PSALMS 104:1-23
PSALMS 104:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek wil die HERE prys! HERE my God, hoe geweldig groot is U! U is beklee met majesteit en eer, bedek met ’n mantel van lig. U span die hemelkoepel soos ’n tent; U bou u woning in die waters daarbo. U maak die wolke u strydwa. U ry op die vlerke van die wind. Die winde is u boodskappers, die weerligstrale u dienaars. U vestig die aarde op sy fondamente sodat dit nooit sal bewe nie. Diepwaters het dit soos ’n kleed bedek, water het bo-oor die berge gestaan. U bevel het die water laat wegvlug; u magtige stem het hulle laat vlug. Berge het verrys en valleie het gedaal na die plek wat U bepaal het. U het vir die waters ’n perk gestel wat hulle nie mag oortree nie, sodat hulle nie die aarde oorspoel nie. U laat fonteine water stort in klowe, wat stroom tussen die berge deur. Daar drink elke dier van die veld, selfs wildedonkies les hulle dors. Die voëls van die hemel maak nes langs die strome en sing tussen die bome se takke. Uit u hemelwoonplek laat U reën op berge, U vul die aarde met die vrugte wat U laat groei. U laat gras groei vir die beeste, en plante vir die mens, kos wat uit die aarde voortkom, wyn om harte bly te maak, olie om die gesig te versorg, en brood om krag te voorsien. Die bome van die HERE kry volop reën, hierdie seders van die Libanon wat Hy geplant het. Daar maak die voëls hulle neste, en bou die ooievaar sy nes in die toppe van hoë bome. Die hoë berge is vir die klipbokke, en die rotse ’n skuilplek vir dassies. Die maan het Hy gemaak om seisoene aan te dui, en die son weet wanneer om onder te gaan. U stuur duisternis, en dit word nag, al die diere van die bos sluip rond. Dan brul die leeus op soek na prooi; ook hulle vra kos van God. Teen dagbreek sluip hulle weg om by hulle lêplekke te rus. Dan gaan die mens na sy werk en arbei tot die aand.
PSALMS 104:1-23 Bybel vir almal (ABA)
Ek wil die Here prys. My God die Here, U is baie groot. U is die Koning, en almal rondom U respekteer U en prys U. Daar is lig rondom U. U het die hemeldak styfgetrek soos 'n mens 'n tent styftrek. U het die balke van u bo-kamers vasgemaak bo die boonste water. U ry op die wolke, U loop op die vlerke van die wind. U kies die winde om u boodskappers te wees, die vuurvlamme is u werkers. U het die aarde op sy plek vasgesit, sodat dit nooit sal skud nie. U het die aarde met die groot see toegemaak, die water het bo-oor die berge gevloei. U het hard gepraat, en toe het die water gevlug. Toe die water u donderweer hoor, het dit weggevloei. Die water het oor die berge gespoel, dit het afgegaan in die valleie na die plek wat U daarvoor gereedgemaak het. U het gewys waar die grens is en U het gesê die water moenie oor die grens gaan nie, sodat die water nie weer die aarde sal toemaak nie. U het fonteine laat uitkom in die valleie, sodat die water tussen die berge kan vloei. Al die wilde diere kan daar water kom drink, die wildedonkies kan daar water kom drink wanneer hulle dors is. Die voëls kom maak hulle neste bo die water, hulle sit en sing tussen die takke. U maak die berge nat met water uit u bo-kamers, die aarde kry meer as genoeg van alles wat U gee. U laat die gras groei sodat die beeste kan eet, en U gee plante wat die mense kan plant om kos uit die aarde te kry. Daar kom wyn om die mens bly te maak, olyf-olie om sy gesig te laat blink, en brood om hom sterk te maak. Die bome van die Here, die sederbome wat Hy op die Libanon-berg geplant het, kry meer as genoeg reën. Die voëls maak hulle neste daar, die ooievaar bou sy nes daar in die sipresbome. Die hoë berge is 'n huis vir die klipbokke, die rotse is veilige plekke vir die dassies. U het die maan gemaak sodat ons sal weet wanneer dit tyd is om fees te vier. Die son weet self wanneer hy moet ondergaan. U maak dit donker en dit word nag, dan kom al die bosdiere uit. Die leeus brul en soek iets om te vang, hulle vra vir God hulle kos. Wanneer die son begin skyn, dan kom hulle terug en hulle gaan lê in die plekke waar hulle wegkruip. Dan gaan die mens na sy werk, en hy werk tot die aand.
