän geoffer het. So is die land met bloed bevlek. Die volk het hulle verontreinig deur hulle optrede en het troubreuk gepleeg deur hulle dade. Die toorn van die Here het teen sy volk ontvlam, Hy het 'n weersin gekry in die volk wat aan Hom behoort en hulle aan heidene oorgegee, sodat hulle haters oor hulle geheers het. Hulle vyande het hulle verdruk en hulle onder hulle gesag laat buig. Talle kere het die Here sy volk gered, maar hulle het opstandig gebly en dieper in hulle sonde weggesink. Tog het Hy sy oë nie vir hulle nood gesluit nie; Hy het hulle smeekgebede verhoor. Ter wille van hulle het Hy aan sy verbond gedink, en in sy groot liefde was Hy genadig. Hy het hulle medelye laat vind by dié wie se gevangenes hulle was. Red ons, Here ons God, maak ons bymekaar tussen die volke uit, dat ons u heilige Naam kan loof en ons in u lof kan verheug. Aan die Here die God van Israel kom die lof toe tot in die allerverste toekoms. Die hele volk moet sê: “Amen! Prys die Here!”

PSALMS 106:32-48 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

By die water van Meriba het hulle Hom vertoornd gemaak en deur hulle toedoen het dit sleg afgeloop vir Moses – omdat hulle teen God se Gees in opstand was, het onbesonne woorde oor sy lippe gekom. Hulle het nie die volke uitgeroei wat die HERE vir hulle aangedui het nie. Hulle het met die nasies vermeng geraak en hulle gebruike aangeleer. Hulle het hulle afgode gedien, en dit het vir hulle 'n valstrik geword. Hulle het hulle seuns en dogters aan demone geoffer en so onskuldige bloed vergiet, die bloed van hulle seuns en dogters wat hulle vir die afgode van Kanaän geoffer het. Die land is deur bloedskuld besoedel. Hulle het •onrein geword deur daardie gebruike; hulle het troubreuk gepleeg deur hulle dade. Die toorn van die HERE het teen sy volk ontbrand; Hy het 'n weersin gekry in sy erfdeel en hulle oorgegee in die hand van nasies, sodat hulle haters oor hulle geheers en hulle vyande hulle geteister het; hulle moes buig onder hulle hand. Baie kere het Hy hulle gered, maar hulle was doelbewus opstandig en het in hulle sondeskuld weggesink. Tog het Hy hulle nood raakgesien telkens wanneer Hy hulle klaagroep hoor. Om hulle ontwil het Hy aan sy verbond gedink, en Hy het hulle jammer gekry uit die oorvloed van sy troue liefde. Hy het gesorg dat daar ontferming is by almal wat hulle weggevoer het. Verlos ons, HERE ons God! Bring ons uit die nasies bymekaar sodat ons u •heilige Naam kan prys, sodat ons kan roem op die lof wat U toekom. Lofwaardig is die HERE, die God van Israel, van ewigheid af en vir ewig. Die hele volk moet sê: “•Amen! Halleluja!”

PSALMS 106:32-48 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Hulle het Hom ook kwaad gemaak oor die waters van twis, sodat dit met Moses siek gegaan het om hulle ontwil. Omdat hulle sy gees geterg het, sodat hy met sy lippe onverstandig gepraat het. Hulle het die nasies nie vernietig oor wie die HERE hulle beveel het nie. Maar hulle het onder die heidene vermeng en hulle werke geleer. En hulle het hul drekgode gedien, wat vir hulle 'n strik was. Ja, hulle het hulle seuns en hulle dogters aan duiwels geoffer, En het onskuldige bloed vergiet, die bloed van hulle seuns en van hulle dogters, wat hulle aan die drekgode van Kanaän geoffer het, en die land is met bloed besoedel. So is hulle dan met hul eie werke verontreinig en met hul eie versinsels gehoereer. Daarom het die toorn van die HERE teen Sy volk ontvlam, sodat Hy 'n afsku gehad het van sy eie erfdeel. En Hy het hulle in die hand van die heidene gegee; en die wat hulle haat, het oor hulle geheers. Hulle vyande het hulle ook verdruk, en hulle is onder hulle hand onderwerp. Hy het hulle baie keer verlos; maar hulle het hom geterg met hul raad en is verneder deur hul ongeregtigheid. Maar hy het hulle ellende gesien toe hy hulle geroep hoor: En Hy het vir hulle aan sy verbond gedink en hom bekeer volgens die grootheid van sy barmhartighede. Hy het hulle ook bejammer gemaak oor almal wat hulle as gevangenes weggevoer het. Verlos ons, HERE onse God, en versamel ons onder die nasies, om U Heilige Naam te loof en te triomfeer in U lof. Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid, en laat die hele volk sê: Amen! Prys die HERE.

