Spreuke 31:1-31

Spreuke 31:1-31 AFR20

Die woorde van Lemuel, 'n koning. 'n Uitspraak van God waarmee sy moeder hom opgevoed het. Moenie, my seun, ja, moenie, seun van my skoot, ja, moenie, seun van my geloftes, moenie aan vroue jou lewenskrag bestee nie, of jou paaie daarop rig om konings uit te wis nie. Dit is vir konings nie gepas nie, Lemuel, dit is vir konings nie gepas om wyn te drink nie, vir hooggeplaastes om te wees waar daar sterk drank is nie. Anders drink hy, en vergeet wat as voorskrifte neergelê is, en skend hy die regte van al die magteloses. Gee sterk drank aan die een wat ten gronde gaan, en wyn aan mense met verbitterde siele. Laat hy drink en sy armoede vergeet, sy swaarkry nie meer onthou nie. Maak jou mond oop vir die stemlose, vir die regsaak van almal wat wegkwyn. Maak jou mond oop, oordeel regverdig, en handhaaf die reg van die magtelose en behoeftige. 'n Knap vrou, wie sal haar vind? Ver bo korale is haar waarde. Die hart van haar man vertrou op haar, en aan besittings sal dit hom nie ontbreek nie. Sy doen goed aan hom en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe. Sy soek wol en linne uit, en werk met ywerige hande. Sy is soos die skepe van 'n handelaar, van ver af bring sy haar brood in. Sy staan op terwyl dit nog nag is; sy voorsien voedsel vir haar huisgesin, en porsies vir haar diensmeisies. Sy dink na oor 'n stuk grond en koop dit; met die verdienste van haar hande plant sy 'n wingerd. Daadkragtig omgord sy haar heupe; sy steek haar hande uit haar moue. Sy merk dat sy goeie wins maak; snags gaan haar lamp nie dood nie. Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas. Haar handpalms strek sy uit na magteloses; haar hande steek sy uit na behoeftiges. Sy is nie bekommerd oor haar huisgesin wanneer dit sneeu nie, want haar hele gesin is geklee in karmosynrooi weefstof. Sy maak vir haar dekens; haar bokleed is van linne en purperrooi wol. Haar man is bekend in die stadspoorte wanneer hy saam met die oudstes van die land sit. Sy maak klere van linne en verkoop dit; gordels lewer sy aan die handelaars. Krag en luister is haar bokleed; sy lag onbesorg oor die toekoms. Haar mond maak sy oop met wysheid, en liefdevolle onderrig is op haar tong. Sy hou haar oog op die werk in haar huis; brood van luiheid eet sy nie. Haar kinders tree na vore en noem haar gelukkig; haar man, hy besing haar lof: “Baie vroue het hulle knap gedra, maar jy, jy oortref hulle almal.” Sjarme is bedrieglik en skoonheid is nietig; 'n vrou wat vir die HERE ontsag het, sy moet geprys word. Gee aan haar 'n deel van die vrug van haar hande; mag hulle haar in die stadspoorte vir haar dade prys!

Video vir Spreuke 31:1-31

Gratis leesplanne en oordenkings oor Spreuke 31:1-31