Psalms 106:32-48

Psalms 106:32-48 ABA

Die volk het die Here kwaad gemaak by die Meriba-water, en dit het sleg gegaan met Moses omdat hulle dit gedoen het. Hulle het Moses baie kwaad gemaak, hy het nie gedink wat hy sê nie, en hy het dinge gesê wat baie verkeerd was. Die Here het vir die volk gesê hulle moet die volke wat heidene was, almal doodmaak, maar hulle het dit nie gedoen nie. Hulle het met heidene getrou en hulle het geleer om te doen wat die heidene doen. Hulle het die heidene se afgode begin dien, en dit het hulle vasgevang soos 'n vangstrik 'n voël vasvang. Hulle het hulle seuns en hulle dogters vir die veldgode ge-offer. Hulle het onskuldige mense vermoor, hulle het hulle eie seuns en dogters ge-offer vir die afgode van Kanaän. Hulle het die land vuil gemaak met bloed. Hulle het onrein geword oor die dinge wat hulle gedoen het, hulle was ontrou aan God, hulle het baie verkeerde dinge gedoen. Die Here het baie kwaad geword vir sy volk, Hy het nie meer gehou van die mense wat aan Hom behoort nie. Toe het Hy sy volk vir die heidene gegee, sodat die heidene oor hulle kon regeer, die heidene wat vir hulle gehaat het. Die volk se vyande het hulle verdruk en laat swaarkry. Die Here het hulle baie maal gered, maar hulle het besluit om opstandig te bly, hulle het altyd meer verkeerde dinge gedoen. Die Here het gesien dat dit sleg gaan met hulle en Hy het gehoor hoe hulle soebat dat Hy hulle moet help. Hy het toe gedink aan sy verbond met hulle en Hy het dit beter laat gaan met hulle, Hy het onthou dat hulle sý mense is. Hy het hulle vyande se harte verander, die vyande wat vir hulle gevang en weggevat het. Die vyande was toe jammer vir die volk van die Here. Ons God die Here, U moet ons red, U moet ons bymekaarmaak tussen die volke, sodat ons u heilige Naam kan sê en vir U dankie kan sê, sodat ons dit sal geniet om U te prys. Almal moet die Here, die God van Israel, prys, hulle moet Hom altyd en altyd prys. En die hele volk moet sê: Amen. Julle moet die Here prys!