PSALMS 106:32-48 Die Boodskap (DB)

Daar by die fonteine van Meriba het die volk die Here weer kwaad gemaak, selfs Moses het gely onder hulle sonde. Omdat hulle vir die soveelste keer ongehoorsaam aan God was, het Moses kwaad geword en dinge gesê wat hy nie moes sê nie. Hulle het nie die goddelose volke uitgeroei soos die Here vir hulle gesê het om te doen nie, maar links en regs met ongelowiges begin trou. Kort voor lank het hulle net soos hierdie mense begin leef. Hulle het selfs hierdie mense se afgode aanbid en vasgevang geraak in afgodery. Hulle het hulle kinders geoffer op die altare van die duiwels. Hulle het onskuldige kindertjies doodgemaak, hulle eie seuns en dogters is aan Kanaän se dooie gode geoffer. Die hele land is met onskuldige bloed besoedel. Wat hulle gedoen het, het die Here gewalg. Soos sedelose vroue het hulle agter elke nuwe sonde op die mark aangehardloop. Toe het die Here baie kwaad geword vir sy volk. Hy wou niks meer met sy eie mense te doen hê nie. Hy het toegelaat dat hulle vyande bo-oor hulle loop, hulle is swaar verdruk deur hulle nuwe heersers. Hulle vyande het geen genade geken nie, hulle het Israel baie swaar laat ly. Keer op keer het God sy volk uit die gemors kom haal, maar hulle wou eenvoudig nie voor Hom buig nie, hulle het net al hoe dieper in hulle sonde weggesink. Maar God het gesien hoe swaar hulle kry, Hy het geluister as hulle Hom smeek om hulle te kom help. Hy het onthou dat Hy sy ooreenkoms met hulle gemaak het. Omdat sy hart oorloop van goedheid, het Hy sy hand weer na hulle toe uitgesteek. Hy het gemaak dat hulle verdrukkers hulle jammer gekry het. Ag, Here ons God, kom help ons tog! Kom haal ons hier tussen die nasies uit sodat ons u heilige Naam kan loof en bly kan wees oor al u goedheid! Die Here, die God van Israel, moet geloof word, nou en vir altyd. Laat die hele volk sê: “Amen! Dit is waar! Prys die Here!”

PSALMS 106:32-48 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

By die waters van Meriba het hulle die HERE kwaad gemaak, en so het hulle vir Moses ernstige probleme besorg. Hulle het hom opstandig gemaak sodat hy onbesonne dinge gesê het. Israel het nie die nasies uitgeroei soos die HERE hulle beveel het nie en het eerder met die nasies vermeng en hulle bose gewoontes aangeleer. Hulle het die nasies se afgode vereer, en dit het vir hulle ’n strik geword. Hulle het hulle seuns en dogters aan demone geoffer. Hulle het onskuldige bloed vergiet, bloed van hulle seuns en dogters wat hulle geoffer het aan die afgodsbeelde van Kanaän, en so die land met bloed bevlek. Hierdie dade het hulle onrein gemaak, net soos iemand wat egbreuk pleeg. Die HERE se toorn het teen sy volk ontbrand, en Hy het sy eie volk verafsku. Hy het hulle oorgegee aan die nasies; hulle haters het oor hulle geheers. Hulle vyande het hulle verdruk en aan hulle mag onderwerp. Baie kere het Hy sy volk verlos, maar hulle het opstandig gebly en verder in hulle sondes weggesink. Tog het Hy hulle ellende raakgesien, en geluister na hulle hulpgeroep. Hy het gedink aan sy verbond met hulle, en Hy was genadig op grond van sy onfeilbare liefde. Hy het bewerk dat hulle veroweraars hulle met medelye behandel het. HERE ons God, red ons! Versamel ons weer uit die nasies sodat ons u heilige Naam kan prys, in U bly kan wees, en U kan loof. Geseënd is die HERE, God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! Laat die hele volk sê: “Amen!” Prys die HERE!