SPREUKE 31:1-31
SPREUKE 31:1-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE woorde van Lémuël, die koning van Massa, waarmee sy moeder hom vermaan het: Wat, my seun, ja wat, seun van my skoot, ja wat, seun van my geloftes, sal ek sê? Gee jou krag nie aan vroue of jou omgang aan die wat konings uitroei nie. Die konings, o Lémuël, die konings moet nie wyn drink nie, en die vorste moet nie sterk drank begeer nie; anders drink hy en vergeet die insettinge en verdraai die reg van al die ellendiges. Gee sterk drank aan hom wat wil ondergaan, en wyn aan die wat bitter bedroef is. Laat hy drink en sy armoede vergeet en aan sy moeite nie meer dink nie. Maak jou mond oop vir die stomme, vir die regsaak van almal wat wegkwyn. Maak jou mond oop, oordeel regverdig, en verskaf reg aan die ellendige en die behoeftige. Alef. Wie sal 'n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale. Bet. Die hart van haar man vertrou op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie. Gimel. Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe. Dalet. Sy sorg vir wol en vlas, en sy werk met gewillige hande. He. Sy is soos die skepe van 'n handelaar — van ver af bring sy haar brood in. Wau. En sy staan op as dit nog nag is en gee voedsel aan haar huisgesin en die bestemde deel aan haar diensmeisies. Sajin. Sy dink na oor 'n stuk grond en koop dit, van die vrug van haar hande plant sy 'n wingerd. Get. Sy omgord haar lendene met krag en hou haar arms stewig. Tet. Sy voel dat haar wins goed is, in die nag gaan haar lamp nie dood nie. Jod. Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas. Kaf. Sy brei haar handpalm uit na die ellendige, en sy steek haar hande uit na die behoeftige. Lamed. Sy is nie bevrees vir haar huisgesin vanweë die sneeu nie, want haar hele huisgesin dra skarlaken stof. Mem. Sy maak vir haarself dekens, haar tabberd is van fyn linne en purper. Noen. Haar man is bekend in die poorte as hy saam met die oudstes van die land sit. Samek. Sy maak hemde en verkoop dit, en gordels lewer sy aan die handelaars. Ajin. Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom. Pe. Haar mond maak sy oop met wysheid, en vriendelike onderrigting is op haar tong. Sade. Opmerksaam gaan sy die werksaamhede van haar huis na, en die brood van luiheid eet sy nie. Kof. Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar: Resj. Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal. Sjin. Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; 'n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word. Tau. Gee haar van die vrug van haar hande, en laat haar werke haar prys in die poorte.
SPREUKE 31:1-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die woorde van Lemuel, 'n koning. 'n Uitspraak van God waarmee sy moeder hom opgevoed het. Moenie, my seun, ja, moenie, seun van my skoot, ja, moenie, seun van my geloftes, moenie aan vroue jou lewenskrag bestee nie, of jou paaie daarop rig om konings uit te wis nie. Dit is vir konings nie gepas nie, Lemuel, dit is vir konings nie gepas om wyn te drink nie, vir hooggeplaastes om te wees waar daar sterk drank is nie. Anders drink hy, en vergeet wat as voorskrifte neergelê is, en skend hy die regte van al die magteloses. Gee sterk drank aan die een wat ten gronde gaan, en wyn aan mense met verbitterde siele. Laat hy drink en sy armoede vergeet, sy swaarkry nie meer onthou nie. Maak jou mond oop vir die stemlose, vir die regsaak van almal wat wegkwyn. Maak jou mond oop, oordeel regverdig, en handhaaf die reg van die magtelose en behoeftige. 'n Knap vrou, wie sal haar vind? Ver bo korale is haar waarde. Die hart van haar man vertrou op haar, en aan besittings sal dit hom nie ontbreek nie. Sy doen goed aan hom en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe. Sy soek wol en linne uit, en werk met ywerige hande. Sy is soos die skepe van 'n handelaar, van ver af bring sy haar brood in. Sy staan op terwyl dit nog nag is; sy voorsien voedsel vir haar huisgesin, en porsies vir haar diensmeisies. Sy dink na oor 'n stuk grond en koop dit; met die verdienste van haar hande plant sy 'n wingerd. Daadkragtig omgord sy haar heupe; sy steek haar hande uit haar moue. Sy merk dat sy goeie wins maak; snags gaan haar lamp nie dood nie. Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas. Haar handpalms strek sy uit na magteloses; haar hande steek sy uit na behoeftiges. Sy is nie bekommerd oor haar huisgesin wanneer dit sneeu nie, want haar hele gesin is geklee in karmosynrooi weefstof. Sy maak vir haar dekens; haar bokleed is van linne en purperrooi wol. Haar man is bekend in die stadspoorte wanneer hy saam met die oudstes van die land sit. Sy maak klere van linne en verkoop dit; gordels lewer sy aan die handelaars. Krag en luister is haar bokleed; sy lag onbesorg oor die toekoms. Haar mond maak sy oop met wysheid, en liefdevolle onderrig is op haar tong. Sy hou haar oog op die werk in haar huis; brood van luiheid eet sy nie. Haar kinders tree na vore en noem haar gelukkig; haar man, hy besing haar lof: “Baie vroue het hulle knap gedra, maar jy, jy oortref hulle almal.” Sjarme is bedrieglik en skoonheid is nietig; 'n vrou wat vir die HERE ontsag het, sy moet geprys word. Gee aan haar 'n deel van die vrug van haar hande; mag hulle haar in die stadspoorte vir haar dade prys!
SPREUKE 31:1-31 Die Boodskap (DB)
Hier volg nou die woorde van koning Lemuel van Massa se ma: My kind, wat sal ek vir jou sê? Jy wat ek in die lewe gebring het. Jy, my gebedskind, wat ek van die Here afgesmeek het. Luister mooi wat ek vir jou wil sê: Moenie jou liggaam vir ’n los vrou gee nie. Moenie dat sy jou lewe vernietig nie. Sulke vroue bring konings tot ’n val. Pas op vir te veel wyn. Dit pas nie by ’n koning nie. Mense wat regeer, moet nie heeltyd na drank ruik nie. Netnou drink hulle te veel en vergeet hulle hulle pligte. Kort voor lank dink hulle nie meer aan die arm mense wat hulle moet help nie. Gee eerder ’n bietjie drank aan mense wat op hulle laaste is, wyn aan hulle met wie dit bitter sleg gaan. Laat hulle drink sodat hulle hulle ellende kan vergeet, sodat hulle nie meer aan hulle swaarkry dink nie. Help liewer die mense wat nie self hulle saak kan stel nie. Wees jy hulle stem. Kom op vir die hulpeloses. Sê jou sê sodat die regte dinge kan gebeur. Sorg jy vir die armes en die onderdruktes. Wie ’n goeie vrou het, het iemand wat baie kosbaar is. Sy is baie meer werd as die duurste juwele. Haar man reken op haar en sy beteken baie vir hom. Haar hele lewe lank is sy goed vir hom. Wat nodig is vir die huis, dit kry sy. Sy verrig haar dagtaak met vreugde. Sy sal selfs ook buite die huis gaan werk om nog beter vir haar gesin te sorg. Vroegoggend staan sy op om haar gesin te versorg. Vir elkeen het sy ’n taak vir die dag. Sy het ’n oog vir ’n winskopie, maar sy dink mooi voor sy koop. Die geld wat sy so spaar, belê sy versigtig. Vir harde werk is sy nie bang nie! Wat sy aanpak, maak sy klaar. Die kanse wat die lewe haar bied, gryp sy met albei hande. Sy sal tot laat in die nag werk om haar drome waar te maak. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy doen wat sy moet doen. Vir die armes gee sy kos en die behoeftiges help sy. As die winter kom, voel sy gerus. Sy weet haar gesin het genoeg warm klere vir die koue. Baie van die mooi goed in haar huis het sy self gemaak. Haar pragtige klere is ook handgemaak. Omdat sy so bekwaam is, word haar man ook geëer. Almal ken hom. As hy by belangrike mense is, weet hulle wie hy is. Met vaardigheid maak sy klere en verkoop dit. Mense koop graag haar handewerk. Sy is geestelik sterk en tree altyd waardig op. Vir die toekoms is sy nie bang nie. Haar wyse woorde help ander om reg te leef. Sy het goeie raad vir ’n gelukkige lewe. Sy is in volle beheer van haar huishouding. Luiheid ken sy nie. Haar kinders is dankbaar vir so ’n ma. Haar man oorlaai haar met komplimente. In hierdie lewe is daar baie goeie vroue, maar hierdie vrou oortref almal. Mooiheid bedrieg, skoonheid vergaan, maar ’n vrou wat die Here liefhet, moet jy vir altyd koester. Eer haar vir wat sy doen. Almal sal haar lof besing.