PSALMS 104:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
LOOF die HERE, o my siel! HERE my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed — wat Uself omhul met die lig soos met 'n kleed, wat die hemel uitspan soos 'n tentdoek; wat sy solders bou in die waters, wat van die wolke sy wa maak, wat op die vleuels van die wind wandel, wat van die winde sy boodskappers maak, van vuurvlamme sy dienaars. Hy het die aarde gegrond op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie. U het dit met die wêreldvloed soos met 'n kleed oordek; die waters het bo-oor die berge gestaan. Vir u dreiging het hulle gevlug, vir die stem van u donder het hulle weggeskrik — berge het opgerys, laagtes het weggesak — na die plek wat U vir hulle reggemaak het. 'n Grens het U gestel waar hulle nie oor mag gaan nie; hulle mag die aarde nie weer oordek nie. Hy wat die fonteine uitstuur in die holtes: tussen die berge loop hulle deur. Hulle laat al die diere van die veld drink; die wilde-esels les hulle dors. By hulle woon die voëls van die hemel; tussen die takke uit laat hulle die stem hoor. Hy laat die berge drink uit sy boonste kamers; die aarde word versadig uit die vrug van u werke. Hy laat gras uitspruit vir die diere en die plante tot diens van die mens: om broodkoring uit die aarde te laat voortkom, en dat wyn die mens se hart kan bly maak; om die aangesig te laat blink van olie, en dat brood die mens se hart kan versterk. Die bome van die HERE word versadig, die seders van die Líbanon wat Hy geplant het; waar die voëls hulle neste maak, die ooievaar wie se huis die sipresse is. Die hoë berge is vir die steenbokke, die rotse is 'n skuilplek vir die dasse. Hy het die maan gemaak vir die vaste tye; die son ken sy tyd om onder te gaan. U beskik die duisternis, en dit word nag, waarin al die diere van die bos uitkruip. Die jong leeus brul om roof en begeer hulle voedsel van God. As die son opgaan, dan trek hulle hul terug en gaan lê in hul slaapplekke. Die mens gaan uit na sy werk en na sy arbeid tot die aand toe.
PSALMS 104:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek wil die Here loof! Here my God, U is baie groot, U is beklee met koninklike luister, U is met 'n kleed van lig omhul. Dit is U wat die hemelkoepel soos 'n tentdoek gespan en vir U 'n woonplek ingerig het oor die waters daarbo, U wat op die wolke ry, op die vleuels van die wind, U wat die winde u boodskappers maak, die weerligte u dienaars, U wat die aarde stewig gevestig het, sodat dit nooit sal wankel nie. Die groot waters het die aarde soos 'n kleed oordek, die waters het bo-oor die berge gestaan. Maar toe U die waters aanspreek, het hulle gevlug, voor die krag van u stem het hulle die wyk geneem. Hulle het oor die berge gespoel en in die laagtes weggevloei na die plek toe wat U vir hulle bestem het. U het 'n grens gestel waaroor hulle nie mag gaan nie: hulle mag die aarde nie weer oordek nie. U laat fonteine in die valleie ontspring en tussen die berge deur stroom. Daar kom al die wilde diere drink en die wildedonkies hulle dors les. Die voëls maak hulle neste langs die water en kwetter tussen die takke. Uit die hemel laat U dit op die berge reën, die aarde word versadig deur die reën wat U gee. U laat gras uitspruit vir die diere, en groen plante vir die mens sodat hy sy kos uit die aarde kan kry: wyn om mense se harte bly te maak, olie om die gesig te versorg, kos om die mens nuwe krag te gee. Die bome van die Here kry volop reën, die seders op die Libanon, dié wat Hy geplant het, waar die voëls hulle neste maak, en die reier sy huis in die boomtoppe bou. Die hoë berge is 'n tuiste vir die klipbokke, die rotse is 'n skuilplek vir die dassies. U het die maan gemaak om die vaste tye mee aan te gee, die son weet wanneer om onder te gaan. As U die donker bring en dit nag word, roer al die diere in die bos. Die leeus brul op soek na prooi: hulle vra hulle kos van God. As die son opkom, sluip hulle weg en gaan lê in hulle skuilplekke. Dan gaan die mens na sy werk toe, en hy werk tot die aand.
