PSALMS 104:24-32
PSALMS 104:24-32 Die Boodskap (DB)
Daar is baie dinge wat U gemaak het, Here! U het alles gemaak omdat U weet hoe. U het die aarde met u hande gemaak. Kyk net hoe groot en uitgestrek is die see. Onder in die water is daar duisende derduisende seediere, grotes en kleintjies, noem maar op. Bo-op die water seil groot skepe rond, terwyl seemonsters onder in die water speel. Almal is van U afhanklik. U gee vir almal kos op die regte tyd. U sorg dat hulle kan eet. Hulle kom dit net by U haal. U gee genoeg sodat almal daarvan vol kan word. Wanneer U ophou gee, is mens en dier in die moeilikheid. Hulle lewe is in u hande. U laat hulle ook doodgaan. Met u krag het hulle in die wêreld gekom. Dis U wat nuwe lewe uit die grond laat opkom. U laat groenigheid uitspruit. Mag mense die Here altyd bewonder! Mag die Here alles wat Hy gemaak het, geniet! Die Here is so sterk. Hy kyk net na die aarde, dan begin dit bewe. Hy vat net aan die berge, dan raak dit aan die brand.
PSALMS 104:24-32 Bybel vir almal (ABA)
Here, U het baie dinge gemaak, ons sien u wysheid in alles wat U gemaak het. Die aarde is vol van alles wat U gemaak het. Daar is die see, dit is groot en wyd, daar is baie seediere, groot en klein, hulle swem daar rond. Daar seil baie skepe, en die Leviatan swem daar. U het hom gemaak, U speel daar met hom. Almal wag vir U om vir hulle kos te gee op die regte tyd. U gee die kos, en hulle eet, U maak u hand oop, en hulle kry meer as genoeg. Wanneer U wegkyk, dan word hulle bang, wanneer U die asem wegneem wat U vir hulle gegee het, dan sterf hulle en dan word hulle weer stof. Die asem wat U gee, laat hulle lewe, U maak die aarde nuut. Ons bid dat die Here altyd Koning sal wees, en dat Hy altyd bly sal wees oor alles wat Hy gemaak het. Wanneer die Here na die aarde kyk, dan bewe die aarde, wanneer Hy aan die berge raak, dan kom daar rook uit hulle.
PSALMS 104:24-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele! Daar is die see, groot en alkante toe wyd — daar is 'n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes. Daar gaan die skepe en die Leviátan wat U geformeer het om daarin te speel. Hulle almal wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd. U gee dit aan hulle, hulle tel dit op; U maak u hand oop, hulle word versadig met die goeie. U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof. U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut. Laat die heerlikheid van die HERE vir ewig wees, laat die HERE bly wees oor sy werke, Hy wat die aarde aankyk, en dit bewe; Hy raak die berge aan, en hulle rook.
PSALMS 104:24-32 Afrikaans 1983 (AFR83)
U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep. Daar is die see, groot en wyd, wat wemel van diere, klein en groot. Daar vaar die skepe, en daar is die Leviatan. U het hom gemaak om mee te speel. Hulle is almal van U afhanklik, U gee hulle kos op hulle tyd. U gee, en hulle eet, U maak u hand oop, en hulle kry meer as genoeg. Maar as U U terugtrek, is dit klaar met hulle, as U hulle asem wegneem, is hulle dood en word hulle weer stof. U gee die lewensasem en daar is lewe; ook uit die grond laat U nuwe lewe spruit. Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie! Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf, Hy wat na die aarde kyk, en dit bewe, wat die berge aanraak, en hulle brand.
PSALMS 104:24-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hoe talryk is u werke, HERE! Alles is met wysheid deur U gemaak; die aarde is vol van wat aan U behoort. Daar is die see, groot en na alle kante uitgestrek! Daar wemel dit van ontelbare diere, klein en groot; daar vaar die bote, en die Leviatan wat U gemaak het om daarin te speel. Hulle almal sien op na U om vir hulle kos te gee op tyd. Gee U vir hulle, raap hulle dit op; maak U u hand oop, word hulle versadig met wat goed is. Verberg U u gesig, is hulle angsbevange; neem U hulle asem weg, vergaan hulle en keer terug na die stof wat hulle was. Stuur U u asem, word hulle geskape. U gee die oppervlak van die grond 'n nuwe voorkoms. Mag die majesteit van die HERE vir ewig duur; mag die HERE Hom verheug in sy werke, Hy wat na die aarde kyk en dit bewe, wat aan die berge raak, en hulle rook.
PSALMS 104:24-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
O HERE, hoe veelvuldig is U werke! met wysheid het U hulle almal gemaak: die aarde is vol van U rykdom. So is hierdie groot en wye see waarin ontelbare kruipende diere is, klein sowel as groot diere. Daar gaan die skepe: daar is daardie Leviatan wat jy gemaak het om daarin te speel. Hulle wag almal op jou; dat U hulle voedsel op die regte tyd kan gee. Wat U aan hulle gee, maak hulle bymekaar; U maak U hand oop, hulle word versadig met goed. U verberg U aangesig, hulle is ontsteld; U slaan hulle asem weg, hulle sterf en keer terug na hul stof. U stuur U Gees uit, hulle is geskape, en U vernuwe die aangesig van die aarde. Die heerlikheid van die HERE sal tot in ewigheid bestaan; die HERE sal juig in sy werke. Hy kyk na die aarde, en dit sidder; Hy raak die heuwels aan, en hulle rook.
PSALMS 104:24-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
HERE, hoe baie is u werke! U het alles met wysheid gemaak. Die aarde is vol van u skepsels. Daar is die oseaan, groot en wyd. Dit wemel van diere, lewende wesens, groot en klein. Daar is die skepe wat oral rondvaar; en ook die Leviatan, wat U gemaak het om mee te speel. Elkeen van hulle reken op U om kos te gee volgens behoefte. U gee vir hulle, hulle versamel dit. U maak u hand oop, met die goeie word hulle versadig. As U U onttrek, is hulle verskrik. Neem U hulle asem weg, dan sterf hulle en word weer stof. U stuur u lewensasem, en lewe word geskep. Uit die grond laat U nuwe lewe spruit. Mag die heerlikheid van die HERE vir altyd duur! Mag die HERE Hom verheug in al sy werke! Hy kyk na die aarde, en dit skud; Hy raak aan die berge, en dit brand.