Die woorde van Lemuel, 'n koning.
'n Uitspraak van God waarmee sy moeder hom opgevoed het.
Moenie, my seun,
ja, moenie, seun van my skoot,
ja, moenie, seun van my geloftes,
moenie aan vroue jou lewenskrag
bestee nie,
of jou paaie daarop rig om konings
uit te wis nie.
Dit is vir konings nie gepas nie,
Lemuel,
dit is vir konings nie gepas
om wyn te drink nie,
vir hooggeplaastes om te wees
waar daar sterk drank is nie.
Anders drink hy, en vergeet
wat as voorskrifte neergelê is,
en skend hy die regte
van al die magteloses.
Gee sterk drank aan die een
wat ten gronde gaan,
en wyn aan mense
met verbitterde siele.
Laat hy drink en sy armoede
vergeet,
sy swaarkry nie meer onthou nie.
Maak jou mond oop
vir die stemlose,
vir die regsaak van almal
wat wegkwyn.
Maak jou mond oop,
oordeel regverdig,
en handhaaf die reg
van die magtelose en behoeftige.
'n Knap vrou, wie sal haar vind?
Ver bo korale is haar waarde.
Die hart van haar man
vertrou op haar,
en aan besittings sal dit hom
nie ontbreek nie.
Sy doen goed aan hom
en nie kwaad nie,
al die dae van haar lewe.
Sy soek wol en linne uit,
en werk met ywerige hande.
Sy is soos die skepe
van 'n handelaar,
van ver af bring sy haar brood in.
Sy staan op terwyl dit nog nag is;
sy voorsien voedsel
vir haar huisgesin,
en porsies vir haar diensmeisies.
Sy dink na oor 'n stuk grond
en koop dit;
met die verdienste van haar hande
plant sy 'n wingerd.
Daadkragtig omgord sy
haar heupe;
sy steek haar hande uit haar moue.
Sy merk dat sy goeie wins maak;
snags gaan haar lamp nie dood nie.
Sy steek haar hande uit
na die spinstok,
en haar handpalms
hou die spoel vas.
Haar handpalms strek sy uit
na magteloses;
haar hande steek sy uit
na behoeftiges.
Sy is nie bekommerd
oor haar huisgesin
wanneer dit sneeu nie,
want haar hele gesin is geklee
in karmosynrooi weefstof.
Sy maak vir haar dekens;
haar bokleed is van linne
en purperrooi wol.
Haar man is bekend
in die stadspoorte
wanneer hy saam met
die oudstes van die land sit.
Sy maak klere van linne
en verkoop dit;
gordels lewer sy aan die handelaars.
Krag en luister is haar bokleed;
sy lag onbesorg oor die toekoms.
Haar mond maak sy oop
met wysheid,
en liefdevolle onderrig
is op haar tong.
Sy hou haar oog op die werk
in haar huis;
brood van luiheid eet sy nie.
Haar kinders tree na vore
en noem haar gelukkig;
haar man, hy besing haar lof:
“Baie vroue het hulle knap gedra,
maar jy, jy oortref hulle almal.”
Sjarme is bedrieglik
en skoonheid is nietig;
'n vrou wat vir die HERE ontsag het,
sy moet geprys word.
Gee aan haar 'n deel
van die vrug van haar hande;
mag hulle haar in die stadspoorte
vir haar dade prys!