Psalms 104:1-23

Psalms 104:1-23 DB

Ek sê vir myself: Kom prys die Here! Here, my God, daar is niemand wat groter is as U nie! U is so groot, U kan nie met woorde beskryf word nie. Soos ’n mens sy oë toedruk as hy na helder sonlig kyk, so oorweldig u grootheid ons. Oral rondom U is lig; dit is amper soos iemand wat pragtige klere aantrek. Dis mooi om na te kyk. U het die blou hemel soos ’n tent bokant die aarde opgeslaan. U bly daar! U ry op die wolke en die wind. U beheer die reën en die wind. As die wind waai, sien en hoor ons u krag. U laat die weerlig slaan waar U wil. Die Here het die aarde op ’n vaste baan om die son geplaas. Op daardie baan sal dit vir altyd bly. Aan die begin het U baie water oor die aarde laat spoel. Alles was onder water, selfs die hoogste berge was toe soos onder ’n kombers. Maar toe U praat, het alles bymekaargevloei; u stem was soos harde donderweer wat die water laat beweeg het. Soos die water wegloop, het die berge hoër en die klowe dieper geword. Die water het na die plek geloop waar U dit wou hê. Nou het die see ’n grens. U het dit getrek. Daarom sal die water nooit weer oor die hele aarde loop nie. U sorg dat daar genoeg water is. Water borrel uit fonteine en vloei dan tussen die berge deur. Al die wilde diere kan daarvan drink. Ook wildedonkies gaan les hulle dors daar. By die water maak die voëls hulle nes; tussen die bome hoor jy hoe hulle sing. Uit die wolke laat Hy dit reën op die berge. Hy gee so baie reën dat die water nie meer kan wegsak nie. Hy laat gras groei vir die diere om te eet. Die groen plante is nuttig vir die mense, dit is hulle kos wat uit die aarde kom. So is daar wyn, wat jou vrolik maak as jy genoeg drink. Daar is olyfolie, waarmee jy jou vel kan versorg. Die kos bou jou kragte op. Die bome wat die Here geplant het, kry meer as genoeg water. Ook die seders op die Libanon wat Hy geplant het. Voëls maak nes in hulle takke. Die reier bly in die hoë toppe van die bome, terwyl steenbokkies tussen die klippe van die hoë berge rondspring. Die dassies skuil tussen die rotse. Hy het die maan gemaak. Soos ’n horlosie wys dit nuwe maande aan. Die son gaan elke dag klokslag op die regte tyd onder. As U dit laat donker word in die nag, kruip die nagdiere uit hulle gate. Dan begin die bos lewe. Jong leeus brul wanneer hulle op soek is na kos; hulle herinner God om vir hulle kos te gee. Wanneer dit te warm word, verdwyn hulle en gaan lê tussen die gras. Mense gaan in die dag uit hulle huis om te werk, maar saans kom hulle terug nadat hulle geld verdien het.