SPREUKE 31:1-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die woorde van koning Lemuel van Massa. ’n Uitspraak, wat sy ma vir hom geleer het: My seun, my kind wat ek in die wêreld gebring het, oor wie ek ’n gelofte afgelê het, jy moenie jou lewe op vroue verspil nie. Moenie jou lewe deurbring met hulle wat konings laat struikel nie. Lemuel, dit pas beslis nie by konings om te veel wyn te drink nie. Dit pas nie regeerders om hulle aan drank oor te gee nie. Wanneer hulle gedrink het, vergeet hulle die wet en laat hulle nie reg geskied aan al hulle arm onderdane nie. Gee sterk drank vir hulle wat besig is om dood te gaan. Laat hulle wat terneergedruk is, wyn drink. Laat hulle drink om te vergeet hoe arm hulle is. Laat hulle vergeet van hulle sorge. Praat namens hulle wat nie self kan praat nie. Verseker dat daar reg geskied aan hulle wat hulpeloos is. Maak oop jou mond en lewer regverdige uitsprake. Laat reg geskied aan armes en ellendiges. Waar sal jy ’n knap vrou kry? ’n Goeie vrou is meer werd as edelstene. Haar man het volkome vertroue in haar. Hy pluk die vrugte van haar werk. Haar hele lewe lank bring sy vir hom net voordeel, nie ellende nie. Sy kry wol en vlas in die hande en verwerk dit met genot. Sy is soos die handelskepe, van ver af bring sy haar kos in. Sy staan op as dit nog nag is. Sy maak ontbyt vir haar huisgesin. Die dag se werk deel sy aan haar slavinne uit. Sy bereken die waarde van ’n stuk grond en koop dit. Sy plant ’n wingerd daarop met die geld wat sy verdien. Sy werk baie hard. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy kyk of haar transaksies winsgewend is. Haar lamp brand deur die hele nag. Sy werk met die spinwiel, haar hande is bedrywig met die weefbalk. Haar hand is oop vir die armes. Sy is vrygewig teenoor behoeftiges. Die wintersneeu hou geen vrees in vir haar huisgesin nie. Hulle het almal warm klere. Sy maak vir haarself dekens. Sy dra goeie klere van linne en wol. Almal in die poort ken haar man. Hy dien op die raad van die leiers van die land. Sy verkoop die klere wat sy maak en voorsien handelaars van gordels. Sy het innerlike krag en waardigheid. Sy is nie bekommerd oor die toekoms nie. Sy praat met wysheid, sy gee raad saam met liefde. Sy hou toesig oor alles wat in haar huis gebeur. Sy verdra nie luiheid nie. Haar kinders staan op en prys haar. Haar man spog met haar: “Daar is baie knap vroue, maar jy is die beste van almal!” Skoonheid is soms misleidend. ’n Mooi voorkoms hou nie vir altyd nie. ’n Vrou wat ontsag het vir die HERE verdien om geprys te word. Gee vir haar die waardering wat sy verdien. Laat sy erkenning geniet in die stadspoort op grond van alles wat sy gedoen het.
