By die water van Meriba het hulle Hom vertoornd gemaak en deur hulle toedoen het dit sleg afgeloop vir Moses – omdat hulle teen God se Gees in opstand was, het onbesonne woorde oor sy lippe gekom. Hulle het nie die volke uitgeroei wat die HERE vir hulle aangedui het nie. Hulle het met die nasies vermeng geraak en hulle gebruike aangeleer. Hulle het hulle afgode gedien, en dit het vir hulle 'n valstrik geword. Hulle het hulle seuns en dogters aan demone geoffer en so onskuldige bloed vergiet, die bloed van hulle seuns en dogters wat hulle vir die afgode van Kanaän geoffer het. Die land is deur bloedskuld besoedel. Hulle het •onrein geword deur daardie gebruike; hulle het troubreuk gepleeg deur hulle dade. Die toorn van die HERE het teen sy volk ontbrand; Hy het 'n weersin gekry in sy erfdeel en hulle oorgegee in die hand van nasies, sodat hulle haters oor hulle geheers en hulle vyande hulle geteister het; hulle moes buig onder hulle hand. Baie kere het Hy hulle gered, maar hulle was doelbewus opstandig en het in hulle sondeskuld weggesink. Tog het Hy hulle nood raakgesien telkens wanneer Hy hulle klaagroep hoor. Om hulle ontwil het Hy aan sy verbond gedink, en Hy het hulle jammer gekry uit die oorvloed van sy troue liefde. Hy het gesorg dat daar ontferming is by almal wat hulle weggevoer het. Verlos ons, HERE ons God! Bring ons uit die nasies bymekaar sodat ons u •heilige Naam kan prys, sodat ons kan roem op die lof wat U toekom. Lofwaardig is die HERE, die God van Israel, van ewigheid af en vir ewig. Die hele volk moet sê: “•Amen! Halleluja!”
Lees Psalms 106
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Psalms 106:32-48
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's