PSALMS 104:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Loof die HERE, o my siel! HERE, my God, U is baie groot; U is met luister en glans beklee, U wat Uself met lig omhul, soos in 'n mantel, wat die hemel oopspan soos 'n tentdoek. U is die een wat die balke van sy bokamers op die water oprig, wat wolke sy strydwa maak, wat op die vlerke van die wind beweeg; wat winde sy boodskappers maak, vlammende vuur sy dienaars; wat die aarde op sy fondamente vestig dat dit vir altyd en ewig nie wankel nie. Met •oerwater het U dit soos met 'n bokleed bedek; tot bo-oor die berge het die waters gestaan. Weens u dreiging het die waters gevlug, weens die geluid van u donder op die vlug geslaan. Dit het oor berge gespoel, in valleie afgevloei na die plek wat U daarvoor bestem het. 'n Grens het U gestel waaroor dit nie mag gaan nie; dit mag nie terugkeer om die aarde te bedek nie. Dit is U wat fonteine laat ontstaan in die spruite. Tussen berge vloei dit deur, en gee al die diere van die veld water; die wilde donkies les hulle dors. Langs die strome is die voëls van die hemel tuis, tussen die digte blare sing hulle. U is die een wat die berge laat drink uit sy bokamers; uit die vrug van u arbeid word die aarde versadig. Dit is U wat gras laat groei vir die vee en plante vir die mens om te verbou, om voedsel uit die aarde voort te bring: wyn wat 'n mens se hart bly maak, olie om die gesig mee blink te maak en brood wat 'n mens se hart versterk. Die bome van die HERE word versadig, die seders van die Libanon wat Hy geplant het, waar voëls nesmaak en ooievaars in sipresse hulle tuiste het. Die hoë berge is vir die klipbokke, die rotsskeure is 'n skuilplek vir dassies. Hy het die maan gemaak vir feestye; die son weet wanneer hy moet ondergaan. U laat die duisternis aanbreek en dit word nag, wanneer al die diere van die bos rondsluip. Die jong leeus brul vir prooi, om hulle kos van God te vra. As die son opkom, keer hulle terug en gaan rus in hulle lêplekke. Mense gaan uit vir hulle dagtaak, vir hulle werk tot die aand toe.