SPREUKE 31:1-31 Bybel vir almal (ABA)
Hier is die dinge wat koning Lemuel van die land Massa se ma vir hom geleer het. My kind, my eie kind, ek het 'n gelofte oor jou gemaak. Jy moenie al jou krag, jou lewe, gee vir vroue nie, vroue verwoes konings. Lemuel, konings moenie wyn drink nie, mense wat regeer, moenie dronk word nie. Want wanneer hulle drink, dan kan hulle miskien die wette vergeet, en dan doen hulle nie reg aan al die mense wat hulleself nie kan beskerm nie. Jy moet drank gee vir die mense wat besig is om te sterf, jy moet wyn gee vir die mense wat swaarkry. Wanneer hulle drink, dan sal hulle miskien vergeet dat hulle arm is en dan sal hulle nie meer daaraan dink dat hulle swaarkry nie. Wanneer mense nie self kan praat nie, dan moet jy sê wat hulle wil sê, jy moet praat en reg doen aan almal met wie dit sleg gaan. Jy moet praat, jy moet reg oordeel, jy moet reg doen aan die mense wat hulleself nie kan beskerm nie, die mense wat niks het nie. Wanneer iemand 'n goeie vrou kry, dan het hy 'n vrou wat meer kosbaar is as koraal. Haar man weet dat sy sal doen wat sy belowe het, hy weet dat sy goed altyd meer sal word. Sy laat dit goed gaan met hom, nie sleg nie, haar hele lewe lank. Sy maak wol en vlas bymekaar en sy geniet dit om met haar hande te werk. Sy is soos die skepe van 'n handelaar, sy bring van ver plekke die kos wat sy nodig het. Sy staan op wanneer dit nog donker is, sy gee vir haar huisgesin kos en sy gee vir haar bediendes werk. Sy dink goed oor 'n stuk grond en sy koop dit, sy neem van haar eie geld en sy plant daar wingerdstokke. Sy is sterk, sy kan aanhou werk. Wanneer sy sien dat mense graag haar goed koop, dan werk sy die hele nag. Sy steek haar hande uit en sy werk by die spinwiel en die weefstoel. Sy gee graag vir mense wat hulleself nie kan beskerm nie, vir mense wat niks het nie. Wanneer dit sneeu, dan is sy nie bekommerd oor haar huisgesin nie, want hulle dra almal warm klere. Sy maak vir haar komberse, sy dra klere van linne en pers wol. Almal ken haar man, hy sit saam met die leiers van die land by die poort. Sy maak klere en sy verkoop dit, sy gee vir die handelaars nekdoeke om te verkoop. Sy is 'n sterk en 'n netjiese vrou, sy is nie bekommerd oor wat later sal gebeur nie. Wanneer sy praat, dan praat sy met wysheid, sy leer vir haar mense om vriendelik te wees. Sy kyk dat alles reg gaan in haar huis, sy is nie lui nie. Haar kinders staan regop en hulle prys haar, haar man sê dat sy 'n goeie vrou is. Hy sê: “Baie vroue doen goed, maar jy doen beter as hulle almal.” 'n Vrou bly nie altyd jonk en mooi nie, 'n vrou wat die Here dien en Hom respekteer, dit is vir háár wat ons wil prys. Sy moet self ook kry van alles waarvoor sy werk, almal by die poorte moet haar prys.
SPREUKE 31:1-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die woorde van koning Lemuel van Massa. Sy moeder het vir hom dié voorskrif gegee: My seun, my kind wat ek in die wêreld gebring het, oor wie ek 'n gelofte gedoen het, moenie jou krag op vrouens vermors nie, moenie jou lewe verspil met hulle nie; hulle bring konings tot 'n val. Dit pas konings nie om te drink nie, Lemuel, dit pas hulle nie, dit pas mense met gesag nie om hulle aan drank oor te gee nie. As hulle drink, vergeet hulle wat die wet bepaal en laat hulle nie reg geskied aan al die minderbevoorregtes nie. Gee drank aan dié wat besig is om onder te gaan, laat dié wat swaar ly, drink; as so 'n mens drink, vergeet hy van sy armoede en dink hy nie meer aan sy moeilikheid nie. Praat jý vir dié wat self nie hulle sê mag sê nie, kom op vir die reg van dié wat te gronde gaan; praat, en lewer regverdige uitsprake, laat reg geskied aan die armes en ellendiges. 'n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene. Haar man steun op haar en pluk die vrugte van haar werk. Sy bring vir hom net voordeel, nie nadeel nie, haar hele lewe lank. Sy maak wol en vlas bymekaar en geniet dit om dit te verwerk. Sy is soos die handelskepe, sy bring die kos van ver af in. Sy staan op as dit nog nag is en maak kos vir haar huisgesin; ook haar slavinne kry hulle deel. Sy oorweeg die waarde van 'n stuk grond en koop dit, sy sit dit onder wingerd met geld wat sy self verdien het. Sy pak die werk aan met krag, haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy stel vas of die wins goed is, haar lamp bly heelnag brand. Sy werk met die spinwiel, haar hande bly besig met die weefstoel. Sy het 'n oop hand vir die armes, sy is vrygewig teenoor die behoeftiges. Sy is gerus oor haar huisgesin as dit sneeu: hulle dra almal warm klere. Sy maak self vir haar dekens en sy dra klere van linne en wol. Haar man is welbekend by die stadspoort waar hy saam met die leiers beraadslaag. Sy maak klere en verkoop dit, sy lewer gordels aan die handelaars. Alles aan haar spreek van 'n sterk en edel persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie. As sy praat, is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde. Sy hou goeie toesig oor haar huishouding; lui is sy nie. Haar kinders prys haar, haar man bewonder haar: “Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal!” Uiterlike skoonheid hou nie, 'n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien 'n vrou om geprys te word. Gee haar wat haar toekom vir alles wat sy doen; laat haar werk haar roem wees in die stadspoorte.
SPREUKE 31:1-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die woorde van koning Lemuel, die profesie wat sy moeder hom geleer het. Wat, my seun? en wat, die seun van my skoot? en wat, die seun van my geloftes? Gee jou krag nie aan vroue nie, of jou weë aan die vernietiging van konings. Dit is nie vir konings nie, o Lemuel, dit is nie vir konings om wyn te drink nie; ook nie vir vorste sterk drank nie: sodat hulle nie drink en die wet vergeet en die oordeel van enigeen van die ellendiges verdraai nie. Gee sterk drank aan hom wat gereed is om te vergaan, en wyn aan dié wat bedroef is. Laat hom drink en sy armoede vergeet en nie meer aan sy ellende dink nie. Maak jou mond oop vir die stommes in die saak van almal wat tot verderf bestem is. Maak jou mond oop, oordeel regverdig en verdedig die saak van die armes en behoeftiges. Wie kan 'n deugsame vrou vind? want haar prys is ver bo robyne. Die hart van haar man vertrou veilig op haar, sodat hy geen buit nodig het nie. Sy sal hom al die dae van haar lewe goed doen en nie kwaad nie. Sy soek wol en vlas en werk gewillig met haar hande. Sy is soos die skepe van die handelaars; sy bring haar kos van ver af. En sy staan op terwyl dit nog nag is, en sy gee voedsel aan haar huisgesin en 'n deel aan haar diensmeisies. Sy kyk na 'n land en koop dit; met die vrug van haar hande plant sy 'n wingerd. Sy omgord haar lendene met krag en versterk haar arms. Sy merk dat haar koopware goed is: haar kers gaan nie uit in die nag nie. Sy lê haar hande teen die spil, en haar hande hou die bol vas. Sy steek haar hand uit na die armes; ja, sy steek haar hande uit na die behoeftige. Sy is nie bang vir die sneeu vir haar huisgesin nie, want haar hele huisgesin is met bloedrooi stowwe bekleed. Sy maak vir haar bedekkings van tapisserieë; haar klere is sy en pers. Haar man is bekend in die poorte as hy onder die oudstes van die land sit. Sy maak fyn linne en verkoop dit; en gee gordels aan die handelaar oor. Krag en eer is haar klere; en sy sal bly wees met die tyd wat kom. Sy maak haar mond oop met wysheid; en op haar tong is die wet van goedertierenheid. Sy let goed op die weë van haar huisgesin en eet nie die brood van ledigheid nie. Haar kinders staan op en noem haar salig; ook haar man, en hy loof haar. Baie dogters het deugsaam gehandel, maar U oortref hulle almal. Guns is bedrieglik, en skoonheid is nietig; maar 'n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word. Gee haar van die vrug van haar hande; en laat haar werke haar loof in die poorte.