PSALMS 104:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Loof die HERE, o my siel. O HERE my God, U is baie groot; jy is bekleed met eer en majesteit. wat jou bedek met lig soos met 'n kleed, wat die hemel uitsprei soos 'n gordyn; Wat die balke van sy kamers in die waters neerlê, wat die wolke sy strydwa maak, wat op die vlerke van die wind loop; wat sy engele tot geeste maak; sy bedienaars 'n vlammende vuur: wat die fondamente van die aarde gelê het, sodat dit nie vir ewig wankel nie. U het dit met die watervloed bedek soos met 'n kleed: die waters het bo die berge gestaan. Voor u teregwysing het hulle gevlug; vir die stem van u donderslag het hulle weggehaas. Hulle gaan teen die berge op; hulle trek af in die valleie na die plek wat U vir hulle gegrond het. U het 'n grens vasgestel dat hulle nie mag oorgaan nie; dat hulle nie weer omdraai om die aarde te bedek nie. Hy stuur die fonteine in die valleie wat tussen die heuwels loop. Hulle gee drink aan al die diere van die veld: die wilde-esels les hulle dors. Deur hulle sal die voëls van die hemel hulle woonplek hê, wat sing tussen die takke. Hy laat die heuwels natmaak uit sy kamers; die aarde word versadig van die vrug van u werke. Hy laat gras groei vir die vee en plante vir die diens van die mens, om voedsel uit die aarde te laat voortkom; en wyn wat die hart van die mens bly maak, en olie om sy aangesig te laat blink, en brood wat die mens se hart versterk. Die bome van die HERE is vol sap; die seders van die Líbanon wat Hy geplant het; Waar die voëls hulle neste maak: wat die ooievaar betref, die sipresbome is haar huis. Die hoë heuwels is 'n toevlug vir die wildsbokke; en die rotse vir die keëls. Hy het die maan vir seisoene bepaal; die son ken sy ondergang. U maak duisternis, en dit is nag, waarin al die wilde diere van die woud kruip. Die jong leeus brul agter hulle prooi aan en soek hulle voedsel by God. Die son gaan op, hulle kom bymekaar en gaan lê hulle in hul holtes. Die mens gaan uit na sy werk en na sy arbeid tot die aand toe.
PSALMS 104:1-23 Die Boodskap (DB)
Ek sê vir myself: Kom prys die Here! Here, my God, daar is niemand wat groter is as U nie! U is so groot, U kan nie met woorde beskryf word nie. Soos ’n mens sy oë toedruk as hy na helder sonlig kyk, so oorweldig u grootheid ons. Oral rondom U is lig; dit is amper soos iemand wat pragtige klere aantrek. Dis mooi om na te kyk. U het die blou hemel soos ’n tent bokant die aarde opgeslaan. U bly daar! U ry op die wolke en die wind. U beheer die reën en die wind. As die wind waai, sien en hoor ons u krag. U laat die weerlig slaan waar U wil. Die Here het die aarde op ’n vaste baan om die son geplaas. Op daardie baan sal dit vir altyd bly. Aan die begin het U baie water oor die aarde laat spoel. Alles was onder water, selfs die hoogste berge was toe soos onder ’n kombers. Maar toe U praat, het alles bymekaargevloei; u stem was soos harde donderweer wat die water laat beweeg het. Soos die water wegloop, het die berge hoër en die klowe dieper geword. Die water het na die plek geloop waar U dit wou hê. Nou het die see ’n grens. U het dit getrek. Daarom sal die water nooit weer oor die hele aarde loop nie. U sorg dat daar genoeg water is. Water borrel uit fonteine en vloei dan tussen die berge deur. Al die wilde diere kan daarvan drink. Ook wildedonkies gaan les hulle dors daar. By die water maak die voëls hulle nes; tussen die bome hoor jy hoe hulle sing. Uit die wolke laat Hy dit reën op die berge. Hy gee so baie reën dat die water nie meer kan wegsak nie. Hy laat gras groei vir die diere om te eet. Die groen plante is nuttig vir die mense, dit is hulle kos wat uit die aarde kom. So is daar wyn, wat jou vrolik maak as jy genoeg drink. Daar is olyfolie, waarmee jy jou vel kan versorg. Die kos bou jou kragte op. Die bome wat die Here geplant het, kry meer as genoeg water. Ook die seders op die Libanon wat Hy geplant het. Voëls maak nes in hulle takke. Die reier bly in die hoë toppe van die bome, terwyl steenbokkies tussen die klippe van die hoë berge rondspring. Die dassies skuil tussen die rotse. Hy het die maan gemaak. Soos ’n horlosie wys dit nuwe maande aan. Die son gaan elke dag klokslag op die regte tyd onder. As U dit laat donker word in die nag, kruip die nagdiere uit hulle gate. Dan begin die bos lewe. Jong leeus brul wanneer hulle op soek is na kos; hulle herinner God om vir hulle kos te gee. Wanneer dit te warm word, verdwyn hulle en gaan lê tussen die gras. Mense gaan in die dag uit hulle huis om te werk, maar saans kom hulle terug nadat hulle geld verdien het.